Dit begin onskuldig. Dis dalk ’n pilletjie om die pyn te verdoof of die slaap te laat kom. Môre weer; en die dag daarna.

Die dag daarna sommer twee, en daarna nog meer . . . Af en toe wonder jy dalk of jy die middels misbruik, maar dan kry jy dit weer nodig en probeer van daardie kommer vergeet.

En voor jy weet, drink jy elke dag ’n pil – of sommer ’n paar per dag.

Hoe gebeur dit dat iemand wat ’n doodgewone, eintlik gesonde lewe lei verslaaf raak aan oënskynlik onskadelike medikasie wat jy sommer oor die toonbank kan koop of wat ’n dokter eens voorgeskryf het toe jy dit regtig nodig gehad het?

Vra maar vir Jeanette* – dit gebeur eintlik heel maklik . . .

Die dag in 1994 toe sy tydens ’n staptog saam met vriende langs die Oos-Kaapse kus met rugsak en al by ’n steil, sanderige helling afgly en haar rug beseer, was sy gelukkig dat sy nie in die hospitaal beland het nie.

Min het Jeanette geweet dié besering sou ’n nadraai hê wat 20 jaar ­later amper haar lewe sou eis.

Dit was nie weens die rugbesering dat haar lewe byna in duie gestort het nie, maar weens die pynmedikasie wat sy geleidelik begin misbruik het en waaraan sy later verslaaf geraak het. 

Die skynbaar onskadelike pille wat sy by die apteek gekoop het om haar rugpyn te verdoof het vir haar ’n groter ­gevaar ingehou as daardie val. 

Eers het sy verslaaf geraak aan die kodeïen in die pynpille. En toe, ná sowat twee dekades van oormatige gebruik, het sy weens lewerskade inmekaargesak.

“Dit het baie onskuldig begin. Die dokter het vir my ’n pynpil voorgeskryf. Eers het ek elke dag net twee pille vir die pyn gedrink, maar later het ek gevoel twee is nie doeltreffend genoeg nie. Stadig maar seker het dit ál meer geword,” vertel die 65-jarige handboekskrywer van Kaapstad.

Sy kon dié pille sommer oor die toonbank koop.

“Ek sou elke dag van Seepunt af ver ry, selfs tot in Vishoek, om dit by verskillende apteke te kry. Ek het later goed geweet wie rekord hou (van kodeïen­verkope) en wie nie. As jy verslaaf is, raak jy baie geslepe. Jy gee nie om wat jy moet doen en hoe ver jy moet ry om dit te kry nie; jy sál dit kry. Teen die einde het ek 16 pille per dag gedrink.”

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Wat Jeanette destyds nie geweet het nie, is dat kodeïen – wat in baie nievoor­skrifmedikasie voorkom – nes die dwelm heroïen ’n opiaat is. Dis ’n middel afkomstig van opium, ’n verslawende stof in die papawerplant.

Sy erken sy het later nie meer die pille teen pyn gesluk nie, maar ter wille van die verdowende uitwerking daarvan.

Werkdruk het ook ’n rol hierin gespeel. Haar verslawing het nie net haar gesondheid geknou nie; dit het haar in ’n ander mens verander.

Mettertyd het sy ’n kluisenaarsbestaan begin lei. Soms was sy so aggressief dat sy oor die geringste dingetjie mense oor die foon verskree het.

Ná haar ineenstorting in 2014 weens die skade wat die kodeïen in die pynpille aan haar lewer aangerig het, is sy in die afdeling vir chemiese afhanklikheid van ’n rehabilitasiekliniek in Kaapstad op­geneem.

Daar het sy ernstige onttrekkingsimptome ervaar. 

“Die eerste drie dae het ek dag en nag opgegooi. Ek het gedink ek gaan dood,” onthou sy.

Sy is daarna ’n jaar lank as buitepasiënt in ’n rehabilitasiesentrum in Seepunt behandel.

“Toe ek eindelik skoon was, moes ek met baie mense sake regmaak. Ek het weer die klein dingetjies in die lewe begin geniet.”

Vandag loop Jeanette wye draaie om enige middel wat kodeïen bevat. 

Haar storie is nie uniek nie. Verslawing is ’n slaggat waarin enigeen kan trap wat te maklik na ’n pynpil of -poeier, slaappil of hoesstroop gryp en mettertyd ál gereelder ál groter dosisse daarvan begin drink.

