Ek het tou opgegooi. Geen hoeveelheid wilskrag was genoeg nie. Elke keer dat ek by die rekenaar gaan sit, het ek gou opgestaan met die leë Word-dokument as ’n skandelike bewys van my gebrek aan fokus. Party dae het ek nie eens my lessenaar gehaal nie.

Dit het gevoel asof my gedagtes op plaknotas neergeskryf is, honderde notas wat in ’n reusewindtonnel warrel. Ek was ook in die windtonnel, verwoed besig om na elke stukkie papier te gryp.

Ek was veronderstel om ’n skrywer te wees. Maar ek was ’n skrywer wat nie geskryf het nie. Pleks daarvan het ek in die bed gelê, verlam deur verveling en wanhoop.

Ek het myself wysgemaak hierdie geestelike afsluiting was weens die inperking. Dit was November 2020 en ’n tweede golf covid-19 was op pad. Almal het gesukkel om te konsentreer, het ek vir myself gesê; ek sou waarskynlik oukei wees sodra die stof gaan lê het. Maar in my geval het dit jare lank al opgebou.

Om covid daarvoor die skuld te gee was ’n oorlewingsmeganisme, een finale hardnekkige rasionalisering. Dit was tyd om by iemand hieroor aan te klop, wat dit ook al was.

James Bloodworth. Foto: Shutterstock/Great Stock
James Bloodworth. Foto: Shutterstock/Great Stock

In my skooldae het ek my teen dieselfde muur vasgeloop. Ek het geweet ek is anders. My brein was freneties. Dit was opvallend hoe dikwels dieselfde kommentaar jaar ná jaar op my skoolrapporte verskyn het: “Geneig tot onderbrekings”; “swak aanbieding; “groot konsentrasieprobleme”; “aandag word maklik afgelei”.

Dit het tot dissiplinêre probleme gelei namate die jare verbygetik het. Ek het van ’n afgetrokke kind in ’n probleemkind verander.

Ek het ’n rukkie gedink ek is dislekties. Ek kon nie spel nie en my handskrif was onleesbaar. Ek was daardie tipiese onderpresteerder in die klas: ongeorganiseerd, dikwels stuurs, altyd verlore in my eie wêreld. Maar duidelik was my onderwysers ook: My skoolrapporte moes verklap het dat daar fout was.

Simptome van aandaggebrek-hiperaktiwiteitsteuring (AGHS) onder kinders word dikwels met slegte gedrag verwar aangesien die frustrasie wat daarmee gepaardgaan soms lei tot “swak gedrag” by kinders en volwassenes.

Kinders met AGHS het ’n hoër risiko om by misdaad betrokke te raak wanneer hulle ouer is. Op 16 het ek begin dagga rook. Dit het alles in my kop stadiger laat gebeur.

Vir die meeste mense is dit een van die nadele, maar dit het my normaal laat voel. Dit was asof daar stroop oor my brein gegooi is; my gedagtes het taaier geword. Ek het byna elke dag saam met vriende gerook. Ek het met die gereg gebots, ’n nag in die selle deurgebring en is ’n paar keer uit die skool geskors. Ek lyk “bedwelmd”, het die adjunkhoof altyd in die verbystap vir my gesê.

’n Gesprek met die romanskrywer Tim Lott, by wie AGHS in 2016 op 61-jarige ouderdom gediagnoseer is, het my oor my werkgeskiedenis laat nadink.

Op 29 het hy die redakteur van die Londense tydskrif City Limits geword omdat hy “so deksels goed gevaar het in die onderhoud ondanks strawwe mededinging”.

Hy het egter twee weke later bedank omdat hy nie die mas kon opkom nie. Dit was ’n herhalende patroon.

“Ek was ’n rukkie ’n televisievervaardiger en is vinnig bevorder omdat my idees so briljant was. Maar ek kon nie goed organiseer nie en is in die pad gesteek. Dit was my laaste werk, 30 jaar gelede,” het hy vertel.

