Onlangse navorsing het bevind dat oefening en goeie kos die newe-effekte van asmasimptome binne net twee maande met die helfte kan verminder.

Navorsers by die Bispebjerg-universiteitshospitaal in Denemarke, gelei deur dr. Louise Toennesen, het agt weke lank veranderinge in leefstyl by asmalyers ondersoek. Ná hierdie tydperk het die deelnemers wat ’n dieet met ’n lae glusemiese indeks (GI) gevolg het wat baie vrugte, groente en proteïene bevat, en wat drie keer per week fiksheidsklasse bygewoon het, hul asmasimptome beskryf as 50 persent laer as dié van mense in die kontrolegroep wie se roetines nie verander het nie.

Selfs al kweek jy net een van die gesonde gewoontes aan, is daar ’n verandering. Mense wat óf ’n dieet gevolg óf geoefen het, maar nie albei gedoen het nie, het aangedui dat hul asmasimptome met 30% verbeter het.

Dr. Toennesen het verduidelik dié studie bewys dat nie-vetsugtige asmapasiënte ook kan baat by beter kos en meer oefening ten einde hul lewensgehalte te verbeter. ’n Lae-GI-dieet sorg dat die suikers in kos stadig vrygestel word en dit hou die metabolisme in toom. Groente soos broccoli en sampioene is lae-GI-kos, asook vrugte soos kersies, perskes en appels.

“Hierdie bevindings is belangrik, aangesien ons weet dat nie alle pasiënte goeie beheer het oor hul simptome nie en gevolglik ’n swakker lewensgehalte kan hê,” het sy bygevoeg.

“Baie pasiënte wil weet of oefening en ’n gesonde dieet hulle sal help om hul asma beter te beheer. Ons navorsing dui daarop dat asmalyers aangemoedig moet word om ’n gesonde dieet te volg en deel te neem aan liggaamlike aktiwiteite.”

Die studie is onlangs by die European Respiratory Society International Congress in Milaan voorgelê, maar al was die uitkoms positief, was daar nie sterk genoeg bewyse van verbeterde longfunksionering nie.

© Cover Media