Sy het eers besef sy het dringend hulp nodig toe sy in 2010 eendag op die langpad agter die stuur van haar motor aan die slaap raak.

“Dit was verskriklik; ek was konstant duiselig, het nooit uitgerus gevoel nie en my gewig het aanhou toeneem. My kinders moes my met tye met water natspat sodat ek nie agter die stuur aan die slaap raak nie – ek het soms bloot inmekaargesak van moegheid,” vertel sy.

Toe sy mediese hulp soek, het ’n dokter ’n reeks toetse op haar gedoen.

Obstruktiewe slaapapnee is toe by haar gediagnoseer.

Dié toestand veroorsaak dat ’n mens gedurig vir kort rukkies ophou asemhaal terwyl jy slaap. Dit kan lei tot te min suurstof in jou bloed dat jou liggaam behoorlik kan funksioneer.

En dit kan lewensgevaarlik wees of veroorsaak dat jou slaapritme voortdurend versteur word en jy nooit behoorlik uitrus nie, al slaap jy genoeg ure per nag.

“Die dokter het gesê hy het nog nooit iemand met sulke lae bloedsuurstofvlakke ontmoet wat leef nie,” sê Katrina.

“Hy het my as ’n tydbom bestempel wat op enige oomblik kan dood neerslaan.”

Ná die diagnose het die dokter Katrina aangeraai om voortaan met ’n volgehouepositiewelugwegdruk-masjien (Continuous Positive Airway Pressure-/CPAP-masjien) te slaap. Dit is ’n toestel wat oor die neus en mond geplaas word en die vloei van lug na die longe reguleer.

Ernstige apneegevalle moet chronies met ’n CPAP-ma
Ernstige apneegevalle moet chronies met ’n CPAP-masjien behandel word. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Die masjien het byna onmiddellik ’n positiewe uitwerking gehad,” sê Katrina.

“My slaapritme het heeltemal verander.”

Sy wou “konstant slaap” in die eerste paar weke nadat sy die masjien begin gebruik het.

“Ek het selfs die masjien gekoppel wanneer ek ’n middagslapie geneem het. Dit was asof my liggaam jare se slaap moes inhaal.”

Deesdae is sy uitgerus ná ’n nagrus van ses uur. Sy gebruik die masjien nog elke nag; sy kan nie daarsonder nie – dis soos chroniese medikasie.

“My energievlakke is op 64 ongelooflik; ek het nog nooit so goed gevoel nie,” vertel sy.

Huisgenoot het by deskundiges oor dié toestand gaan aanklop.

Wat is slaapapnee?

Apnee beteken “geen asemhaling”, verduidelik dr. Peet Vermaak, ’n neuro­fisioloog van Pretoria.

“Dit gebeur in die meeste gevalle wanneer die spiere agter die tong so ontspan en verslap wanneer jy aan die slaap raak dat dit platval en ’n obstruksie veroorsaak wat keer dat lug by die longe in- en uitbeweeg.”

Sulke gevalle staan bekend as obstruktiewe slaapapnee en is die toestand se al­gemeenste vorm.

Dit werk anders as sentrale slaapapnee, “wanneer ’n neurologiese meganisme veroorsaak dat ?die asemhalingspiere nie saamtrek nie en jy dan ophou asemhaal”, sê dr. Maurits Kruger, ’n homeopaat van ?Johannesburg.

Die “episodes” waar jy nie asemhaal nie, duur van ’n paar sekondes tot selfs ’n paar minute op ’n slag.

Terwyl dit soms met almal gebeur, gebeur dit tot honderde kere per nag met mense wat aan slaapapnee ly.

“Dit gebeur van tyd tot tyd met ons almal,” sê Maurits. “Maar mense met die slaaptoestand word nie wakker wanneer hulle ophou asemhaal nie en hulle is onbewus daarvan dat dit met hulle gebeur.”

Wie kry dit?

Gene speel ’n rol, sê dr. Karine Scheuermaier, hoof van die slaaplaboratorium aan die skool vir fisiologie aan die Universiteit van die Witwatersrand.

Obstruktiewe slaapapnee ontwikkel weens versperrings in die boonste lugweg.

