"Ek het my dogter gehaat.” Dit was die skokwoorde van die Britse pa en blogger Ross Hunt op sy blog.

“Dit was verskriklik moeilik om te erken, maar ek het haar gehaat. Ek was jaloers op haar, dan weer spyt en skuldig, maar oor die algemeen het ek gevoel my lewe is verwoes,” erken hy in sy verhaal oor die impak van sy stryd teen depressie ná sy dogter se geboorte. 

“Ek het nooit gedink ek sou so voel oor my eie dogter nie. As iemand sou aanbied om haar weg te neem, sou ek dit met graagte aanvaar het.”

Ross se openhartigheid is dalk onthutsend, maar sy belewenis van die eerste paar maande of jare as ouer is nie uniek nie. 

Daar is al baie berig oor nageboortelike depressie (NGD) by nuwe ma’s, maar navorsing wat in die Journal of the American Medical Association gepubliseer is, wys tot een uit elke 10 mans voel ook ná die geboorte van ’n kind in ’n stadium depressief. 

Die blogger Ross Hunt en sy dogter, Isabelle. Hy h
Die blogger Ross Hunt en sy dogter, Isabelle. Hy het ná haar geboorte met depressie gesukkel.Foto: Instagram/ @isabloguk

Dit kan kortstondig of ernstiger en durend wees. Kenners noem die blywende vorm daarvan paternale postnatale depressie (PPND), 'n verskynsel waaroor selde gepraat word omdat die klem selde op die pa se ervaring van die sogenaamde “baby blues” val. 

“Die fokus het lank net op ma en baba geval, met die gevolg dat pa’s verlore geraak het,” sê dr. Elsa du Toit, ’n psigiater van Panorama Healthcare Psychiatry in Kaapstad. 

Dié instelling staan nuwe ouers by met die emosionele en sielkundige uitdagings rondom die geboorte van hul kinders. Baie mense dink PPND bestaan nie, voeg sy by. 

Die wanindruk word gevoed deur tradisionele sienings oor geslagsrolle, soos dat die man die “beskermer” van die gesin is wat nie “swakheid” mag wys nie.

Dit maak dit moeilik vir nuwe pa’s om hulp te vra.  

Wat veroorsaak nageboorte­like depressie by pa’s?

Hoewel ’n nuwe pa se liggaam nie dieselfde hormonale veranderings beleef as ’n nuwe ma s’n nie, kan hy ook emosionele en sielkundige struikelblokke teëkom, sê Elsa.

“Vaderskap is kompleks en uit­dagend,” sê James Paulson, 'n assistentprofessor in psigiatrie aan die Oos-Virginië- Mediese Skool in Amerika. Dié oorgang – “van dude tot dad ”, soos hy dit beskryf – konfronteer mans met hul eie vrese, frustrasies en verwagtings. 

“Pa’s se selfversekerdheid (of gebrek daaraan) oor hul vermoë om 'n ouer te wees en vir hul gesin te sorg kan bydra tot hul geestesgesondheid of -ongesteldheid,” sê James.

En nes met 'n nuwe ma kan min slaap veroorsaak dat die pa minder energie en lewenslus het.

Dr. Rosa Bredenkamp, ’n sielkundige van Durbanville, sê nuwe pa’s ervaar dikwels 'n verlies aan intimiteit met hul vrou omdat die ma haar aandag aan die baba wy.

Die man voel afgesonder, afgeskeep en eensaam en kry moontlik boonop min ondersteuning van familie en vriende omdat die aandag eerder aan die ma en baba gewy word. 

Dit kan alles tot terneergedruktheid lei en selfs in 'n durende depressie ontwikkel. Mans met ’n geskiedenis van depressie is dikwels vatbaarder, beklemtoon kenners.

Sy het nog betreklik min pa’s met NGD in haar praktyk gesien, sê Rosa, “maar waar ek dit wel sien, blyk dit as die nuwe ma daaraan ly en die pa is vatbaar vir ­depressie, is die kans goed nageboorte­like depressie kan ook by hom gediag­noseer word.” 

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hoe manifesteer dit?

Die simptome lyk baie soos dié van tradisionele depressie, sê Rosa. 

As 'n nuwe pa langer as twee weke terneergedruk en ongemotiveer voel, moet die gevaarligte begin flikker. Ander simptome sluit in dat hy voortdurend omgekrap voel, gewigsveranderings ervaar, skuldgevoelens het, waardeloos voel en dalk oor die dood begin dink. 

Mans sal dikwels met woede, aggressie, angs of irritasie uiting gee aan hul depressie, sê die Amerikaanse sielkundige dr. David Singley, 'n lid van die groep Postpartum Support International.

Pa’s voel dikwels hulle moet ná die geboorte harder werk weens die groter finansiële verantwoordelikheid, sê Elsa.

“Maar die werk kan ook ’n plek word waar hy ‘wegkruip’ van sy gevoel van onvermoë om die nuweling in die huis te hanteer.”

