Warmgloede voor die ouderdom van 40 kan ’n teken v
Warmgloede voor die ouderdom van 40 kan ’n teken van primêre ovariële versaking wees. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar Maryke Zeelie (’n skuilnaam) van Centurion was toe net 37 – veel jonger as die ouderdom waarop ’n mens eens aan menopouse begin dink.

Dit kon tog nie wees nie?

Haar hare was pas korter gesny en sy kon die winkel se lugverkoeler deur haar mooi, nuwe kapsel voel blaas.

En dit was net die begin.

“My interne termostaat kon my lyf nie meer op sy eie afkoel nie. Wanneer dit warm buite was, was dit nóg warmer in my huis, my kantoor of ’n restaurant,” vertel sy.

Saans het sy die natgeswete lakens van haar lyf afgegooi – en soms kaal gaan slaap in ’n poging om snags nie so warm te kry nie.

“Soggens het ek lank onder ’n koue stort gestaan en deur die dag het ek gereeld voor die oop yskas gaan staan om ’n bietjie koelte te voel,” vertel Maryke, nou 39.

“Ek was nie gereed om die waarheid te aanvaar nie. My estrogeenvlak het getuimel en die bokse tampons wat onoopgemaak in my laai gelê het, was ’n simptoom van dit wat dokters nie vir ’n vrou onder 40 wil sê nie: Ek was besig om die vroeë fase van menopouse binne te gaan.”

Maryke het aanvanklik die simptome ervaar sonder dat sy ’n benul gehad het wat met haar liggaam aan die gebeur was. Maar toe kom die keerpunt sowat drie maande ná daardie eerste warmgloed een middag in ’n koffierestaurant sonder lugversorging.

“Ek het skielik teenoor die arme kelnerin uitgebars,” vertel sy. “Dit het gevoel of ek my bewussyn verloor, so warm het ek gekry. Ek het al skreeuend en vloekend by die winkel uitgestorm.”

Maryke het toe ’n ginekoloog gaan raadpleeg, waar sy moes hoor dat sy primêre ovariële versaking (POV) – oftewel menopouse voor die ouderdom van 40 – het.

Sedertdien loop sy met ’n gevoel van verlies rond, erken Maryke.

“Dis ’n verlies dat my lewe nie gaan uitwerk soos ek dit wou gehad het nie. Ek en my man wou nog graag eendag kinders kry.”

Toe sy besef dit is nie meer biologies moontlik nie, het sy dae aaneen gehuil. “Ek was skielik jaloers op al my vriende wat reeds ouers was.”

Sedert sy met menopousale hormoonterapie begin het, het baie van haar simptome afgeneem. “Met die behandeling kan ek steeds soos normaal voortgaan, en die hormone het my energievlak ’n enorme hupstoot gegee.” Sowat een uit elke 100 vroue beleef POV. Dit beteken menopouse tref jou voor jou 40ste verjaardag.

“Dis dieselfde toestand as natuurlike menopouse; die ouderdom verskil net,” verduidelik dr. Tobie de Villiers, ’n ginekoloog by Mediclinic Panorama in Kaapstad en ’n voormalige voorsitter van die Internasionale Menopousevereniging.

POV is iets anders as vroeë menopouse, wat tussen 40 en 45 aanbreek, meer algemeen is en by sowat een uit elke 10 vroue voorkom.

Hier is jou gids tot die oorsake van POV – en wat jou te doen staan as dit by jou gediagnoseer word.

Wat veroorsaak POV?

Daar is verskillende teorieë oor die presiese oorsaak van POV, sê dr. Marie Pienaar, ’n ginekoloog van Kaapstad.

“Dokters vermoed follikels of ontwikkelende eierselle in die liggaam word net te min of gaan vroeg dood.”

Nog teorieë is dat dit deur ’n virusinfeksie of deur anti-ovariële teenliggame in die bloed veroorsaak kan word – hoewel dié teenliggame nie in alle gevalle by vroue met POV gevind word nie.

