Sy onthou nog hoe geskok sy was toe sy op 28 die nuus kry sy het ’n sindroom met ’n naam wat sy op daardie tydstip nie eens verstaan het nie. Al was sy verward, het sy op dié dag dadelik besef sy is op haar jong ouderdom gevaarlik ongesond.

Die TV-ster Lalla Hirayama (31), wat veral as aanbieder van M-Net se Lallaland in kykers se hart ingekruip het, het gehoor sy het hoë cholesterol, wat ’n risiko vir hartsiektes skep, én sy is insulienweerstandig, wat tot diabetes kan lei.

Die oorsaak?

Die hormonale wanbalans polisistiese ovariale sindroom (PSOS). Hoewel die toestand eers drie jaar gelede by haar gediagnoseer is, het sy agterna besef die simptome het reeds in haar tienerjare begin kop uitsteek.

Sy het soms puisies gekry, haar kopvel was olierig, die hare op haar kop het dikwels uitgeval, op ander ongewenste plekke aan haar lyf het hare begin groei, sy het angstig en buierig gevoel en snags met vreemde kosdrange wakker geskrik.

En in ’n stadium het sy ses maande lank nie haar maandstonde gekry nie. Baie van dié simptome is nie ongewoon tydens adolessensie nie, maar toe sy op 28 nog daarmee sukkel, het sy by ’n endokrinoloog gaan aanklop.

Die bloedtoetse het aangedui sy het PSOS. Ses maande lank het Lalla verskillende soorte voorskrifmedikasie gebruik, maar las gehad van newe-effekte.

Daarna het sy ander behandelings probeer en eindelik agtergekom ’n gesonde leefstyl met natuurlike aanvullings werk vir haar die beste.

“Ek maak seker ek slaap genoeg, oefen daagliks en bestuur my stresvlakke,” vertel Lalla. “Ek kry gereeld my maandstonde en die aknee is weg.” Die kosdrange, buierigheid en haarverlies is ook iets van die verlede.

“Om die toestand te identifiseer, te verstaan en te takel het my hele lewe verander,” sê Lalla.

“PSOS beïnvloed nie net jou liggaam nie, maar ook jou selfbeeld. Dis uitputtend en gaan hand aan hand met depressie, buierigheid en angstigheid. Baie mense hou hul lyf dokter en gee raad oor wat jy moet doen wanneer jy kosdrange ervaar, en jy loop deur onder snedige opmerkings oor die liggaamlike veranderings wat plaasvind.”

Maar noudat sy self die werklikheid van haar hormonale wanbalans verstaan, weet sy beter hoe om dit te bestuur.

“Ek het beheer oor my lewe teruggekry en voel nou bemagtig, sterk en selfversekerd.”

Wat is PSOS?

PSOS is ’n hormonale wanbalans wat vroue in hul vrugbare jare beïnvloed.

Dis nie ’n siekte met ’n enkele kenmerk nie, maar ’n versameling siektetoestande wat die eierstokke en ovulasie beïnvloed, verduidelik dr. Johan van Schouwenburg, ’n spesialis in reprodukiewe geneeskunde aan die Medfem Fertility Clinic in Johannesburg.

“Die hormoonwanbalans kan ’n vrou se menstruele siklus ontwrig, wat dit ook moeilik maak om swanger te raak,” verduidelik hy oor die toestand wat by tussen 2 en 27% van vroue voorkom.

Tog is sowat 70% van PSOS-lyers onbewus daarvan dat hulle dit het, voeg dr. Lizle Oosthuizen, ’n vrugbaarheid-spesialis by die Cape Fertility Clinic in Kaapstad, by.

Vroue raadpleeg dikwels eers ’n dokter wanneer hulle probleme het om swanger te raak en ontdek dan hulle het PSOS. Dr. Marcus Faesen, ’n vrugbaarheidspesialis by die Holistic Assisted Reproduction Clinic in Kaapstad, sê daar kan verskeie tekens wees dat jy PSOS het.

Hieronder tel die volgende drie:

  • Ongereelde of afwesige maandstondes.
  • ’n Verhoogde vlak van manlike hormone (androgene), wat met bloedtoetse vasgestel kan word.
  • Eierstokke wat ongewoon lyk, dikwels met veelvuldige siste daaraan. Dit kan met ’n ultraklankskandering waargeneem word. ’n Diagnose word gewoonlik gemaak as minstens twee van dié drie kenmerke teenwoordig is, maar ander simptome moet ook deur jou dokter ondersoek word om die toestand te bevestig, sê Lizle. In die verlede is PSOS dikwels by vroue gediagnoseer as ’n ultraklankskandering gewys het hul eierstokke is vol veelvuldige klein siste, ook bekend as polisistiese ovaria, sê Marc. Maar hoewel dié kenmerk algemeen in PSOS is, is dit nie altyd die geval of ’n bewys van die toestand nie. Jy kan PSOS hê sonder dat jy siste het, of andersom. “Dit is nie ’n toestand van veelvuldige siste aan die eierstokke nie,” sê Lizle. “Talle PSOS-pasiënte is paniekerig dat hulle siste het, maar dis ’n wanopvatting en net deel van die benaming.”

Wat is die simptome van PSOS?

  • ’n Ongewone of afwesige menstruele siklus. Baie vroue met die toestand menstrueer net drie tot vier keer per jaar.
  • Olierige vel en aknee.
  • Buitengewone haargroei soortgelyk aan ’n man s’n, soos onder die ken, aan die bolip, borste of laer buik.
  • Haarverlies, soortgelyk aan dié by mans wat bles raak. SDonker vlekke kan op dele van die vel vorm.
  • Die hormoonveranderings maak hoofpyn algemeen.
  • In swangerskap is verskeie komplikasies algemeen, soos verhoogde bloed-suiker en swangerskapsdiabetes.
  • Tekens van metaboliese sindroom, soos oorgewig, hoë cholesterol, insulienweerstandigheid en tipe 2-diabetes.
  • Depressie en angstigheid is algemeen, hoofsaaklik weens die fisieke voorkomsverandering en die uitdaging om swanger te raak. Die toestand raak op verskillende maniere sigbaar en nie alle vroue sal dieselfde simptome toon nie, beklemtoon Lizle. Daar is ’n algemene wanopvatting dat alle vroue met PSOS gewig aansit of harig word, maar die diagnose beteken nie noodwendig dit gaan gebeur nie.

Wat veroorsaak PSOS?

Daar is onsekerheid oor die oorsaak. Dit is vermoedelik geneties van aard, maar dit kon nog nie bewys word nie, sê Lizle. Volgens Johan weet dokters daar is by vroue met PSOS ’n versteuring in die verhouding tussen twee hormone wat ovulasie beheer.

Die betrokke hormone is die follikelstimulerende hormoon (FSH) – wat die eiertjie stimuleer om tot volwassenheid te groei – en die luteïniseringshormoon (LH) – wat veroorsaak dat die follikel bars en die volwasse eiertjie vrystel.

“Normaalweg is die FSH-vlakke hoër as die LH-vlakke, maar by PSOS is die verhouding omgekeerd. Die gevolg is abnormale hormoonvlakke, ’n gebrek aan ovulasie en die toename in manlike hormone.”

Daarby kom insulienweerstand, ’n geneties gekoppelde toestand, by sowat 90% van PSOS-pasiënte voor, sê Johan. Insulien sorg dat daar genoeg glukose in liggaamselle is sodat die selle hul funksie goed kan uitvoer.

Indien die insulien nie voldoende glukose kan verskaf nie, ontstaan insulienweerstand en werk die selle nie optimaal nie.

Insulienweerstand maak pasiënte moeg, lus vir soetgoed en oorgewig, verduidelik Johan, en dít lei tot mediese toestande wat met PSOS verbind word – onder meer ’n toename in manlike hormone, verhoogde bloeddruk, verhoogde cholesterol en tipe 2-diabetes.

‘Sekere leefstylveranderings help om simptome te verlig’

Waarom behandeling?

As ’n vrou nie gereeld menstrueer nie, is daar ’n groter kans dat sy in haar 40’s of 50’s baarmoederkanker kan ontwikkel, waarsku Lizle.

Gedurende ’n normale menstruele siklus verdik die hormoon estrogeen die baarmoedervoering (endometrium) om vir swangerskap voor te berei. As ’n vrou nie swanger raak nie, daal haar estrogeenvlakke weer en die verdikte baarmoedervoering word uitgewerp in die vorm van menstruele bloeding, verduidelik Johan.

“As jy vir ’n lang tyd nie elke maand ovuleer nie, verdik die baarmoedervoering mettertyd en verhoog so die risiko vir endometriumkanker.”

Weens die langtermyngesondheidsrisiko’s van PSOS, soos hartsiektes en diabetes, is dit belangrik om dit te behandel, sê Marc.

Watter behandeling is daar?

Die onbekende oorsprong maak dit moeilik om vas te stel of PSOS voorkom kan word, sê Marc, maar die toestand se verskeie simptome kan wel behandel word.

“Ons weet sekere leefstylveranderings help om simptome te verlig. Vroue met PSOS wat oorgewig of vetsugtig is, kan ’n verbetering ervaar deur hul liggaamsmassa-indeks te verminder.”

Die verlaagde liggaamsgewig lei dikwels tot die normalisering van pasiënte se insulienvlakke, ’n reuseverbetering in hul ovulasietempo en die spontane herstel van maandstondes. “

’n Verlies van 5 tot 10% liggaamsgewig kan ’n drastiese verskil maak,” voeg Lizle by.

Sy beveel ’n dieet met ’n verlaagde suiker- en koolhidraat-inname aan. Voorskrifmedikasie vir tipe 2-diabetes, soos Metformin, word in die behandeling van PSOS gebruik om insulienvlakke te verbeter, verduidelik Johan. Voorbehoedpille kan maandstondes reguleer en meer gereeld maak.

“’n Pasiënt met aknee en oormatige of ongewenste haargroei kan spesifieke voorbehoedpille gebruik om die manlike hormoonvlakke te verlaag,” sê Johan.

Laserbehandeling is ’n opsie om ongewenste haartjies permanent te verwyder. Vroue wat wil swanger raak, word aangeraai om ’n vrugbaarheidspesialis te raadpleeg, want daar is verskillende behandelings beskikbaar wat vroue met PSOS kan help om wel swanger te raak.

Dit sluit in medikasie om ovulasie aan te moedig; inspuitings van die follikelstimulerende hormoon; ’n laparoskopieprosedure waar ’n laserstraaltjie gebruik word om normale ovulasie te herstel; en in vitro-bevrugting, ’n laboratoriumprosedure waar manlike sperma saam met ’n eiersel in ’n laboratoriumbakkie geplaas word sodat bevrugting kan geskied – die bevrugte embrio word dan in ’n vrou se uterus teruggeplaas.

Deur die simptome van PSOS te behandel kan ’n vrou se lewensgehalte drasties verbeter word, sê Marc. “En as ’n vrou wil swanger raak, is dit ook in die meeste gevalle moontlik.”

Johan beaam: “As die simptome reg bestuur word, kan ’n mens baie regkry.” 

Kom neem deel aan die gesprek