Dié tyd van die jaar voel ’n mens maklik oorweldig. Jy is moontlik oormoeg ná al die dinge van die jaar en voel gespanne, geïrriteerd, tranerig of terneergedruk.

Dit was ’n lang jaar, maar die feestyd voel nog ver. Dit kan ’n eensame en moeilike tyd wees, veral as jy nie weet waar om vir hulp aan te klop nie.

Dis ’n goeie idee om by jou huisdokter, ’n sielkundige, psigiater of berader ’n afspraak te maak as jou gevoelens voortduur of as jy vermoed jy worstel met iets ernstigs.

Maar daar is ook ander maniere om professionele hulp te kry as jy sukkel om kop bo water te hou of op koers te bly.

Die besluit om ’n geestesgesondheidskenner te besoek is ’n dapper stap in die regte rigting as jy spartel, maar die wagtyd by staatsinstellings is dalk lank, en privaat terapie kan tussen R600 en R1 200 per sessie kos.

As jy lid is van ’n mediese fonds, sal dit moontlik van die sessies of ’n gedeelte van die koste dek, maar dalk is jy nie lid van ’n mediese fonds nie of is jy bekommerd dat jy nie die sessies sal kan bekostig nie.

Hier is raad oor nog plekke waar jy kan aanklop wanneer jy emosionele of sielkundige bystand nodig het.

DIE SUID-AFRIKAANSE DEPRESSIE-EN-ANGS-STEUNGROEP

As jy nie weet waar om te begin nie, is dit ’n goeie idee om die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angs-steungroep (Sadag) te kontak.

Dié organisasie bied ’n landwye steunnetwerk aan enigiemand met geestesgesondheidsprobleme en een van hul beraders kan jou in die regte rigting stuur.

“Nadat jy eers oor die telefoon met een van ons lekeberaders gesels het, sal hulle jou situasie kan beoordeel en jou met ’n berader, psigiater of sielkundige in aanraking bring indien nodig,” sê die Sadag-woordvoerder Kayla Phillips.

“As jy lid is van ’n mediese fonds, sal ons jou met iemand in die privaat sektor in aanraking bring. Indien nie, sal ons jou verwys na die naaste liefdadigheidsorganisasie wat hiermee bemoei is.

Sou jou geestesgesondheidskrisis ’n noodgeval wees, sal ons beraders jou familie in kennis stel en ’n ambulans na jou huis laat stuur om die situasie te beredder.”

  • Skakel Sadag se geestesgesondheidslyn by 011-234-4837 of hul krisislyn by 0800-567-567.
As jy nie weet waar om te begin nie, is dit ’n goeie idee om die SA Depressie-en-angs-steungroep te kontak

LIEFDADIGHEIDSORGANISASIES

Daar is verskeie organisasies landwyd wat hulp met geestesgesondheidskwessies verleen. Een voorbeeld is die laekoste-geestesgesondheidsentrum The Counselling Hub in Kaapstad, wat berading teen afslagpryse of gratis bied.

Al word Suid-Afrika deur ’n toenemende geestesgesondheidslas in die gesig ge- staar, werk 80% van sielkundiges in die privaat sektor, sê Shifra Jacobson, koördineer van The Counselling Hub. Dit is hoekom geriewe soos die Hub so belangrik is.

“Daar is so min geestesgesondheidswerkers in die openbare sektor deur die staat in diens geneem dat dit moeilik is om die alledaagse berading te doen wat baie van ons nodig het om te floreer,” sê Shifra.

The Counselling Hub is nie net vir mense wat nie toegang tot ’n mediese fonds het nie; dis ook vir mense wat lid is van ’n medie- se fonds, maar wie se fonds uitgeput is, sê die medestigter Romi Kaplan.

Die sentrum bied toegang tot lekeberaders, gekwalifiseerde sielkundiges en studente (wat almal vrywillig werk) en bied korttermynberading van nie meer as ses sessies nie om mense tydens ’n krisis weer op die been te bring.

  • The Counselling Hub (counsellinghub.org.za) vra R50 per sessie. Talle organisasies bied hul dienste gratis aan.
berading
Foto: Gallo Images/Getty Images

UNIVERSITEITSOPLEIDINGS-KLINIEKE

Baie universiteite bestuur beradingsklinieke waar leerlingsielkundiges as deel van hul kursuswerk buitepasiëntdienste aan die gemeenskap omliggend aan die universiteit bied. Beradingsdienste word deur drie soorte leerlinge gebied, sê prof. Greg Howcroft, direkteur van die Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth se sielkundekliniek (UCLIN).