Volgens dr. Nadine Harker, ’n wetenskaplike verbonde aan die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, ly 29,5 miljoen mense wêreldwyd aan dwelmverwante steurings, en ­opiate is die skadelikste middels.

Die kodeïen waaraan Jeanette verslaaf geraak het, val in dié kategorie. Die misbruik van kodeïen is “’n massiewe probleem” in ons land, sê Nadine.

Suid-Afrika verskyn 49ste op die Inter­nasionale Dwelmbeheerraad se ranglys van 193 lande met die hoogste kodeïen-inname.

Die beskikbare plaaslike statisitieke oor die misbruik van medikasie is net die puntjie van die ysberg, meen David ­Bayever, ’n dosent in aptekerswese aan die Universiteit van die Witwatersrand en die voorsitter van die raadgewende liggaam Central Drug Authority.

“Daar word net gekyk na opnames in rehabilitasieklinieke, maar dit is ’n baie klein persentasie van dié wat hierdie medisyne misbruik,” verduidelik hy.

Die omvattendste navorsing hieroor is in 2014 in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal gepubliseer, en dit wys byna 20% van Suid-Afrikaners (een uit elke vyf volwassenes) misbruik middels wat die brein aantas.

‘Mense besef nie kodeïen het dieselfde uitwerking op die liggaam as heroïen nie’

Daaronder tel dinge soos dagga en drank, maar ook pynstillers. En anders as met drank of dwelms kan mense dalk maklik reken medisyne wat sonder voorskrif te koop is, is onskadelik.

Maar selfs iets oënskynlik onskuldigs soos pynpoeier of hoesstroop hou die gevaar in dat dit mettertyd ’n ongesonde gewoonte en eindelik ’n lewensgevaarlike verslawing kan word.

Selfs al spring jy verslawing vry, kan dit weens die skade aan organe soos die niere en lewer dodelike gevolge hê.

Wanneer moet die gevaarligte begin flikker dat daardie medisyne waarna jy gereeld gryp jou eintlik meer kwaad as goed doen? Hoekom is dit gevaarlik, en waar lê die grense vir gebruik?

PYNPILLE

Die aktiewe bestanddele in pynpille wissel van kodeïen en kafeïen, wat verslawend kan wees, tot aspirien en parasetamol, wat nieverslawend is.

“Mense moet die aanwysings op die voubiljet volg,’’ beklemtoon Jackie Maimin, uitvoerende hoof van die Onafhanklike Gemeenskapsaptekers­vereniging.

“Enige pynpil se aanwysings sal vir jou sê jy moet dit nie langer as 10 dae gebruik nie. As jy voel jy moet meer drink, is daar gewoonlik ’n groter probleem wat die pyn veroorsaak en moet jy by ’n dokter uitkom.”

Pynpille en -poeiers met ’n hoë kafeïen­inhoud kan gewoontevormend wees en veroorsaak dat jy daaraan verslaaf raak.

Die langdurige misbruik en oormatige gebruik daarvan kan onder meer tot ernstige lewer- en nierversaking lei, waarsku Jackie, want saam met die verslawende kafeïen kry jy ’n oormaat van die nieverslawende parasetamol of aspirien, en soms albei, in wat jou organe skade kan berokken.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Kodeïen, wat in talle pynpille voorkom, is chemies aan die harde dwelm heroïen verwant, en dit word in die liggaam tot morfien afgebreek.

“Mense besef nie kodeïen het dieselfde uitwerking op die liggaam as heroïen nie,’’ sê David.

“’n Mens ervaar eers ’n gevoel van euforie, gevolg deur ’n dooie gevoel van ontspanning en lomerigheid.”

Anders as heroïen het kodeïen wel medisinale waarde, want dit kan pyn doeltreffend blokkeer.

“Kodeïen is ’n doeltreffende pynmiddel en betreklik veilig, mits daar by die regte dosisse gehou word,” beklemtoon Lorraine Osman, woordvoerder van die Aptekersvereniging van Suid-Afrika.

Die maksimum dosis kodeïen per dag is 80 mg, en dit moenie langer as vyf dae aaneen gebruik word nie.

“Dit het sin, want as jou pyn so lank voortduur, moet jy eerder by ’n dokter uitkom,” voeg sy by.

Wetgewing is in 2016 verander om die gebruik van kodeïen beter te reguleer. Pille wat elk meer as 10 mg kodeïen bevat, is toe verhoog tot ’n skedule 3-medisyne, wat jy net met ’n voorskrif mag koop.

Die klassifikasie van medisyne word onder meer bepaal deur hoe veilig dit is om die middel self toe te dien sonder dat ’n mediese praktisyn jou monitor.

Lorraine waarsku dit is maklik om dosisse te oorskry wanneer ’n mens self medisyne toedien en byvoorbeeld ’n kombinasie van twee middels gebruik wat albei kodeïen bevat.

Die gevaar van selfmedikasie is dat die liggaam vinnig ’n weerstand teen kodeïen opbou. Mense vind dan hulle moet meer daarvan drink om dieselfde uitwerking te kry. Dan kan hulle maklik verslaaf raak, soos wat met Jeanette gebeur het.

’n Oormaat kodeïen is skadelik vir die meeste organe en kan onder meer die longe, lewer en niere aantas. Maagsere en orgaanversaking kan in ernstige gevalle tot die dood lei.

SLAAP- EN KALMEERPILLE

Slaapmiddels is hoofsaaklik voorgeskrewe medisyne; daarom moet die gebruik daarvan deur ’n dokter of psigiater gemonitor word. “’n Mens moet by die voorgeskrewe dosis hou,’’ beklemtoon David.

Dit moet verkieslik nie langer as 21 dae aaneenlopend geneem word nie. Die aktiewe chemiese bestanddeel bensodiasepien, wat meestal in dié middels voorkom, stimuleer die afskeiding van die goedvoelhormone serotonien en dopamien in die brein en veroorsaak ’n gevoel van ver­dowing.

Op lang termyn kan dit ­verslawend wees.

Terwyl slaapmiddels jou laat slaap, word kalmeermiddels gebruik om jou te laat ontspan en angs te verlig. Die chemiese samestelling van dié twee middels stem baie ooreen, sê David.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Natuurlike kalmeermiddels wat van kruie afkomstig is en oor die toonbank te koop is, is nie skadelik of ver­slawend nie.

Tog waarsku David enige middel wat oormatig gebruik word, kan newe-effekte soos hoofpyn en maagprobleme hê; daarom moet die gebruiksaanwysings noukeurig gevolg word.

Al is die meeste slaappille net op voorskrif beskikbaar, is dit bekend dat verslaafdes na verskillende dokters gaan om voorskrifte daarvoor te kry.

Die misbruik daarvan kan lei tot gedragsveranderings soos ­vergeetagtigheid, aggressie, paranoia of agterdog, psigose en slaapveranderings.

David maan die misbruik van slaap- en pynpille gaan dikwels hand aan hand. Wanneer slaappille misbruik word, het dit kwaai hoofpyn tot gevolg, en dít laat jou weer na pynpille met kodeïen gryp, wat ewe verslawend kan wees.

Wanneer jy ál gereelder ál groter dosisse neem vir dieselfde uitwerking, moet gevaarligte flikker

HOESSTROOP

Hoesstroop bevat dikwels alkohol en kodeïen, wat ­verslawend kan wees. Hoesstroop wat meer as 10 mg kodeïen per 5 ml bevat, is ’n skedule 3-medisyne, wat jy net met ’n voorskrif kan koop.

In hoesstroop het ko­­deïen twee funksies: Dit verlig pyn en onderdruk ’n lastige hoes, sê David. Maar ’n mens moet ophou om die hoesstroop te gebruik wanneer die hoes opgeklaar het, voeg hy by.

“As jy ná 10 dae steeds hoes, moet jy by ’n dokter uitkom, want dan is daar waarskynlik ’n ernstiger onderliggende probleem.”

Kenners maan oormatige gebruik ?sal op lang termyn die organe, veral die lewer, beskadig. David maan dit is juis waarom jy die aanwysings op die bottel hoesstroop moet lees en streng gehoor­saam, veral as die stroop alkohol en kodeïen bevat.

Hy benadruk die kombinasie van hoesstroop en ander kodeïenbevattende medisyne, byvoorbeeld pyn- of slaappille, is die groot probleem.

Die meeste nievoorskrif-­medisyne bevat kodeïen, verduidelik hy. As jy dus op een slag verskillende soorte medikasie inneem, kan jy meer kodeïen inkry as wat jy besef.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

“Die probleem is mense maak self diagnoses en skryf vir hulself voor wat hulle dink hulle nodig het en neem onwetend ’n oormaat kodeïen in,” sê David.

