Die vreemde, wonderlike en selfs die onmoontlike kan in jou drome afspeel. Dalk kan jy snags in jou slaap vlieg, of jy ontdek ’n geheime kamertjie in jou huis, dans kaal in die strate of verloor ’n paar tande.

Dis maar net ’n paar van die algemeenste drome wat voorkom. Party vergeet ons, terwyl ander ons laat wonder waaroor ons gebrek aan klere of tande nou eintlik gaan.

Drome help ons om gedagtes en gevoelens te verwerk, sê Jane Anderson, ’n Australiese droomontleder, terapeut en skrywer van die boek The Dream Handbook: The Ultimate Guide to Interpreting Your Dreams.

“’n Droom is ’n kiekie van hoe jy die lewe en jou plek daarin op daardie spesifieke nag sien."

“Dié prentjie is op jou bewuste en onbewuste ervarings van die afgelope dag of twee gegrond. Gewoonlik fokus dit op ’n vraag of probleem,” sê sy.

Ons is van net 10% tot 15% van ons gedagtes, gevoelens, herinnerings en oortuigings bewus. Daaronder skuil ons onderbewussyn en die ervarings en gevoelens wat ons nie wil konfronteer nie.

Drome bring die onderbewussyn na vore en wys vir ons dié dinge wat ons in die lewe terughou. Jane en die droomterapeut Martina Kocian verduidelik hoe jy uit jou drome kan sin maak.

Insig en probleme

Jy het gemiddeld vyf drome per nag, en elkeen daarvan wentel gewoonlik om dieselfde vraag of kwessie.

Jane sê dit verskaf ’n nuttige insig wat ons dalk nie voorheen besef het nie.

Drome wat herhaal word, is ’n aanduiding ons luister nie na die boodskappe daarin nie.

“Die droom probeer jou bewus maak van iets wat in jou lewe gebeur, en dit sal herhaal tot jy die boodskap erken en ’n verandering maak,” verduidelik Martina.

“Dalk hou jou droom daarmee verband dat jy nie van jou werk hou nie. Dit sal herhaal tot jy jou werksituasie verbeter, ’n nuwe werk soek of minstens aan jouself erken jy hou nie van wat jy doen nie.”

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hoe voel jy?

Let op na hoe jy voel wanneer jy wakker word.

Voel jy kwaad? Ontsteld? Gefrustreerd? Gelukkig? Vol selfvertroue?

“Gevoelens is belangrik wat die ontsyfering van ’n droom betref. As jy wakker word en jou gevoelens is negatief, moet jy jouself vra wat nou in jou lewe aangaan wat jou kwaad of gefrustreerd maak,” stel Martina voor.

Hou dagboek van jou drome en teken ook jou gevoelens aan. Pen neer wat gebeur, wie in jou drome is en watter simbole verskyn. Skryf enige simbool neer, al maak dit aanvanklik nie sin nie.

Jy kan dan herhalende temas, mense of plekke raaksien om ’n idee te kry van wat jou pla. Jane gebruik ’n proses genaamd “droomalchemie”, wat visualisering, bevestiging en dialoog insluit.

Visualisering

As jy ’n droom het wat ontstellend of frustrerend is, maak jou oë toe en herhaal dit in jou verbeelding. Maar stel jou nou voor hoe die droom ontvou met ’n einde wat ’n uitkoms het waarop jy hoop.

“Wanneer jy jou droom met ’n nuwe einde herverbeel, kommunikeer jy met en herprogrammeer jy jou onderbewussyn,” sê Jane.

“Herverbeel jou droom 20 keer per dag vir die eerste week, 10 keer per dag vir die tweede week en twee keer per dag vir die volgende maand.”

Jane sê as jy byvoorbeeld aanhoudend droom jou tande val uit of verbrokkel wanneer jy praat, dui dit dalk daarop jy kan nie jou mening lug nie en jy voel niemand luister na jou nie.

Verbeel jou dus jy het ’n mond met mooi gesonde wit tande en jy sê wat jy wil sê. Dink aan die kere die afgelope dag of twee dat jy gevoel het jy word nie gehoor nie, en herverbeel jou dié situasies terwyl jy sê wat jy in gedagte het.

Bevestiging

Identifiseer die sleuteltekens en -simbole in jou droom.

Kies ’n positiewe simbool uit die droom en skryf ’n positiewe bevestiging daaroor.

“Vermy negatiewe woorde, want jou onderbewussyn tel dit op,” sê Jane.

