Jy is meer buierig as gewoonlik, die geringste dingetjie is genoeg om jou te laat grens, jou rug pyn en jy voel sommer net moeg. Selfs jou man en kinders praat al saam oor hoe dit weer “daai tyd van die maand” is. (Hulle behoort van beter te weet.)

Maar wat gebeur met jou lyf wanneer jy premenstruele sindroom, oftewel PMS, ervaar?

Wanneer is die simptome tekens van iets ernstigers? En wat kan jy doen om dié tyd draagliker te maak?

Ons het by ’n paar kenners gaan aanklop vir raad.

Wat is PMS?

PMS kom in die laaste fase van jou menstruele siklus voor. Dié siklus is gemiddeld 28 dae lank en begin op die eerste dag van menstruasie (dag 1).

Deur die hele siklus maak ’n vrou se liggaam gereed vir swangerskap, verduidelik dr. Munovar Gaffoor, ’n ginekoloog by die Life Flora-hospitaal aan die Wes-Rand.

Teen min of meer dag 14 ovuleer jy – jou liggaam stel ’n eiersel vry – wat lei tot ’n styging in die vlakke van hormone soos progesteroon en estrogeen. As die eiersel nie bevrug word nie, val die hormoonvlakke weer teen min of meer dag 22.

Dit is tydens dié afname in hormoonvlakke dat jy PMS sal ervaar. Die daling veroorsaak eindelik menstruasie – jou baarmoeder wat van sy voering ontslae raak – en die hele siklus begin weer van voor af.

Aangesien PMS ná ovulasie voorkom en vroue wat nie ovuleer nie gewoonlik nie PMS ervaar nie, weet medici dat die sindroom iets met die hormoonveranderings in die tweede helfte van die menstruasiesiklus te doen het, verduidelik dr. Ina Faber, ’n afgetrede ginekoloog van Bloemfontein.

Maar die presiese oorsaak daarvan is onbekend.

“Ander moontlike faktore sluit ’n tekort aan die goedvoelhormoon serotonien in die brein en tekorte aan voedingstowwe soos kalsium en magnesium in, terwyl genetiese faktore ook ’n rol kan speel,” sê sy.

Een studie het verder bevind dat vroue wat kwaai mishandeling – fisiek, emosioneel of seksueel – ervaar het toe hulle jonk was meer geneig is om erge simptome te ontwikkel.

Wat is die simptome?

PMS word gekenmerk deur ’n kombinasie van simptome wat uitsluitlik in die week of twee voor menstruasie begin voorkom, verduidelik Ina.

“Dié simptome verbeter gewoonlik binne 24 uur nadat menstruasie op die eerste dag van die 28-dag- menstruele siklus begin het,” sê sy.

Daar is ’n magdom opgetekende simptome van PMS, verduidelik Ina, waarvan die algemeenste klagtes geïrriteerdheid, woede, depressie, moegheid, rugpyn en hoofpyn is.

Party vroue kla ook dat menstruasiepyn – ongemak of krampe in die laer buik – al voor menstruasie begin.

Die simptome kan breedweg in vyf kategorieë verdeel word 

  • Angssimptome, wat slaapprobleme, spanning en ’n wisselvallige gemoed insluit.
  • Drangsimptome, waar jy baie lus is vir veral soet- of soutgoed.
  • Depressiesimptome soos huilerigheid, gevoelens van woede sonder enige rede of sommer net omgekraptheid.
  • Vogoormaatsimptome soos gewigstoename, ’n opgeblase gevoel oor jou buik, seer borste en geswolle ledemate.
  • Ander simptome soos moegheid, ’n verandering in dermfunksie, die behoefte om kort-kort te urineer, aknee, warm gloede of koue sweet en naarheid.

Onthou dat nie elke vrou presies dieselfde simptome en graad van simptome op een slag ervaar nie, sê Munovar.

“Elke vrou se hormoonvlakke verskil en elke vrou se liggaam reageer anders op die hormone.”

Vroue met endometriose en in die peri-menopousefase (gewoonlik tussen die ouderdom van 38 en 45 jaar voor menopouse intree) ervaar baie erge PMS-simptome.

Wanneer die menopouse intree en geen eierselle meer vervaardig word nie, verdwyn PMS-simptome ook.

By ’n handjievol vroue is die simptome so erg dat dit as premenstruele disforiese steuring (PMDS, sien kassie) bekendstaan, sê Ina.

“As die simptome aanhou of onmiddellik ná menstruasie reeds weer begin is dit nie PMS nie en moet jy en jou dokter na ’n ander moontlike rede vir die simptome soek.”

Hoe word dit behandel?

Die behandeling sal verskil van vrou tot vrou en hang af van die simptome wat jou die meeste pla, sê Ina.

“Party vroue doen goed met ’n hormoonpil wat ovulasie onderdruk en die siklus stabiliseer, terwyl ander beter reageer op gemoedstabiliseerders vir erge emosionele simptome,” sê sy.

Vir vogoormaatsimptome kan ’n diuretikum voorgeskryf word, en as jy voor menstruasie al las het van krampe, kan ibuprofen of ’n soortgelyke middel wat keer dat prostaglandiene (hormoonagtige stowwe wat menstruasiepyn veroorsaak) vorm, help.

Bespreek jou simptome met jou ginekoloog om die beste behandeling vas te stel.

Dr. Hannah Norton, ’n homeopatiese doktor van Midrand, Johannesburg, wat op die gebied van alternatiewe medisyne spesialiseer, verduidelik dat sy na die dieper oorsaak van hormoonwanbalanse kyk en alternatiewe medisyne en rate voorskryf om dit natuurlik te behandel.

“Alle vroulike hormone word in die lewer afgebreek, en as daar ’n onderbreking of ontwrigting in die proses is, veroorsaak dit ’n wanbalans.

“Dit is dan vir my belangrik om die lewer te ontgif deur middel van ’n spesiale dieet – om byvoorbeeld suiwelprodukte en vleis uit te sny wat hoë vlakke estrogeen bevat,” sê Hannah.

Wat kan ek self doen?

Hou dagboek 

Teken jou siklus en simptome aan sodat jy kan bevestig dat jou simptome net voor menstruasie voorkom.

Oefen en slaap genoeg

Om te draf, ’n bietjie donkersjokolade te eet of f
Om te draf, ’n bietjie donkersjokolade te eet of framboostee te drink kan verligting bring wanneer ’n vrou met erge premenstruele sindroom sukkel.

“Ligte en gereelde oefening help dikwels – stap, draf, swem of ry fiets so 30 minute elke dag as jy kan,” sê Ina. Dit stel goedvoelhormone vry wat die PMS-simptome kan teenwerk.

“En slaap help vir alles!”

Eet reg

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

As jy met kosdrange sukkel, beveel Ina vier tot ses kleiner ligte maaltye per dag aan.

Probeer sout, kafeïen, alkohol en suiker vermy omdat dit die simptome kan vererger. ’n Bietjie donkersjokolade kan dalk help – mits jy by net twee blokkies kan hou, maan Ina.

Hannah raai vroue aan om meer kruisdraende groente soos broccoli, blomkool en kool te eet. “Dis ryk aan sulforafane, wat help met die detoksproses van estrogeen in die lewer,” sê sy.

Verander jou leefstyl

Rokers en mense wat erg oorgewig is, het ’n groter risiko vir PMS as nierokers en dié met ’n normale gewig, sê Ina.

Toets ontspanningstegnieke

Iets soos ’n jogasessie of ’n massering kan dalk jou simptome verlig.

Behandel die krampe self

Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images
Foto ter illustrasie: Gallo Images/Getty Images

’n Koppie warm framboostee of badwater met epsomsout help met krampe en pyn, sê Hannah.

Praat met jou maat

“Maak seker jou maat verstaan hoe ’n vrou se liggaam werk en dat PMS ’n werklike toestand is en nie net ’n verskoning vir ‘moeilik wees’ nie,” sê Ina.

“Mans moet ook weet die simptome van PMS is nie hul skuld nie en dat hulle nie moet weghardloop van die probleem nie.”

Sy beveel aan dat julle ’n app aflaai wat inligting oor jou siklus gee sodat julle albei weet waar in die siklus jy nou is. 

Wat is premenstruele disforiese steuring?
Premenstruele disforiese steuring (PMDS) is ’n veel erger vorm van PMS wat vier uit elke 100 vroue raak, en die meeste vroue is onbewus van dié toestand se bestaan, sê dr. Bavi Vythilingum, ’n psigiater van Kenilworth in Kaapstad en ’n kenner op die gebied van PMDS.
Simptome sluit erge depressie of angs in en is erg genoeg dat dit die pasiënt se funksionering by die werk, lewe by die huis en selfs hul verhoudings kan beïnvloed. “Die simptome word gekenmerk deur gevoelens van erge irritasie en ’n algehele gebrek aan motivering. Sommige vroue het selfs selfdoodneigings,” sê Bavi.
Nes PMS begin PMDS-simptome ’n week tot twee weke voor menstruasie en kan dit tot in die eerste week van die nuwe menstruele siklus voortduur, verduidelik sy.
“As dit langer as ’n week in jou nuwe siklus aanhou, is dit waarskynlik wel nie PMDS nie, maar moontlik ’n ander angs- of gemoedsteuring.”
Bavi kan al met die eerste besoek PMDS voorlopig diagnoseer op grond van wat die pasiënt haar vertel, maar versoek pasiënte om tog minstens drie maande lank ’n gedetailleerde dagboek van hul siklus te hou om die diagnose te bevestig.
PMDS word gewoonlik met antidepressante behandel, wat selfs net gedurende daardie periode in die maand gebruik kan word terwyl die simptome ervaar word.
As jy vermoed jy ervaar PMDS-simptome en jou ginekoloog se voorgestelde PMS-behandelings werk nie, moet jy ’n psigiater of ginekoloog met ’n spesifieke belangstelling in PMDS gaan sien.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.