Dis ’n kitsoplossing as jy die trae gevoel wil afskud wat gewoonlik in die namiddag toeslaan. Maar al gee ener­giedrankies jou ’n vinnige hupstoot en kan dit tydelik verstandelike en liggaamlike prestasie verbeter, kom dié hupstoot teen ’n prys.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) gaan so ver as om te sê energiedrankies “hou dalk ’n gevaar in vir openbare gesondheid” weens die moontlike negatiewe uitwerking wat die stimulante daarin op die liggaam het. Voor jy weer na nog ’n energiedrankie gryp, lees eers hier wat dit bevat, hoe dit werk en hoekom jy dit dalk liefs moet vermy.

HOEKOM GEE DIT JOU ’N SKOP?

Die energie-inspuiting wat jy kry, kom van ’n kombinasie van die volgende:

  • groot hoeveelhede suiker;
  • groot hoeveelhede kafeïen;
  • B-vitamiene;
  • ginseng (’n Chinese kruid wat skynbaar welstand verbeter);
  • guarana (van ’n plant wat in die Amasone aangetref word);
  • tourien (’n aminosuur wat in vleis en vis voorkom en wat vir verskeie van die ­liggaam se metaboliese prosesse belangrik is);
  • L-karnitien (’n stof wat in ons liggaam voorkom en wat vet in energie help omsit).

Die grootste stimulerende uitwerking kom van die kafeïen wat, na gelang van die handelsnaam, van 70 tot 180 mg per blik of bottel kan wissel.

Wat suikerinhoud betref, bevat 250 ml van ’n energiedrankie gemiddeld 27,5 g suiker. Dit is gelyk aan ses en ’n half teelepels suiker, wat net meer as die WGO se aanbevole perk van ses teelepels per dag is.

Terwyl guarana, tourien en L-karnitien almal as wettige stimulante beskou word, moet ’n mens in gedagte hou dit word hier saam gebruik. Daarby is die kommer dat “die vitamiene, aminosure en kruiemiddels in energiedrankies dikwels in hoër konsentrasies is as wat dit natuurlik in kos of plante sou voorkom”, sê die Amerikaanse kliniese dieetkundige Katherine Zeratsky. “En die uitwerking word dalk verhoog wanneer dit met kafeïen gekombineer word.”

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Die kafeïen in die energiedrankie stimuleer jou sentrale senustelsel, sê dr. Martina van der Mescht, ’n algemene praktisyn aan die Wes-Rand.

“Die invloed wat dit op die liggaam het, verskil wel van mens tot mens. Dit hang onder meer af van die ouderdom, gewig en algemene gesondheid van die individu, asook die hoeveelhede wat ingeneem word.”

Die positiewe uitwerking is dat dit die boodskappe tussen die brein en die liggaam versterk wat jou wakker en aktief laat voel, en ook jou reaksievermoëns kan verbeter, verduidelik sy. Maar die probleem is die hoeveelheid kafeïen in so ’n drankie wat ’n mens op een slag inneem – en hoe vinnig dit jou daaglikse inname opstoot.

“Sowat 200 mg kafeïen per dag, oftewel drie koppies koffie, word algemeen aanvaar as veilig vir ’n gesonde volwassene.”

WEES VERSIGTIG

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Nog navorsing is nodig om vas te stel presies hoeveel al die bestanddele in energiedrankies met mekaar reageer en watter uitwerking dit op die liggaam het, sê dr. John Higgins, ’n sportkardioloog aan die Universiteit van Texas se sentrum vir gesondheidswetenskap
in Houston.

Wat studies wel getoon het, is dat energiedrankies nie net die hartklop versnel en bloeddruk verhoog nie; dit kan ook die bloed ’n bietjie dikker maak, sê John. Hy voeg by daar was gevalle van mense wat ’n hartstilstand gekry het nadat hulle meer as een energiedrankie gedrink het – en in dié gevalle het toetse niks abnormaals getoon nie buiten baie hoë vlakke van kafeïen en tourien.

Maar ná die opkikkering sal jy gou voel of jy op die punt is om ineen te stort. Hoë dosisse kafeïen kan ook tot hartkloppings, angstigheid, slapeloosheid en rusteloosheid lei.

“Gesonde volwassenes wat kies om energiedrankies te drink, moenie een blikkie per dag oorskry nie,” waarsku Katherine. Dit neem sowat 10 minute vir die kafeïen om in die bloedstroom opgeneem te word en wanneer dit ’n hoogtepunt bereik, begin jou hartklop en bloeddruk styg en voel jy wakkerder.

Maar ná die opkikkering sal jy gou voel of jy op die punt is om ineen te stort. Hoë dosisse kafeïen kan ook tot hartkloppings, angstigheid, slapeloosheid en rusteloosheid lei.

Die hoë suikerinhoud in energiedrankies is iets wat haar veral dwars in die krop steek, sê Susan Fourie, eienaar van die 3D Fitness-­gesondheidsentrum aan die Wes-Rand en beoordelaar by liggaamsboukompetisies.