“Dienste word deur leerlingsielkundiges in hul finale jaar van opleiding, geregistreerde sielkundiges in hul vierde jaar van opleiding of meesterstudente in hul vyfde jaar gebied.”

Al maak UCLIN vir die gemeenskap om die universiteit voorsiening, is die doelwit om hoofsaaklik laerinkomsteburgers te dien wat nie terapie kan bekostig nie. Ander sulke klinieke sluit in die Emtho- njeni-sentrum aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Welgevallen-gemeenskapskliniek aan die Universiteit Stellenbosch.

  • UCLIN (clinic.mandela.ac.za) het twee kampusse in Port Elizabeth – een in Somerstrand en een in Missionvale – en die koste wissel van R220 tot R500 vir individuele sessies en R60 tot R100 vir groepsessies.

Kliënte wat nie lid is van ’n mediese fonds nie, word R70 per sessie gevra, maar die instelling oorweeg ook tariefverminderings wanneer ’n kliënt behoeftig is.

Studenteberading

Die meeste Suid-Afrikaanse universiteite en kolleges bied gratis of bekostigbaarder berading aan studente.

Beradingspersoneel is die besigste in Mei, Augustus en September, want dit is die tydperke in die aanloop tot die eksamens, sê Samantha Hanslo, ’n voorligtingsielkundige aan die Skiereiland-universiteit van Tegnologie se Bellville-kampus.

Hulle sien die gereeldste studente wat aan depressiesimptome, angs en verhoudingsprobleme ly.

Die diens is uitsluitlik vir geregistreerde studente.

STEUNGROEPE

Dit is netwerke van mense wat in persoon of aanlyn vrywillig bymekaarkom omdat hulle soortgelyke probleme soos onvrugbaarheid, egskeiding, verlies, middelmisbruik, geestesiekte, angs of depressie die hoof moet bied. Tydens hul sessies vind hulle troos, insig en steun by mekaar.

Die voordele van by ’n steungroep aansluit is dat jy minder alleen, afgesonder en veroordeel voel. Groeplede kry ’n gevoel van bemagtiging en beheer en verbeter hul hanterings- en aanpassingsvaardighede.

Hulle het die geleentheid om openlik en eerlik oor hul gevoelens te praat, praktiese raad te deel en inligting oor hulpbronne uit te ruil. Familielede van mense wat met sekere toestande worstel, vorm ook groepe.

Steungroepe het baie voordele, sê die Kaapstadse spesialispsigiater dr. Bavi Vythilingum, maar sy maan dat ’n steungroep nie altyd as ’n volledige plaasvervanger vir terapie beskou moet word nie.

“Steungroepe hanteer nie ’n spesifieke stel probleme soos wat terapie doen nie en sal nie na die redes kyk waarom jy siek geword het nie.

As die fasiliteerder swak is, kan die bywoning van groepsessies jou siekte vererger of selfs ’n ineenstorting bespoedig deur nie ’n veilige ruimte te bied nie.”

Tog sê sy: “Om met mense te praat wat dieselfde ervaring as jy beleef het, sal jou laat veilig voel met die wete dat jy nie veroordeel sal word nie.” Sy voeg by ’n mens kan uit hul ervaring leer en gerus voel dat jy nie alleen is nie.

“Wanneer jy eers beter voel, kan ’n steungroep jou ook in staat stel om aan medelyers terug te gee – iets wat lonend is en jou dalk die helingsproses help voltooi.”

Talle steungroepe kos niks. Om ’n steungroep te vind wat jou behoeftes die beste pas, bel Sadag se geestesgesondheidslyn.

“Een van ons lekeberaders sal jou situasie beoordeel en ’n geskikte steungroep in jou gebied probeer opspoor,” sê Kayla. 

Hulp is ’n foonoproep ver
  • Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag)-geestesgesondheidslyn: 011-234-4837
  • Sadag-krisislyn: 0800-567-567
  • Cipla-24-uur-geestesgesondheidshulplyn: 0800-456-789
  • Pharmadynamics-polisie-en-traumalyn: 0800-20-50-26
  • Adcock Ingram-depressie-en-angshulplyn: 0800-70-80-90
  • Destiny-hulplyn vir jeugdiges en studente: 0800-41-42-43
  • Departement van maatskaplike ontwikkeling se 24-uur-middelmisbruikhulplyn: 0800-12-13-14 (SMS 32312)
  • Akeso-24-uur- psigiatriese reaksie-eenheid: 0861-435-787