Dit beteken hy begin ál meer van sy vrou en die huishouding onttrek.

Hoewel NGD verwys na depressie wat tydens die eerste maand ná die baba se geboorte of kort daarna ontwikkel, beklemtoon Elsa dit kan soms eers heelwat later gediagnoseer word.

“Die eerste jaar ná geboorte is uitdagend vir ouers. Nageboortelike depressie kan baie lank voort­sleep, selfs tot kinders skool toe gaan – veral as dit nie behandel word nie.” 

Kan dit na die gesin uitkring?

As 'n nuwe pa PPND ontwikkel, kan dit moontlik ’n uitwerking op die ma en baba hê, sê Elsa.

'n Depressiewe pa sal dalk te min energie hê of te afgestomp voel om die ma met versorgingstake te help, sê Rosa.

Boonop kan die nuwe ma voel sy is nie net vir haar baba se versorging verantwoordelik nie, ook vir dié van haar man, wat nog druk op haar kan plaas. Die man en vrou kan mekaar begin verwyt, en dit kan ’n impak op die verhouding hê.

“Die pa se geestesgesondheid is nie net ’n belangrike buffer teen die ontwikkeling van nageboortelike depressie by die ma nie; dis ook nou duidelik dat die pa se geestesgesondheid 'n impak op die baba se ontwikkeling het,” sê Elsa.

Rosa beaam dit.

“'n Pa met NGD gaan nie genoeg interaksie met die kind hê nie; dit kan sosiale en spraak­ontwikkeling benadeel en veroorsaak dat die band tussen pa en baba nie spontaan kan ontwikkel nie.” 

Bedrukte pa’s is ook minder geneig om met hul kinders te speel, maar dié aktiwiteit is belangrik om kinders te leer hoe om hul gedrag te reguleer, sê Elsa.

Hoe pak ’n pa sy nageboortelike depressie?

Nes met NGD by 'n ma is dit noodsaaklik dat mans hulp kry as hulle nageboortelike depressie ontwikkel.

Dit kan die man se lewensgehalte en gesondheid beïnvloed en ook 'n impak op sy verhouding met sy vrou en kind hê as dit onbehandeld bly, verduidelik die psigiater Elsa du Toit. 

Kenners beklemtoon dit is 'n goeie idee om stappe te doen nog voor dit ’n probleem raak. “Dit help paartjies baie om voor die geboorte ’n terapeut te besoek sodat hulle kan gesels oor die gehalte van hul verhouding, verwagtings van mekaar asook veranderings wat ouerskap moontlik kan meebring,” sê Elsa. 

Dit kan ook ná die geboorte gedoen word om te sorg dat probleme nie ontstaan nie.

  • Praat met 'n vertroueling: 'n Nuwe pa wat depressief begin voel, moet met sy maat oor sy gevoelens en frustrasies praat, want opkrop help nie, sê Elsa. 
    As hy nie aan sy maat wil erken hoe hy voel nie, moet hy dit met ’n ander vertroueling bespreek. “Om jou diepste gevoelens te verbaliseer is die eerste stap om jou laste te verlig,” beaam die sielkundige dr. Rosa Bredenkamp. “ ’n Vertroueling kan help dat ’n depressiewe ouer nie ontspoor nie.”
  • Skep tyd vir jouself: Gesels met jou maat en stel sekere aktiwiteite vas wat goed is vir jou geestes- en fisieke gesondheid – soos ’n kuier saam met jou pelle of tyd in die gimnasium, sê Elsa. Werk tye uit wat jy hieraan kan afstaan, en onthou om haar dieselfde te gun.
  • Skep tyd vir jou en jou maat: Beplan gereelde alleentyd saam waartydens julle sonder die baba by mekaar kan uitkom. “ ’n Betroubare oppasser kan ouers tyd gun om te rus en tyd aan mekaar af te staan,” sê Rosa. Dit sal help om intimiteit te skep en albei ouers te herinner hulle is nie alleen nie.
  • Gee jouself tyd om 'n band met die baba te bou, en wees geduldig: Pa’s voel dikwels “oorbodig” omdat ma’s soms aanvanklik ’n groter versorgingsrol speel, sê Elsa. “Moenie jouself kasty as jy nie dadelik ’n band met jou baba voel nie; hou aan om tyd saam met haar deur te bring, maar wees geduldig.”
  • Vra hulp: Moenie te skaam wees om professionele hulp te vra nie, sê Rosa. Jou huisdokter kan jou na 'n sielkundige verwys en dié sal jou met berading of verhoudingsterapie bystaan. Indien depressie by jou gediagnoseer word, kan ’n psigiater medikasie voorskryf wat die toestand sal behandel en die simptome sal verlig.

Ekstra bronne: vistano.com, af.innerself.com, postpartummen.com, Isablog.co.uk, jamanetwork.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.