“’n Algemene droom is byvoorbeeld dat jy vlieg en kragdrade in jou pad sien. Die kragdraad is die simbool vir ’n versperring of struikelblok waarvoor jy in die afgelope dag of twee te staan gekom het.”

‘Drome is grootliks verbind met ons daaglikse lewe’

Vra jouself wanneer jy die afgelope dag of twee aan jou vermoëns getwyfel het.

Wie of wat is die kragdraad in jou pad? Skryf dan ’n sin of twee neer wat die idee versterk dat jy bo-oor die kragdrade kan vlieg. Jane beveel aan jy sê dié stelling in die eerste week 30 keer per dag hardop en daarna soggens en saans voor jy gaan slaap.

“Sê dit hardop en met gevoel, want dit skep emosie met ’n positiewe uitwerking op die onderbewussyn. Lê dit as ’n oortuiging vas en vervang negatiewe gevoelens,” sê sy.

Dialoog

Dit neem net 20 minute, en Jane sê die geheim is om nie te diep te dink oor wat jy sê nie. Skryf ’n vraag uit jou droom neer en voer dan ’n “gesprek” met een van die mense of simbole in jou droom. Skryf die hele gesprek neer.

“Deur nie te dink nie laat jy jou onderbewussyn die werk doen – jou onderbewussyn het immers die droom geskep en weet waaroor dit gaan,” sê Jane.

Begin die gesprek deur die simbool of mens te vra hoekom hulle in jou droom is. Wat is hul doel? Wat sê hulle? Wat wil hulle hê? Skryf neer wat ook al in jou gedagtes opkom, en jy sal eindelik agterkom hoekom die simbool in jou droom is.

Wanneer jy ’n nare droom het

Nare drome kan in vele gedaantes opduik, maar ’n algemene een is om jouself van iets of iemand skrikwekkends te sien weghardloop.

Jy word gejaag deur iets of iemand wat jy nie wil konfronteer nie.

Jy hardloop dalk weg van iets in jouself of jou lewe waarvan jy nie hou nie, of jy vlug vir skuldgevoelens.

Die agtervolger is dalk ’n werk wat jy verafsku, ’n verhouding wat jy nie meer wil hê nie, skuld of ’n spertyd.

“Verbeel jou dat jy omdraai en jou agtervolger reguit in die oë kyk. Verander dit van iets vreesaanjaends in iets moois – dalk sonskyn of ’n hoop geld. Beskou die vrees wat jy nou die hoof bied as ’n geleentheid waaruit jy iets kan leer,” sê Jane.

“Drome kan soos ’n ghoeroe wees,” meen Martina.

“Ons kan baie tyd daaraan bestee om selfhelpboeke te lees, na antwoorde te soek en persoonlikeontwikkelingskursusse te doen, maar drome is ’n gids, persoonlik en deel van ons."

"Hulle is grootliks verbind met ons daaglikse lewe en wie ons is. En die positiewe hiervan is dat as enigiets in ons drome moontlik is enigiets in die regte lewe ook moontlik is.” 

Hoe dikwels droom jy?
Dis normaal om vier tot ses drome per nag te hê, maar as jy meer as gewoonlik het, kan dit wees omdat jy te warm of te koud kry terwyl jy slaap. En drome wat besonder helder is, kan ’n aanduiding van swak slaap wees.

Algemene drome en betekenisse

Jy word gejaag: Dit is een van die algemeenste drome en kan iets simboliseer wat jy in jou daaglikse lewe ontken of probeer vermy.

Water: Dit verteenwoordig dikwels ons emosies. Die gehalte van die water – helder en kalm teenoor onstuimig en troebel – kan aandui hoe ons ons emosies hanteer.

Val: As jy stadig val, kan dit daarop dui dat jy iets laat los. Maar as jy onbeheerbaar van ’n groot hoogte afval, kan dit beteken jy voel jy het geen beheer in die lewe nie.

Vlieg: Afhangend van hoe goed jy dit doen, hou die droom verband met hoeveel beheer ons voel ons oor ons lewe uitoefen en of ons in staat is om ons doelwitte te bereik.

Dood: Dit word dikwels as negatief in drome beskou, maar dit hou gewoonlik met drastiese veranderings verband – die einde van iets om vir die nuwe plek te maak.

Naaktheid: Dit kan op emosionele kwesbaarheid dui. Die liggaamsdeel wat ontbloot is, kan ons meer insig gee in die emosie wat ons drome graag wil hê ons moet verstaan.


Waaruit bestaan ons nare drome?
Navorsing toon sowat 70% van nare drome bevat aggressie, interpersoonlike konflik, mislukking of hulpeloosheid – of al dié dinge.