Mense moet hulself opvoed, sê ­David. Daar is verskillende soorte hoes­medisyne vir ’n nat en ’n droë hoes, met of sonder alkohol, suiker en kodeïen. Diabete moet veral lig loop vir hoesstrope wat suiker bevat.

Mense moet ook versigtig wees en nie pynpille of anti-inflammatoriese middels wat parasetamol bevat saam met hoesstroop gebruik nie omdat dit reeds in van die strope voorkom.

ANTI-INFLAMMATORIESE MEDISYNE

Ook anti-inflammatoriese medisyne bevat soms kodeïen. Maar verslawing aan dié soort medisyne is minder algemeen omdat dit meestal nié kodeïen bevat nie.

David waarsku egter dat die oormatige gebruik van anti-inflammatoriese middels veral skadelik vir die hart kan wees. Van dié middels is gewild onder vroue om menstruele pyn te verlig.

“Vroue moet by die aanbevole dosis bly en dit net vir die vyf tot sewe dae gebruik terwyl hulle menstrueer. As dié middels nie verligting bring of die simptome laat opklaar nie, kan dit dui op ’n ernstiger probleem.”

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

Hy waarsku baie mense sluk dié soort pille sonder om vas te stel wat die eintlike oorsaak van hul pyn is.

“Niemand hou van pyn nie, en veral anti-inflammatoriese medisyne word dikwels vir allerhande soorte pyn gebruik; so word die ware rede vir die pyn verdoesel. Die ergste hiervan kan kanker wees.”

As jy gedurig pyn verduur, moet jy ’n dokter raadpleeg. Wanneer anti-inflammatoriese middels en pynpille saam gebruik word en albei bevat kodeïen, loop jy ook gevaar om te veel daarvan in te kry.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

As jy ’n anti-inflammatoriese middel met kodeïen gebruik, is dit die beste om dit met ’n pynpil te kombineer wat parasetamol bevat, maar geen ko­­deïen nie.

  • * Skuilnaam. 
WANNEER EN WAAR SOEK EK HULP?

Verslawing aan medisyne kan ’n onskuldige oorsprong hê, soos wanneer jy pynpille ná ’n ernstige besering begin gebruik of soms ’n slaappil neem om jou aan die slaap te sus.

Baie mense is nie bewus van die gevare wat in oënskynlik onskuldige medisyne kan skuil as dit gereeld of op lang termyn gebruik word nie, sê Quintin van Kerken, uitvoerende hoof van The Clear Option, ’n organisasie wat hom teen middelmisbruik beywer.

As jy ervaar dat jy ál gereelder of ál groter dosisse moet neem om dieselfde uitwerking te kry, moet die gevaarligte begin flikker.

Nog ’n waarskuwingsteken is as jy ’n middel begin drink om ’n ander rede as waarvoor dit eintlik bedoel is.

Pleks daarvan dat dit byvoorbeeld jou fisieke pyn moet verlig, moet dit jou help om jou daaglikse lewe te hanteer.

“Mense ervaar spesifiek die medisyne wat kodeïen en alkohol bevat, is ’n goeie hanteringsmeganisme om van hul een­same, ongelukkige, stresvolle lewe te ontsnap, juis omdat dit hulle afgestomp laat voel,’’ verduidelik Quintin.

Baie mense raak veral ná traumatiese gebeure verslaaf aan medisyne wat ’n verdowende uitwerking het, soos kodeïen­bevattende pynpille of die bensodiasepien in slaap- en kalmeermiddels.

“Wanneer jy ophou om dit gebruik, voel jy weer die emosionele pyn,” verduidelik Susan van Niekerk, kliniese bestuurder van die Elim-rehabilitasiekliniek in Kempton Park.

Omdat sielkundige faktore soms ’n rol by gereelde misbruik of verslawing speel, is dit baiekeer moeilik om daaruit los te breek.

Daarvoor is langtermynrehabili­tasie dikwels nodig.

Weens die onttrekkingsimptome is dit moeilik om jou op eie houtjie van dié soort verslawing te rehabiliteer, sê Susan.

Pasiënte by Elim word vir minstens 21 dae opgeneem en word stelselmatig gespeen terwyl hulle ook fisieke, sielkundige en emosionele be­­handeling ontvang.