Ek het ’n rits swakbetalende werke gehad nadat ek klaar was met verpligte onderwys. By ’n petrolstasie. ’n Jogurtaanleg. ’n Toiletpapierfabriek. Dit het onlangs tot my deurgedring ek het nog nooit meer as twee en ’n half jaar ’n werk gehou nie.

Tim sê hy, nes ek, “kan nie werklik in ’n gestruktureerde omgewing oorleef nie”. Rusteloosheid en swak aandag aan detail – klassieke simptome van AGHS – help ook nie juis nie.

Gesprekke met die skrywer Tim Lott, by wie AGHS op
Gesprekke met die skrywer Tim Lott, by wie AGHS op 61 gediagnoseer is, was ’n openbaring vir die artikelskrywer, James Bloodworth. Foto: Foto: Gallo Images/Getty Images/Alamy

Ek het dit eindelik reggekry om universiteit toe te gaan nadat ek eksamens oorgeskryf het. Op universiteit in Nottingham het daar ’n lig vir my opgegaan. Dalk was ek nie net lui en ondeund op skool nie; dalk was dit iets diepers.

Ek was besig met ’n graad in politieke wetenskap en internasionale betrekkings. Ek het lesings misgeloop en my opstelle geskryf die aand voor ek hulle moes inlewer.

Terwyl party klasmaats met die werk gesukkel het, was dit vir my meestal maklik. Ek was passievol oor my vakke. En ek kon die kursus se werk op my eie eksentrieke manier benader.

’n Huismaat op universiteit het gesê ek is briljant maar lui. My stiefpa het altyd net gesê ek is lui, so dit het soos vooruitgang gevoel.

Ek het op universiteit begin dink ek kon wegkom met wat ek ook al gehad het. Ha! Ek was dalk uiters ongeorganiseerd, maar het halfgebakte akademiese prestasie jou nie cool en enigmaties laat lyk nie?

’n Huismaat op universiteit het gesê ek is briljant maar lui. My stiefpa het altyd net gesê ek is lui, so dit het soos vooruitgang gevoel. Wat niemand gesien het nie, was die suiwer wilskrag wat dit geverg het om ’n figuurlike harnas aan ’n brein te bind wat altyd duisend rigtings op een slag ingeslaan het.

Om opstelle te sit en skryf het uithouvermoë geverg; dit was die kognitiewe ekwivalent van ’n ekspedisie na die Suidpool.

Deur die jare het dit ál groter konsentrasie geverg om selfs net ’n beskeie hoeveelheid werk te kan afhandel.

In 2016 het ek nóg ’n aanduiding gekry van wat dalk met my verkeerd kan wees toe ek by ’n oproepsentrum gewerk het vir navorsing vir ’n boek wat ek aan die skryf was. Ek het agtergeraak tydens ons opleiding en moes die tiener langs my se notas afskryf.

Die materiaal was nie moeilik nie – oproeptekste is nie – tog het ek agtergekom my brein teleporteer my elders, asof ek terug is op skool.

Terug in Londen het ek besluit om ’n dokter te raadpleeg. Voor my afspraak het ek onbesonne Google-soektogte onderneem. ’n Angstige uur het verbygetik. Tog het ek duidelikheid begin kry. Alles het op AGHS gedui. Ek het die spreekkamer gebel.

Die dokter het ’n paar keer sy oë geknip. En uitdrukkingloos na my gestaar. Ek het vol afwagting teruggestaar.

Tydens my konsultasie het ek my persoonlike verhaal binne minute vir die dokter vertel, van my vroegste skooldae tot my prikkelbaarheid, vergeetagtigheid en die impulsiwiteit wat so dikwels my volwasse verhoudings belemmer het.

Die spoed waarteen ek hierdie verkorte weergawe van my lewensverhaal afgerammel het, moes ’n teken gewees het dat ek hiperaktief was (“Gedagtes word vinnig en lineêr in ’n gesprek saamgevoeg” – aldus die AGHS-hulpbronsentrum). Ek was beslis ’n ernstige geval, of hoe? Die dokter sal dit tog sekerlik sien. Uitasem het ek klaargemaak. Die dokter het ’n paar keer sy oë geknip. En uitdrukkingloos na my gestaar. Ek het vol afwagting teruggestaar.

