Die voordele van koffie is goed nagevors, met onder meer ’n vorige studie wat bevind het drie koppies per dag kan jou lewensduur verleng. ’n Afsonderlike een het bevind drie koppies per dag kan demensie afweer.

En nou het wetenskaplikes in twee nuwe stukke navorsing nog redes gevind om jou daaglikse boeretroos te geniet.

’n Span van die Aarhus-universiteitshospitaal in Denemarke het in die eerste studie bevind vier koppies koffie per dag kan jou risiko om tipe 2-diabetes te kry met 25 persent verminder, maar slegs as jy kafeïenvrye koffie, espresso’s en dompelpot-koffie drink – omdat dit hoër vlakke van die verbinding kafestol bevat.

“Die huidige studie verskaf verdere kennis oor die werkingsmeganismes van bioaktiewe stowwe in koffie,” het dr. Fredrik Brustad Mellbye, hoofnavorser, gesê.

In ’n aparte studie het navorsers van die Erasmus-universiteit se mediese sentrum in Nederland ontdek vier koppies koffie per dag, of ’n enkele beker kruietee, kan littekenvorming in die lewer wat sirrose veroorsaak, ’n toestand wat dodelik kan wees, stopsit. Ná die ontleding van data van bykans 2 500 deelnemers het wetenskaplikes bevind om gereeld koffie en kruietee te drink, word verbind met ’n verminderde kans op styfheid van die lewer – ’n hoë voorkoms daarvan dui op littekens.

Of jy dus cappuccino, espresso of een met ekstra room verkies, maak seker jy drink genoeg koffie. Dis goed vir jou!

© Cover Media