Ander moontlike oorsake sluit volgens Tobie die volgende in: chirurgiese verwydering van die eierstokke, bestraling of chemoterapie vir kanker, MIV/vigs, chromosoomafwykings of ’n outo-immuun-siekte.

Die outo-immuunsiektes wat moontlik tot POV kan lei, sluit in Hashimoto en Graves se siekte, rumatoïede artritis, myasthenia gravis (MG), Addison se siekte, pernisieuse anemie en tipe 1-diabetes.

Ongeag die oorsaak is daar sekere risikofaktore wat ’n mens se kans vergroot om POV of vroeë menopouse te kry, waarvan rook en alkoholmisbruik die vernaamstes is.

“Vroue met wanvoeding sowel as vegetariërs en maer vroue is vatbaarder vir vroeë menopouse,” sê Marie. “Dit het waarskynlik te doen met estrogeen wat in vetweefsel gevorm word.”

Die toestand is ook oorerflik. Dit beteken dus indien jou ma vroeë menopouse gehad het, is jou kans groter om dieselfde oor te kom.

Jou POV-aksieplan

Vra menopousale hormoonterapie

“Vroue met POV se risiko vir veral osteoporose en versnelde hartsiektes is baie hoog omdat hulle soveel langer ’n estrogeentekort het,” sê Marie.

“Daarom moet hulle menopousale hormoonterapie (MHT) kry tot hulle die natuurlike menopouse-ouderdom bereik.

“Dis die enigste medikasie wat werk vir simptome van POV en natuurlike menopouse.” Die behandeling behels ’n kombinasie van progesteroon en estrogeen.

“Langtermyn-estrogeenbehandeling in vroue wat nie ’n histerektomie gehad het nie, kan lei tot endometriële kanker; progesteroonbehandeling daarmee saam verminder dié risiko.”

As jy ma wil word

Daar is seldsame gevalle waar POV deur ’n virus veroorsaak is en ovulasie weer ná hormoonterapie herstel. Maar oor die algemeen is swangerskap vir vroue met POV onmoontlik omdat hulle geen eierselle of eierselle van ’n goeie gehalte het nie.

Gesels met jou maat en dokter oor moontlikhede om ouers te word.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Skenking van eierselletjies is onder meer ’n moontlikheid,” sê Marie.

Of maak ’n afspraak met ’n aannemingsagentskap om die proses te bespreek.

Laat bloedtoetse doen vir outo-immuunsiektes

Omdat POV dalk deur dié siektes veroorsaak word, moet iemand met POV-simptome bloedtoetse laat doen, sê Marie. “Maar jy kan die outo-immuunsiekte ook eers later in jou lewe ontwikkel en moet die toetse dus elke jaar of twee ondergaan.” 

Kry dit nou

Ons splinternuwe tydskrif Huisgenoot Vuurwarm is propvol kennersraad en inspirerende stories oor die menopouse en al die uitdagings wat saam met dié lewensfase kom.

Dit bespreek al die behandelings wat jy kan oorweeg en die natuurlike roetes wat jy kan volg. En daar’s raad vir al die lastige simptome en onverwagte buie! Dit bevat ’n sewedagmaaltydplan met heerlike resepte en kossoorte wat goed is vir jou gesondheid in hierdie tyd, asook ’n oefenprogram vir vroue in hul middeljare – dit alles teen net R60.

Huisgenoot Vuurwarm is nou op die rakke.
Huisgenoot Vuurwarm is nou op die rakke.

  • Kry dit nou op winkelrakke of bestel jou eksemplaar so: Bel 021-406-4962,  e-pos koop@huisgenoot.com of gaan na huisgenootwinkel.com en bestel aanlyn. Koop die tydskrif as jy jou in hierdie lewensfase bevind – dit bevat als wat jy moet weet (en ook als wat jy heimlik wil weet).