Foto: Instagram
Baba ­James saam met sy ma. Foto: Instagram

Hy het uit sy stoel opgestaan en die spreekkamer verlaat. Dalk het hy ’n tweede mening gaan kry. Hy het weer by die vertrek ingestap, gaan sit en vir my ’n papiertjie gegee.

Hy het die nommer van ’n liefdadigheidsorganisasie daarop neergeskryf. Hulle is baie goed met daardie soort ding, het hy gesê. Ek het hom bedank en vertrek. Toe ek by die huis kom, het ek die naam van die liefdadigheidsorganisasie vergeet.

Ek het die volgende drie jaar van AGHS probeer vergeet. Maar AGHS het nie van my vergeet nie. Ek was kortaf met familielede en het in die sosiale media begin kla. Afgetrokkenheid het my romantiese verhoudings versuur.

Dit was net dat wanneer ’n gesprek ’n eentonige wending neem my brein dit as ’n teken beskou om die hasepad te kies. Ek was fisiek nog daar, maar my gedagtes was elders.

“Ja, ek luister,” sou ek sê terwyl waarskynlik belangrike woorde uit my meisie se rigting soos ’n wolk by my verbydryf. Dit het met duisende gedagtes meegeding wat vinnig deur my kop maal.

Ek sou sê: “Dis nie jy nie; dis ek,” en dit werklik bedoel.

Die laaste mens met wie ek in ’n ernstige verhouding was, het gesê ek maak dit duidelik wanneer ek nie van iemand hou nie. Dit was nie dit nie – ek het werklik van haar vriende gehou. Dit was net dat wanneer ’n gesprek ’n eentonige wending neem my brein dit as ’n teken beskou om die hasepad te kies. Ek was fisiek nog daar, maar my gedagtes was elders.

Josh Feldberg (39), ’n digitale strateeg van Londen, is ’n goeie vriend wat ook AGHS het. Ons het onlangs oor verhoudings gesels – van sy stories klink soos myne.

“Mense sal vir jou ’n lekker ete maak en jy beplan om te gaan, en dan vergeet jy bloot daarvan. Ek gee werklik om, maar wanneer so iets gebeur, dink mense jy gee nie om nie.”

Sowat 1,5 miljoen volwassenes in Engeland het waarskynlik AGHS. Dit loop in families. Josh se ma het dit gehad. ’n Oom van Tim Lott het dit ook gehad. Ek het nooit my pa ontmoet nie; dalk het hy dit ook gehad. Hy het beslis probleme met verbintenisse gehad.

My onwilligheid om my AGHS te konfronteer spruit deels uit die feit dat ek ’n boek van 80 000 woorde geskryf het. En dit het goed gevaar – dit het goeie resensies gekry en ’n taamlike beroering veroorsaak.

James langs die ­advertensie van sy boek in Londen
James langs die ­advertensie van sy boek in Londen se Leicester Square. Foto: Instagram

“Maar, ou pel, hoe de hel het jy ’n boek geskryf?” het my vriend Josh skepties gevra toe ek hom van my diagnose vertel. Dis waar die sogenaamde AGHS-supermagte in die prentjie kom. Daar is geen hemde wat oopgeskeur word nie: “Is dit ’n voël? Is dit ’n vliegtuig? Waarvan praat ons nou weer? Dis Hiperaktiewe Man! Die mees afgetrokke superheld van almal!”

Maar, net soos om Spider-Man te wees, kom AGHS met ’n paar onvoorsiene ekstras.

Kreatiwiteit is een van daardie supermagte. Sit my in ’n vertrek saam met 10 mense en daar is ’n goeie kans ek sal met die interessantste, onkonvensioneelste (ander sal dalk ook sê “kommerwekkendste”) idees vorendag kom. Maar vra my om struktuur aan my idees te gee en ek sink soos ’n stuk lood in water.