“As ’n ?direkte familielid van jou slaapapnee het, is daar ’n groot kans dat jy dit ook het of later sal ontwikkel.”

Gene is nie die enigste sondaar nie.

“Obstruktiewe slaapapnee ontwikkel weens versperrings in die boonste lugweg. By kinders en jong mense kan dit oorgroot mangels wees en by ouer mense die verlies van spiertonus.

“Oorgewig mense het ’n groter kans om daaraan te ly weens te veel vet in die nek.”

Sentrale slaapapnee ontwikkel weens neurologiese toestande of siektes wat die asemhalingsentrum of die senuwees na die asemhalingspiere aantas.

Slaapapnee kom by mans vier keer soveel as by vroue voor en meer by mense bo 40 jaar. Dit is ook algemener onder mense wat aan hartsiektes of diabetes ly, sê Maurits.

“Dit geld ook vir dié wat ’n beroerte oorleef het of chroniese medikasie gebruik wat die sentrale senustelsel onderdruk – soos medikasie vir angs of pyn en spierverslappers.”

Wat is die simptome?

Om erg te snork is dikwels die eerste aanduiding van slaapapnee en ’n goeie rede om jou te laat toets, sê deskundiges.

Maar nie almal met slaapapnee snork nie, sê Karine.

“Lomerigheid en moegheid deur die dag is ook gevaartekens.”

’n Rits simptome bestaan, sê Maurits.

Slaapapnee lei ook tot verswakte konsentrasie, ’n swak geheue en hiperaktiwiteit.

Dit sluit in hoë bloeddruk en hoë bloed­sui­ker- en insulienvlakke; verhoogde vlakke van inflammasie; spier- of ge­wrigs­pyn; depressie; ’n buitengewoon lae libido wat gepaardgaan met impotensie en lae testosteroonvlakke; ’n konstante toename in gewig; en kwaai sooibrand.

Slaapapnee lei ook tot verswakte konsentrasie, ’n swak geheue en hiperaktiwiteit.

Jy moet jou eie liggaam ken, sê Peet.

“Laat toets jouself as jy deurlopend moeg is ná ’n volnagrus, skielik oggendhoofpyn kry en met vogretensie sukkel.”

Omdat slaapapnee veroorsaak dat daar minder suurstof by die longe uitkom, vernou die bloedvate daar, wat weer tot te veel vog in die liggaam lei.

Is dit gevaarlik?

“Die toestand kan oor ’n lang tydperk jou dood beteken,” waarsku Maurits.

Jou hart ly daaronder, sê Karine.

“Slaapapnee veroorsaak herhaaldelike pasverandering: Jou hart klop eers vinnig, dan stadig en dan weer vinnig. Dit het ’n negatiewe impak op die hartspiere.”

Hoewel die hart die swaarste kry, word heelwat skade in die liggaam aangerig deur hoë vlakke van inflammasie.

Die brein en niere doen ook skade op.

“Die brein word aangetas deur die af­name in kognisie en korttermyngeheueprobleme, en jou niere werk oortyd om van oortollige vog ontslae te raak.”

Op die lange duur is die lae suurstofvlakke sleg vir jou liggaam.

“Hoewel die hart die swaarste kry, word heelwat skade in die liggaam aangerig deur hoë vlakke van inflammasie – ’n gevolg van apnee en min suurstof.

Apnee kan selfs lei tot verhoogde vlakke van kortisol, die liggaam se streshormoon, wat lei tot talle hormoonsteurings en simptome soos verhoogde stresvlakke en angstigheid,” sê Karine.

Die gevolge kring uit, sê Peet: “Die risiko vir beroerte by mense met onbehandelde slaapapnee is vier keer so hoog as normaal, en vir hartaanvalle ses keer so hoog. Hoë bloeddruk, veral in die longe, verhoog jou risiko vir ’n hartaanval.”

Wanneer jy diep slaap, word groei­hormone afgeskei wat help met die prosesse waardeur suiker verwerk word.

By iemand wat slaapapnee het, gebeur dit glad nie of nie genoeg nie; daarom word die bloedsuikervlakke versteur en kan mense met onbehandelde slaap­apnee ook tipe 2-diabetes ontwikkel.  

* Skuilnaam.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.