“Iemand wat net een blikkie per dag drink, kry sowat 10 teelepels suiker daarmee saam. Dit is 70 teelepels (350 g) per week en 1,4 kg suiker elke vier weke. Dit kan nie anders as om ongesond te wees nie.”

WANNEER ENERGIEDRANKIES ABSOLUUT TABOE IS

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Die bemarking van energiedrankies word gewoonlik op jong mense gemik, maar dit is beslis nie vir tieners geskik nie. In die Verenigde Koninkryk word die verkoop van energiedrankies in supermarkte aan jong mense onder 18 jaar verbied. Verkope hiervan aan kinders jonger as 16 word ook in sportsentrums in Skotland verbied. Suid-Afrika het egter nie sulke regulasies nie.

“Geen groot hoeveelhede kafeïen en suiker is goed vir enige kind nie. Die oormaat hiervan in energiedrankies kan onder meer vetsug en tandbederf meebring,” sê Martina.

Studies toon verder energiedrankies veroorsaak veranderings in die brein van adolessente, en hul risiko vir komplikasies is veel groter omdat hul liggaam nog ontwikkel.

VONKELFEIT ’n Ondersoek in 2019 in Amerika het getoon verbruikers van energiedrankies se totale kafeïeninname is aansienlik hoër as dié van niegebruikers en die meeste van hul daaglikse kafeïen kom van dié drankies.

Martina sê sommige ouers dink energiedrankies sal hul kinders beter op skool laat presteer en hul konsentrasievermoë verbeter.

“Maar niks is verder van die waarheid af as dít nie. Dit word ook in mediese kringe aanbeveel dat kinders jonger as 18 se daaglikse kaffeïeninname nie meer as 100 mg per dag mag wees nie.”

Susan stem saam dat kinders ver weg van energiedrankies gehou moet word.

“ ’n Energiedrankie vir ’n kind is so goed soos om vir jou pasgebore baba ’n bottel koffie te gee. Geen ma sal dit mos doen nie,” sê sy.

“Die energiedrankies het ’n negatiewe uitwerking op hul denkvermoë, insulienvlakke en senuweestelsel.”

Sy sê ouers maak ’n fout as hulle dink kinders het dié drankies nodig vir energie.

Dit is ook gevaarlik om energiedrankies met alkohol te meng – iets wat dikwels op partytjies gedoen word sodat die gebruiker meer alkohol kan inneem.

“Hul liggaamstelsels is van so ’n aard aan mekaar gesit dat hulle met die regte en gesonde dieet meer as genoeg voedingswaarde inkry om die nodige energie te verskaf.”

Benewens mense met hartprobleme en kinders jonger as 18, is daar ook ander groepe mense vir wie energiedrankies besonder gevaarlik kan wees, sê John. “Soos vroue wat swanger is, mense met ’n sensitiwiteit vir kafeïen, mense wat nie gereeld kafeïen inneem nie en mense wat sekere medisynes drink, soos Adderall (Concerta) vir aandag­gebreksteuring.”

Dit is ook gevaarlik om energiedrankies met alkohol te meng – iets wat dikwels op partytjies gedoen word sodat die gebruiker meer alkohol kan inneem.

“Energiedrankies stimuleer die senustelsel terwyl alkohol dit onderdruk,” verduidelik Martina. “Jy raak dan dronk, maar ervaar dit nie so nie, wat weer tot ander gesondheidsprobleme lei. 

Die gevare

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Energiedrankies help jou dalk deurdruk, maar dit hou moontlike gevare in, meestal weens die hoë kafeïeninhoud. Dit sluit in:

  • Kafeïenoordosis (wat tot hartkloppings, hoë bloeddruk, naarheid en braking kan lei).
  • Verhoogde risiko vir tipe 2-diabetes – energiedrankies bevat baie suiker en ’n hoë kafeïeninname verminder sensitiwiteit vir insulien.
  • ’n Uitwerking op die neurologiese en kardiovaskulêre stelsel van kinders en adolessente.
  • Swak tandgesondheid.
BRON: NHS.ORG
Die syfers
  • 57 mg Die hoeveelheid kafeïen in ’n koppie kitskoffie.
  • 170 mg Die hoeveelheid kafeïen in ’n 500 ml-blik Monster.
  • 114 mg Die hoeveelheid kafeïen in ’n 335 ml-blik Red Bull.
  • 58 g Die hoeveelheid suiker in ’n 500 ml-blik Monster (11,5 teelepels).
  • 39 g Die hoeveelheid suiker in ’n 335 ml-blik Red Bull (’n bietjie minder as 8 teelepels).
  • 30 g Die maksimum hoeveelheid ­suiker wat ’n mens volgens die WGO daagliks moet inneem (6 teelepels).
  • 168 miljoen Soveel liter energiedrankies drink Suid-Afrikaners in ’n jaar.

BRONNE: EDITION.CNN.COM, HEALTHLINE.COM, THEHEALTHY.COM, THEJOURNAL.IE, MEDICALNEWSTODAY.COM, NHS.ORG, HEALTH24.COM BBC.CO.UK, CHLA.ORG, SA Sports and Energy Drinks Industry Landscape Report 2017