Tim sê hy is briljant met idees uitdink, maar nes ek sukkel hy daarmee om dit deur te voer. Deesdae gebruik hy af en toe ’n lae dosis medikasie en kan dan tjoepstil sit en “die oomblik geniet”, wat hy ’n “wonderlike bevryding” noem. Tog klink die manier waarop hy aan sy nuwe boek werk bekend.

“Selfs nou as skrywer gaan ek net so ongestruktureerd te werk. Ek sal die een dag 5 000 woorde skryf en dan drie weke lank niks doen nie. Ek weet ek gaan op die ou end daarby uitkom. Maar dis nie hoe die meeste mense werk nie.”

“Hiperfokus” is nog ’n AGHS-supermag. Ek kan ure lank intens op ’n taak fokus en alle ander dinge uitsluit. Ek kan baie kilogramme in ’n week afskud omdat ek vergeet om te eet. Maar dis buitengewoon. Ek moet uiters geïnteresseerd in ’n onderwerp wees.

Met AGHS is dit dikwels onmoontlik om op iets te konsentreer waaroor jy nie passievol is nie. Dis hoe ek my boeke en opstelle geskryf het: Ek het op die onderwerpe gefokus wat my gefassineer het en die wêreld uitgesluit.

Hierdie wisseling – tussen flitse briljantheid en ’n ongeorganiseerde, frenetiese dwaasheid – was sekerlik een van die verwarrendste aspekte van die toestand. Ek kan dalk ’n uitstekende indruk tydens ’n werkonderhoud maak of ’n praatjie lewer waar die woorde soos ’n elektriese stroom deur my vloei, of vry en charismaties in ’n sosiale omgewing wees asof iemand vir my woorde uit Cyrano de Bergerac in ’n gehoorstuk fluister.

Dan staan ek die volgende oggend op en kan nie my veters vasmaak nie. Of vergeet ’n hegte vriend se naam. Maar om eerlik te wees: Tot ek formeel die diagnose ontvang het, het ek nog getwyfel of ek AGHS het.

Ek het boeke op Amazon gesien met titels soos There’s No Such Thing as ADHD. Flieks soos The Social Dilemma het gewys hoe algoritmes ontwerp is om ’n verslawing aan digitale platforms te bewerkstellig. Dalk sukkel ek net om digitale afleiding uit te skakel?

Daar was van die “tipiese AGHS”-gedrag wat ek nie getoon het nie. Ek het selde gesukkel om my motorsleutels op te spoor. Ek was nie lomp nie. Ek was ook nie fisiek hiperaktief as kind nie. Ek was nie immuun teen die oorblywende sinisme oor AGHS in die popkultuur nie.

Sommige beskou dit as ’n modieuse toestand in ’n oorgediagnoseerde kultuur; ’n verskoning vir ledigheid en onbekwaamheid.

Op die oggend van my AGHS-konsultasie met ’n psigiater het my 91-jarige ouma, saam met wie ek die grootste deel van 2020 ingeperk was, gesê: “Jy kort ’n bietjie vars lug.”

Geneigdheid om laat te wees? Jip. Los take onafgehandel? Jip. Impulsief? Jip. Swak konsentrasie? Jip. Geneigdheid tot onverskillige foute? Jip. Sukkel om my beurt af te wag om te praat . . . “Ja!”

Vir haar was vars lug die wonderkuur vir alles. Maar die gevestigde manier van doen sou nie my probleme oplos nie. Ek wou hierdie keer deurdruk en dit waarmee ek begin het, klaarmaak; teen my AGHS-instinkte indruis en die oproep vir my afspraak maak.

Tydens my Zoom-konsultasie met dr. Rahman van die AGHS-sentrum het ons die gedrag deurgedraf wat met die steuring verbind word. Geneigdheid om laat te wees? Jip. Los take onafgehandel? Jip. Impulsief? Jip. Swak konsentrasie? Jip. Geneigdheid tot onverskillige foute? Jip. Sukkel om my beurt af te wag om te praat . . . “Ja!”

