Die toestand kan tot hartkloppings en onreëlmatige hartritme kan lei. 

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, Suid-Afrika se voorste verskaffer van hartmedisyne, beskryf VHS as ’n toestand wat dikwels tydens die vakansie voorkom wanneer mense wat nie aan hartsiekte ly nie ’n onreëlmatige hartritme ervaar nadat hulle swaar gedrink het.

Foto ter illustrasie: pixabay.com

“Die uitwerking van alkohol op die hart hang gewoonlik van jou ouderdom, gesondheid, die volume en die patroon van jou drankgebruik af. Oormatige drankgebruik oor tyd heen kan jou risiko vir beroerte verhoog, die hartspier verswak en dit minder doeltreffend maak om bloed na lewensorgane te pomp.

“Bloeddruk kan ook met elke standaard alkoholiese drankie styg, wat sowat 10 tot 16 g alkohol bevat, afhangend van die drank van jou keuse.

Simptome van VHS

“Vakansiehartsindroom word gewoonlik met die inname van ’n oormatige hoeveelheid alkohol in ’n kort tydperk verbind en kan akute kardiovaskulêre uitwerkings soos hartklop-onreëlmatighede, kortasemheid en borspyn veroorsaak.

“Die uitwerkings is omkeerbaar as jy ophou drink of die hoeveelheid wat jy inneem baie verminder, maar kan ontstellend wees wanneer jy dit die eerste keer ervaar,” sê sy.


Borspyn is een van die simptome wat aan 'vakansiehartsindroom' gekoppel word. Foto ter illustrasie: pexels.com

’n Verband tussen die inname van akute drank en aanvang van ’n onreëlmatige hartritme is die afgelope paar jaar goed gedokumenteer.

Dr. Philip Ettinger het dit in die 1970’s die eerste keer aangemeld toe hy ’n toename in hartritmeversteurings by pasiënte bespeur nadat hulle oor die vakansie kwaai gedrink het.

Alkohol beïnvloed die geleidingsweë van die hart.
 Die meeste van die onreëlmatige hartritmes wat met VHS in verband gebring word, is atriaal van aard. Atriale fibrillasie of AF (wanneer jy hartkloppings, moegheid en kortasemheid ervaar) is die algemeenste, maar atriale fladdering (’n vinnige hartritme van meer as 100 slae per minuut) en ventrikulêre ektopie (wanneer jou hart ’n slag oorslaan) is ook algemeen.   


Jennings sê die werking van VHS word nie ten volle verstaan nie, maar alkohol beïnvloed die geleidingsweë van die hart, wat die ontstaan van atriale fibrillasie verklaar.  

“Wanneer die hart ’n ritme soos atriale fibrillasie ontwikkel, hou die atria op in harmonie saamtrek, wat die hoeveelheid bloed verminder wat deur die hart beweeg. Dit veroorsaak ’n daling in bloeddruk wat tot duiseligheid kan lei, en in reaksie verhoog die liggaam sy hartritme.  

Wat kan jy doen?

“Om ’n ruk lank nie alkohol te drink nie, is gewoonlik die aanbevole behandeling vir VHS, maar dit is die beste om ’n dokter te besoek wat vir ’n gevaarlike daling in bloeddruk of tekens van akute hartversaking sal kyk. Dis beter om altyd oorversigtig te wees wat die gesondheid van jou hart betref,” beveel sy aan.

Foto ter illustrasie: pexels.com