Dit is reeds geruime tyd bekend dat verwerkte vleissoorte en suiker gekoppel word aan ’n hoër risiko om kanker te kry, maar ’n belangrike nuwe studie het bevind dat baie soorte hoogs verwerkte kossoorte jou kanse om dié noodlottige siekte op te doen, kan verhoog.

Daar is trouens bereken dat vir elke 10 persent meer ultraverwerkte kos wat ’n mens inneem, daar ’n 12 persent hoër risiko bestaan dat jy kanker sal opdoen.

Kossoorte wat deur die navorsers by die Sorbonne in Parys en die Universiteit van Sao Paulo as ultraverwerk geklassifiseer is, sluit in bevrore en verkoelde klaargaar maaltye, bruisdrankies, aartappelskyfies, lekkers, verpakte brode en koeke, wors, varkspek en ham, hoenderklontjies (”nuggets”), voorafbereide pasteitjies, asook kitsnoedels en -sopsoorte. 

Dié kosse se totale vet-inhoud, versadigde vette, en bygevoegde suiker en sout is hoër, terwyl vesel- en vitamiendigtheid laer is.

“Hierdie studie is, volgens ons kennis, die eerste een wat ’n verhoging in die risiko van gewone kanker – en veral borskanker – ondersoek en dit beklemtoon ten opsigte van die inname van ultraverwerkte voedsel,” het navorsers in die Britse Mediese Tydskrif geskryf. 

“Indien hierdie resultate in ander bevolkings en omgewings bevestig word, suggereer dit dat die vinnig versnellende inname van ultraverwerkte kossoorte ’n toenemende las van kanker in die komende dekades kan verhoog.”

Die span het, vir die studiedoeleindes, die kosdagboeke van 105,000 gesonde volwassenes, met ’n gemiddelde ouderdom van 43 jaar, bestudeer.

Deelnemers is geklassifiseer ten opsigte van die hoeveelheid ultraverwerkte kossoorte wat hulle in 2 tydperke van 24 uur ingeneem het.  

Daar is oor die algemeen gevind dat diegene in die boonste kwart, wat die meeste ultraverwerkte kossoorte ingeneem het wat tot 23 persent van hul dieet uitgemaak het, se kanse om oor die volgende vyf jaar kanker van enige aard te ontwikkel, 23 persent hoër was, vergeleke by die onderste kwart, wat rofweg agt persent ultraverwerkte kossoorte ingeneem het.

Die skrywers het opgemerk dat daar geen beduidende skakel was tussen kanker en minder verwerkte voedselsoorte, soos ingelegde groente, kaas en vars brood, nie.

Tam Fry, van die National Obesity Forum, het dié opmerking gemaak oor die studie: “Waar daar ’n rokie trek, is daar ’n vuurtjie – ons moet aandag skenk aan die vrese van die wetenskaplikes en dus voedseletikette meer aandagtig lees.

Yslike hoeveelhede gewone verwerkte voedsel is volgeprop met oormatig baie suiker, vet en sout, en dit word alles op die verpakking aangedui.

“Vermy die risiko vir kanker deur niks wat baie meer as 15g suiker, 5g versadigde vet en 1,5g sout onderskeidelik per 100g bevat, te eet nie. Dit is regtig nie moeilik nie.”