Nelson Mandela, emeritus aartsbiskop Desmond Tutu, Ben Stiller, Robert de Niro en sir Roger Moore is almal om verskillende redes beroemd, maar hulle het een ding gemeen: Hulle almal het prostaatkanker gehad of het dit steeds.

Dié siekte tref miljoene mans in alle wêrelddele; tog is dit in baie gevalle nie lewensgevaarlik nie.

Maar skokkende nuwe statistieke toon die syfers is aan die styg – en mans moet ernstig kennis neem.

Prostate Cancer UK, ’n liefdadigheidsorganisasie in Engeland, Wallis en Skotland, het onlangs kommerwekkende statistieke uitgereik wat daarop dui meer mans sterf elke jaar daar aan dié siekte as vroue aan borskanker.

“Dit beteken dit is nou die derde algemeenste kanker waaraan mans sterf, naas long- en dermkanker,” het die navorsers bevind.

Brittanje se ouerwordende bevolking en ’n gebrek aan belegging en navorsing is blykbaar die grondoorsaak van die toename in sterftes daar aan prostaatkanker.

Die siekte het onlangs die lewe van die Suid-Afrikaanse jazzlegende Hugh Masekela geëis en Madiba het op 83 jaar daarteen gestry en dit geklop.

Maar die afgetrede aartsbiskop worstel steeds daarmee en moes al talle chirurgiese prosedures ondergaan vir herhalende ontsteking wat met die siekte verband hou.

Prostaatkanker in SA

Die Nasionale Kankerregister van 2013, waarin die jongste statistieke vasgelê is, raam een uit 18 Suid-Afrikaanse mans sal prostaatkanker kry.

Die data toon die siekte is in 2013 by 6 778 mans gediagnoseer. Dit is waarskynlik nou hoër, want prostaatkanker word algemener.

Intussen probeer dokters vasstel hoekom dit so is, sê prof. Michael Herbst, ’n gesondheidspesialis van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa).

“Dit word ook algemener onder jong mans, maar ons weet nie wat die oorsaak is nie.”

Volgens hom sterf sowat vyf mans elke dag in Suid-Afrika aan prostaatkanker.

Wat is die behandeling?

Dit hang van ’n pasiënt se ouderdom en die stadium van die kanker af, sê die Kansa-woordvoerder Lucy Balona. Behandeling sluit dikwels chirurgie, bestraling, chemoterapie en ’n prostatektomie (waartydens die prostaat gedeeltelik of heeltemal verwyder word) in.

Die moontlike newe-effekte van ’n prostatektomie is onder meer inkontinensie, impotensie, ’n “gekrimpte” penis en “droë” orgasmes (sonder ejakulasie).

Lucy sê mits prostaatkanker vroeg gediagnoseer en behandel word, is die prognose dikwels goed.

‘Dis die derde algemeenste kanker waaraan mans sterf’

Maar as dit onbelemmerd na ander dele van die liggaam versprei, “word die behandeling ingewikkelder en die prognose mettertyd slegter”, maan Michael.

“ ’n Mens kry verskillende soorte prostaatkanker en party is aggressiewer as ander.” Die algemeenste soort is asinêre adenokarsinoom, waar kwaadaardige gewasse ontwikkel in die klierselle wat die prostaatklier uitvoer.

Hy sê elke individu is uniek; dit is dus onmoontlik om vergelykings te tref of te veralgemeen.

Wat is die grootste risikofaktore?

  • Ouderdom: Mans bo 40 loop gevaar, en die risiko verhoog vinnig ná die ouderdom van 50.
  • ’n Dieet met volop rooivleis (meer as 300 g drie of meer keer per week) en ’n hoë vetinname.
  • Die teenwoordigheid van die BRCA1- en BRCA2-geenmutasie. BRCA-gene vervaardig proteïene wat gewasse onderdruk, beskadigde DNS help herstel en ’n rol daarin speel om die stabiliteit van elke sel se genetiese materiaal te verseker. Wanneer een van die twee gene muteer of verander word, vervaardig dit nie behoorlik proteïene nie en word DNS-skade nie herstel nie, wat tot kanker kan lei.
  • ’n Gebrek aan oefening.
  • ’n Familiegeskiedenis van prostaatkanker.
  • Vetsug.
  • Oormatige drankverbruik.

Kan dit voorkom word?

’n Gebalanseerde leefstyl en gereelde ondersoeke is noodsaaklik om die risiko vir die ontstaan en terugkeer van die siekte te verlaag, sê Lucy.

“Van die risikofaktore kan nie beheer word nie, soos familiegeskiedenis en ouderdom.”

Maar ander kan verklein word mits jy ’n gebalanseerde eetplan volg, ’n gesonde gewig handhaaf, nie rook nie, matigheid voor oë hou wat drank betref en gereeld oefen.

Wat behels ’n ondersoek?

Sifting word met ’n bloedtoets uitgevoer om enige prostaatabnormaliteite te bespeur. Dis beskikbaar by alle Kansa-sorgsentrums landwyd, sê Lucy.

Dit toets vir die prostaatspesifieke antigeen (PSA), ’n proteïen wat deur die prostaat vervaardig word. ’n Hoë PSA-vlak in die bloed kan ’n teken wees van ontsteking of kanker van die prostaat.

’n Ondersoek van die rektum word ook dikwels uitgevoer. Dit behels dat ’n mediese praktisyn ’n vinger, wat met ’n handskoen en smeermiddel bedek is, by die rektum insteek en vir knoppe of ander abnormaliteite voel.

Kansa beveel aan dat mans bo 40 elke jaar hul bloed laat toets en die ondersoek ondergaan, veral in geval van ’n familiegeskiedenis van kanker.

Wat is dit – en wat is die simptome?

Prostaatkanker ontwikkel weens ’n kwaadaardige gewas in die prostaatklier, wat van die vloeistof in semen vervaardig en ’n rol in urinebeheer speel.

Party prostaatkankers kan jare lank onopgespoor bly. Volgens die Kansa-woordvoerder Lucy Balona het prostaatkanker aanvanklik dikwels geen simptome nie.

In gevorderde stadiums lei dit tot moeite om te urineer, urine wat lek, bloederige urine en beenpyn.

Nog simptome sluit in:

  • gereelde urinering, veral snags;
  • ’n skielike, dringende behoefte om te urineer;
  • ’n urinestroom wat begin en ophou;
  • pyn in die buik, lies of lae rug;
  • pyn of ongemak in die penis of testikels;
  • pynlike ejakulasie;
  • griepagtige simptome;
  • erektiele disfunksie; en
  • bloed in semen.

Bekendes wat ’n stryd teen prostaatkanker gevoer het

Ben Stiller (52) het in 2016 gesê hy is kankervry nadat prostaatkanker in Junie 2014 op 48 jaar by hom gediagnoseer is.

“Dis ’n heel nuwe wêreld en jy moet jouself opvoed. Vir my was dit om vas te stel wat die opsies is.”

Ben Stiller. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Robert de Niro (74) het in 2003 gehoor hy het die siekte en is daarvoor behandel. Luidens berigte is sy pa, die skilder Robert de Niro sr., in 1993 op 71 aan kanker oorlede.

Robert de Niro. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die James Bond-legende sir Roger Moore is verlede jaar ná ’n kort kankerstryd in die ouderdom van 87 oorlede. “Reeds in 1993 het hy chirurgie ondergaan om sy prostaat te verwyder,” het ABC News berig. “Hy het in onderhoude gesê die kanker het sy lewe verander.”

Sir Roger Moore. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die akteur Stephen Fry (60) het in Februarie bekendgemaak die “aggressiewe klein swernoot” is einde 2017 by hom gediagnoseer en hy het sy prostaat laat verwyder.

“Kanker is iets wat in jou kop bly maal,” het hy vertel.

Stephen Fry. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Die akteur Sidney Poitier (90) het in Junie 1993 ná vier biopsies ’n prostaatoperasie ondergaan.

Toe die nuus oor Robert de Niro se prostaatstryd bekend word, het Sidney hom kort daarna bemoedig: “Ek verneem dis vroeg by hom opgespoor; dus is sy kans uitstekend.”

Sidney Poitier. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Talle Suid-Afrikaners is in rou gedompel oor die musieklegende Hugh Masekela, wat in Januarie op 78 jaar oorlede is.

Hy het kankerbehandeling ondergaan vandat dokters in 2008 ’n klein “vlekkie” aan sy blaas ontdek het.

Hugh Masekela. Foto: Gallo Images/ Getty Images.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu (86) is al meermale in die hospitaal opgeneem vir herhalende infeksie weens vorige behandeling vir prostaatkanker, het News24 berig. Hy leef al amper 20 jaar met dié siekte saam.

Emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu. Foto: Gallo Images/ Getty Images.
Bronne: KANSA, Prostate Cancer UK, The Guardian, Medical News Today