Die assessering was natuurlik baie meer diepgaande. Daar is drie hoofkriteria vir AGHS. Daar moet natuurlik ’n gebrek aan aandag wees. Daar moet hiperaktiwiteit wees. Daar moet beduidende belemmerings wees en dit moes sedert die kinderjare teenwoordig wees.

Die mens se kollaterale geskiedenis word ook beoordeel. Dit behels dinge soos skoolrapporte, asook getuienis van familielede en vriende wat die pasiënt sedert hul kinderjare ken.

James, ’n joernalis en die skrywer van Hired: Unde
James, ’n joernalis en die skrywer van Hired: Undercover in Low-Wage Britain, gebruik sy Instagramrekening om te skryf oor sy reis met AGHS. Foto: Instagram

Sedert my konsultasie gebruik ek elke oggend medikasie wat vir my voorgeskryf is. Dit help my op take fokus soos die skryf van hierdie artikel. Ek is weer produktief – baie produktief. Ek het nie meer 10 boeke wat rondlê met elk ’n boekmerk ná die eerste paar hoofstukke nie.

Medikasie is geen wondermiddel nie; ek moes ook leefstylaanpassings maak. Ek moes kafeïen in kombinasie met die medikasie prysgee, anders klop my hart soos ’n stoomtrein en sukkel ek om snags te slaap.

Dieet speel ’n belangrike rol in die bestuur van my AGHS. As ek te veel suiker eet, sukkel ek die volgende dag met konsentrasie. Ek stel die alarm nogal baie. Ek het slotte aan my internetblaaier om te keer dat ek uitstel om aan die werk te spring.

Wanneer ek my vriende vertel ek het AGHS, diagnoseer hulle dit soms op die plek by hulself. Hulle sal dikwels hul gebruik van sosiale media patologiseer.

“O, ek dink ek het ’n bietjie AGHS,” sal hulle sê voor hulle hul aanlyn gewoontes en skermtyd met my bespreek. Ek raak dan lus om vir hulle te sê hulle maak my toestand as ’n kleinigheid af, maar vandat ek medikasie begin gebruik het, neem ek ander se gevoelens meer in ag. Ek staan meestal net daar en knik my kop.

Sedert die diagnose voel ek soms berou; veral wanneer ek aan die vermorste jare en onvervulde potensiaal terugdink. Waarom het my onderwysers nie iets opgemerk nie? Wanneer ek my skoolrapporte lees, lyk dit voor die hand liggend dat ek AGHS het. Maar dit was ’n ander tyd, reken ek.

Chroniese rusteloosheid het my voortgedryf om werk te kry wat ek werklik geniet, soos die dokter dit stel. Ek voel gelukkig. Ek het vrede gemaak met my AGHS-diagnose.

Rahman het my ’n meer filosofiese manier gegee om na my lewe voor die diagnose op 37 te kyk. “Ek het al baie mense soos jy ontmoet, met werk in ’n doodloopstraat, soos jy dit noem. Maar as jy altyd ten volle vir jou simptome behandel is, sou jy ook iets gevind het wat jou absoluut aangryp?”

Met ander woorde, ’n uiters lae drempel vir verveling kan voordele inhou. Chroniese rusteloosheid het my voortgedryf om werk te kry wat ek werklik geniet, soos die dokter dit stel. Ek voel gelukkig. Ek het vrede gemaak met my AGHS-diagnose. Ek begin dit as ’n geskenk beskou, al leer ek steeds hoe om daardie geheimsinnige supermagte te benut.

Ek wens net ek kon teruggaan in tyd om met die 10-jarige agter in die klas te praat. Ek sou vir hom sê om hom nie te bekommer oor die dinge wat in sy kop aangaan nie. Om die magte waarmee hy toegerus is te probeer benut. Jy is basies Spider-Man, sou ek vir hom sê. En met groot mag kom groot verantwoordelikheid.

© THE TIMES MAGAZINE/ NEWS LICENSING
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe