Hy het self dekades lank met depressie en angs geworstel; daarom is dit wat ’n mens benodig om sielkundig gesond te voel ’n onderwerp wat hom na aan die hart lê.

Die Britse skrywer Matt Haig (43) het vier jaar gelede die boek Reasons to Stay Alive – sy memoires oor sy verlammende depressie en hoe hy dit oorkom het – geskryf.

Maar ten spyte van sy beterskap het hy die afgelope paar jaar besef die moderne lewe is glad nie voordelig vir ons geestesgesondheid nie. Dit kan trouens ongekende skade aanrig.

In sy jongste boek, Notes on a Nervous Planet, kyk hy na die uitwerking van die internet, slimfone, die sosiale media en alomteenwoordige aanlyn nuus op die menslike brein – en gee hy raad oor wat ons daaromtrent kan doen.

Paniek is ’n soort oorlading soos ’n vrag wat te swaar is. Dis hoe my paniekaanvalle altyd gevoel het: ’n oorvloed gedagtes en vrese. ’n Oorlaaide brein bereik ’n breekpunt en dan tree die paniek in.

Jy voel vasgevang, sielkundig ingehok. Sedert ek in my 20’s die eerste keer so siek was dat dit my byna tot selfdood gedryf het, het ek geleer jy kan net beter word as jy jou lewe in ’n mate redigeer.

Jy moet dinge uitsny, wegvat. Soos Fumio Sasaki, ’n Japannese voorstander van minimalisme, dit stel: “Om minder te hê bring geluk.”

Al wat ek uit die vroeë dae van my eerste paniekervaring geleer het, was om drank, sigarette en sterk koffie te los. Maar jare later besef ek nou die probleem was ’n veel algemener oorlading.

’n Lewensoorlading. En beslis ’n tegnologie-oorlading. Aangesien liggaamlike en geestelike gesondheid nou verweef is, geld dieselfde nie dalk ook vir die moderne wêreld en ons geestestoestand nie?

Kan aspekte van ons lewe in die moderne wêreld dalk verantwoordelik wees vir hoe ons in dié wêreld voel? Nie net wat die dinge van die moderne lewe betref nie, maar ook die waardes wat veroorsaak dat ons meer wil hê as wat ons het.

Om te glo werk is belangriker as speel. Om die slegste dele van onsself met die beste dele van ander te vergelyk.

Om te voel asof ons altyd iets kortkom. Baie van ons in die ontwikkelde wêreld het baie om voor dankbaar te wees.

Ons lewensverwagting neem toe, die babasterftekoers neem af, kos en skuiling is volop, en groot wêreldoorloë is afwesig. Maar noudat ons heelwat probleme opgelos het, sit ons nie dalk met ander nie?

Dit voel soms of ons die skaarsheidskwessie tydelik opgelos het en dit met die probleem van oorvloed vervang het.

Dit klink miskien dramaties om te sê die planeet stuur op ’n ineenstorting af. Maar ons weet beslis die wêreld is op allerhande maniere – tegnologies, polities en wat die omgewing betref – aan die verander. En vinnig.

Wanneer terapeute na snellers vir geestesgesondheidsprobleme kyk, identifiseer hulle dikwels ’n ingrypende verandering in iemand se lewe as ’n beduidende faktor.

Byvoorbeeld, as iemand verhuis, hul werk verloor, trou, 40 word, ’n sterfte in die familie moet hanteer, ’n gesondheidsprobleem by hulle gediagnoseer word of wat ook al.

Soms maak dit ook nie te veel saak of die verandering op die oog af ’n “goeie” een is nie, byvoorbeeld ’n nuwe baba of ’n bevordering by die werk. Dit uitwerking van die verandering kan ’n skok vir die gestel wees.

Maar wat as die verandering nie net ’n persoonlike een is nie? Wat van wanneer verandering almal raak? Wat gebeur wanneer hele samelewings – of ’n hele menslike bevolking – ’n tydperk van diepgaande verandering ondergaan?

’n Senuweeagtige planeet

In die 19de eeu was ene Charles Tilston Bright in beheer van die eerste transatlantiese telegraafkabel. Hy het na die wêreldwye telegraafnetwerk as “die wêreld se stelsel van elektriese senuwees” verwys.

Ons het nie meer telegrawe as sodanig nie, maar die wêreld se senustelsel het nie verdwyn nie.

Dit het groter en komplekser geraak en dis vandag se internet. Mense is die senuweeselle van die wêreld se brein en ons verbind onsself as’t ware deur die internet met al die ander senuweeselle.

Ons stuur die oorlading heen en weer. Oorlaaide neurone op ’n senuweeagtige planeet. Gereed om ineen te stort.

Die probleem is as ons almal by een uitgestrekte senuweestelsel ingeprop is, is ons geluk – en ellende – meer met dié van ander mense, die hele samelewing, verbind as ooit tevore.

Die groep se emosies word ons eie.

’n Paar woorde oor tyd

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Ons behoort meer tyd as ooit tevore te hê. Vir mense in die ontwikkelde wêreld het die lewensverwagting die afgelope eeu meer as verdubbel. En ons het meer toestelle en tegnologieë wat veronderstel is om tyd te bespaar.

Nogtans voel ons dikwels doodmoeg gejaag. Ons wens gereeld vir meer ure in die dag, maar dit sou niks help nie.

Die probleem is nie dat ons te min tyd het nie; dis eerder dat ons te veel van al die ander dinge in die lewe het.

Ons verdrink in die oorvloed boeke en televisieprogramme. En tog kan ons net een boek op ’n slag lees en een program op ’n slag kyk. Ons het alles vermenigvuldig, maar elkeen van ons is steeds ’n individu.

Daar is net een van jou. En ons is almal kleiner as ’n internet. Om die lewe te geniet, moet ons dalk ophou dink oor wat ons nooit sal kan lees, kyk, sê en doen nie, en begin dink aan hoe ons die wêreld binne ons grense kan geniet.

Om op ’n menslike skaal te leef. Om te fokus op die paar dinge wat ons kan doen pleks van die miljoene wat ons nie kan doen nie.

’n Paar woorde oor slaap

Ons kry nie regtig wat ons nodig het nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie, wat slaapverlies as ’n epidemie in geïndustrialiseerde nasies verklaar het, beveel aan ons slaap tussen sewe en nege uur per nag. Nie baie van ons doen dit nie.

Slaapkenners wys op ’n aantal bydraende faktore – kunsmatige lig, die manier waarop ons deesdae onophoudelik werk en ’n toename in eensaamheid en angstigheid.

Dit laat ’n begeerte by ons ontstaan om wakker te bly sodat ons kan klets of ons gedagtes met vermaak kan aflei in ’n waansinnige 24/7- wêreld. Slaap word met agterdog bejeën, want dis ’n tyd waarin ons nie ingeprop is, verbruik of betaal nie.

Ons het dieselfde houding jeens tyd: Dis iets wat jy nie moet mors deur bloot te rus, te wees of te slaap nie. Die horlosie is ons baas. So ook die gloeilamp. Die gloeiende slimfoonskerm. Die knaende gevoel dat dinge nooit genoeg is nie.

Ons geluk lê net om die hoek en is ’n enkele aankoop, interaksie of klik weg. Wagtend en gloeiend soos die lig aan die einde van die tonnel waarby ons nooit heeltemal kan uitkom nie.

Ons leef in 24-uur-samelewings, maar ons het nie 24-uur-liggame nie.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Iets moet knak

Hoe kan ons dus beter slaap? Die beste maniere is eenvoudig. Die meeste kenners stem saam oor die volgende: Kweek ’n roetine, vermy kafeïen, nikotien en te veel alkohol laataand (ek kan vir elkeen hiervan getuig), doen vroegoggend oefening, vermy groot maaltye laat in die dag, ontspan voor slaaptyd en maak seker jy kry ’n bietjie natuurlike daglig.

Maar een van die doeltreffendste oplossings, al is dit dalk effens vervelig, is ongelooflik eenvoudig.

Volgens prof. Daniel Forger van die Universiteit van Michigan, wat ’n span navorsers gelei het wat slaappatrone wêreldwyd bestudeer het, is die antwoord nie om soggens later te slaap nie.

Dis om ’n bietjie vroeër saans bed toe gaan, want hoe later mense inkruip, hoe minder slaap kry hulle. Daarenteen maak hoe laat ons soggens wakker word verbasend min verskil. Nog ’n oplossing is om gedissiplineerd oor jou foon- en skootrekenaargebruik te wees. Moenie in die bed daarop werk nie, want die blou lig het ’n nadelige uitwerking op die slaaphormoon, melatonien.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Wees net

Byna niemand van ons sou vandag se tegnologie vir die lewe van honderd jaar gelede wou verruil nie. Wie wil ’n wêreld van motors en satellietnavigasie, slimfone, skootrekenaars, wasmasjiene, Skype, die sosiale media, videospeletjies, Spotify, X-strale, kunsharte, OTM’s en aanlyn inkopies prysgee? Beslis nie ek nie.

Tydens die skryf van dié boek het ek die sielkundige prys wat die wêreld moet betaal, bestudeer deur te kyk na die enigste sielkunde wat ek werklik ken – my eie. Ek het gekyk hoe ons as individue in ’n dolle wêreld ons gesonde verstand kan probeer behou.

My geestesiekte, hoewel ’n nagmerrie in die werklikheid, het my oor die verskeie snellers en folterings van die moderne wêreld ingelig. Ons moet tyd vir onsself maak, hetsy deur middel van boeke of meditasie of deur net die uitsig uit ’n venster te waardeer.

’n Plek waar ons nie begeer, hunker, werk, ons bekommer of oordink nie.

’n Plek waar ons skakelaar op neutraal gestel is. Waar ons net kan asemhaal, net wees, net baai in die eenvoudige dierlike tevredenheid van die hede en nie smag na iets buiten dit wat ons reeds het nie: die lewe self. S

Hoe om op die internet verstandig te bly

’n Lys van utopiese gebooie wat ek selde volg, want dis so deksels moeilik.

1. Vermy die internet. Veral die sosiale media. Weerstaan die ongesonde oordaad wat jou probeer verlei.

2. Moenie simptome op Google intik nie, tensy jy ure lank vas wil glo jy gaan voor aandete dood wees.

3. Onthou, niemand gee regtig om hoe jy lyk nie. Hulle gee om hoe hulle lyk. Jy is die enigste mens in die wêreld wat oor jou eie gesig bekommerd is.

4. Verstaan dat wat vir jou werklik voel dalk nie werklik is nie. Toe die skrywer William Gibson in 1982 in sy kortverhaal Burning Chrome die eerste keer met die idee van die “kuberruim” vorendag kom, het hy hom dit as ’n “konsensuele hallusinasie” voorgestel.

Ek vind dié beskrywing nuttig wanneer ek te vasgevang in tegnologie raak. Onthou, die internet is ’n tree weg van die fisieke wêreld.

5. Verstaan mense is meer as ’n sosialemediaplasing. Dink hoeveel teenstrydige gedagtes jy in ’n dag het. Dink aan die verskillende teenstrydige standpunte wat jy al in jou lewe gehad het. Moenie dat een oorhaastige mening ’n hele mens definieer nie.

6. Moenie mense haatvolg nie. Dis my belofte aan myself sedert Nuwejaarsdag 2018, en tot dusver werk dit. Selfs al het jy ’n gegronde woede oor iets, is haatvolg nie ’n uitlaatklep daarvoor nie. Inteendeel, dit blaas dit aan. Op ’n vreemde manier versterk dit ook jou eggokamer deur jou te laat voel die enigste ander menings (buiten joune) is radikaal van aard. Moenie goed uitsoek wat jou ongelukkig maak nie.

7. Moenie telling hou nie. Likes, gunstelinge, hertwiets – ignoreer dit. Punte is nie ’n aanduiding van waarde nie. Moenie jouself ooit daarvolgens beoordeel nie. As jy wil hê almal moet van jou hou, sal jy die saaiste mens denkbaar moet wees.

8. Moenie jou jou lewe lank bekommer oor wat jy misloop nie. Dis dalk ’n bietjie Boeddhisties, maar onthou: Die lewe gaan nie daaroor om tevrede te wees met wat jy doen nie, maar met wie jy is.

9. Moet nooit ter wille van die internet eet of slaap uitstel nie.

10. Bly menslik. Weerstaan die algoritmes. Moenie ’n karikatuur van jouself wees nie. Skakel die opwip-advertensies af. Gee pad uit jou eggokamer. Moenie dat anonimiteit jou in iemand verander vir wie jy vanlyn skaam sal kry nie.

Hoe om ’n slimfoon te besit en nogtans ’n mens te wees

1. Moenie voel jy moet altyd daar wees nie. Die keersy daarvan om altyd bereikbaar te wees is dat ander van ons verwag om heeltyd beskikbaar te wees. Om die foon op te tel, op die teksboodskap te reageer en die e-pos te beantwoord.

Maar ons kan kies om nie daardie verpligting te voel nie. Ons kan hulle soms net laat wag. As ons vriende regte vriende is, sal hulle verstaan hoekom ons ’n bietjie kopruimte nodig het. En as hulle nie vriende is nie, hoekom wil ons in elk geval die moeite doen om te reageer?

2. Skakel kennisgewings af. Jy het niks daarvan nodig nie. Neem beheer terug.

3. Sit tye van die dag opsy wanneer jy nie by jou foon is nie. Ek is sleg met dié een. Maar ek raak beter. Niemand het hul foon heeltyd nodig nie. Ons het dit nie langs die bed nodig nie. Ons het dit nie tydens etes by die huis nodig nie.

Ons het dit nie nodig wanneer ons gaan draf nie. Hier’s iets wat ek nou doen: Ek gaan stap sonder my foon. Ek weet dit klink belaglik om dit as die een of ander groot prestasie voor te hou, maar vir my was dit. Dis soos oefening. Dit verg moeite.

4. Moenie elke twee minute kyk of jy ’n nuwe teksboodskap gekry het nie.

5. Moenie jou angsvlak met die hoeveelheid batterykrag op jou foon laat tred hou nie.

6. Moenie op jou foon vloek, by jou foon smeek, met jou foon onderhandel of jou foon gooi nie. Dit traak nie oor jou gevoelens nie. As die foon geen sein of geen krag het nie, is dit nie omdat dit jou haat nie. Dit is omdat dit ’n lewelose voorwerp is.

7. Moenie jou foon langs die bed sit nie. Terloops, ek oordeel nie. Die meeste mense slaap met hul foon langs die bed omdat hulle dit as ’n wekker gebruik. Maar ek slaap aansienlik beter wanneer my foon nie naby my bed is nie.

8. Beoefen app-minimalisme. Te veel apps en opsies gee jou meer keuses op jou foon, maar dit verhoog ook die stres van foongebruik.

9. Moenie take tegelyk probeer doen nie. Ons het fone wat alles kan doen en dis ’n versoeking om te dink ons kan net soveel goed gelyk doen. Volgens die neurowetenskaplike Daniel Levitin is ons nie regtig gemaak om take tegelyk te doen nie.

“Al dink ons ons kry baie gedoen, maak dit ons ironies genoeg minder doeltreffend – en dis bewys,” skryf hy in The Organized Mind: Thinking Straight in the Age of Information Overload.

“Pleks van die groot belonings wat jy kry vir volgehoue, gefokusde moeite kry jy eerder die onbevredigende belonings van duisend niksseggende takies wat verrig is.”

10. Aanvaar onsekerheid. Die versoeking om voortdurend op jou foon te kyk spruit uit onsekerheid. Dis wat dit so verslawend maak. Jy wil hê iemand moet op jou teksboodskap antwoord, maar jy weet nie of hulle het nie. Maar hoekom moet jy nou dadelik weet?

Hoekom kan dit nie wag tot ná jou slapie/vergadering/wandeling nie? Het mense regtig nodig om tydens vergaderings of terwyl hulle ’n begrafnis bywoon op hul foon te kyk? As ons verstaan die kykery is nooit ten volle bevredigend nie, sal ons dit dalk nie doen nie.

  • Die artikel is ’n vertaalde en geredigeerde uittreksel uit Notes on a Nervous Planet deur Matt Haig, uitgegee deur Penguin Random House. Beskikbaar teen R285 by takealot.com. Die prys was korrek teen druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.