Die deursneevrou het in haar menopouse las van sewe simptome, onder meer warmgloede, nagsweet, slaaploosheid en gemoedskommelinge, het ’n peiling deur die Britse Vereniging vir Menopouse (BVM) getoon.

Byna die helfte van die vroue het gesê die menopouse-simptome is erger as wat hulle verwag het. Tog het die helfte erken hulle het nie ’n dokter geraadpleeg nie. Boonop het meer as ’n derde van die vroue gesê hulle voel hul menopouse is iets wat hulle net moet “verduur”.

Dit bekommer die BVM dat vroue raad misloop oor leefstylveranderinge wat hul simptome kan verlig. Hulle sê ook weens blywende wanindrukke weet bitter min mense watter behandeling en steun vir hulle beskikbaar is.

’n Algemene wanopvatting is dat die menopouse bloot ’n paar warmgloede is, maar in werklikheid kan dit ander probleme vir vroue veroorsaak, het dr. Heather Currie by die vereniging se jaarkonferensie gesê.

Lees ook: Dis wat sal help om daai kankerstokkie vir goed dood te druk

“Vroue voel dikwels magteloos, want hulle glo daar is beperkte behandelingskeuses en steun beskikbaar, en die vrese en wanopvattings het van geslag tot geslag voortgeduur,” het Heather volgens die Daily Mail van Brittanje gesê.

Wat is die menopouse?

Dit verwys na die tyd in elke vrou se lewe wanneer haar maandstonde ophou en haar eierstokke hul voortplantingsfunksie verloor. Dit gebeur gewoonlik tussen die ouderdom van 45 en 55 jaar en in Brittanje is die gemiddeld 51 jaar. In uitsonderlike gevalle kan vroue die menopouse in hul 30’s ervaar.

Wat veroorsaak die menopouse?

Dit word veroorsaak deur ’n verandering in hormoonvlakke. Namate vroue ouer word, vervaardig hul eierstokke minder van die hormoon estrogeen en stel dit nie meer elke maand ’n eier vry nie. Dit veroorsaak dat die liggaam anders optree, maar estrogeenvervaardiging hou nie oornag op nie; die proses kan verskeie jare duur waartydens die simptome geleidelik kan toeneem.

Algemene simptome

Volgens Brittanje se nasionale gesondheidsdiens sal die meeste vroue simptome van die menopouse ervaar. Die simptome kan maande of selfs jare voor hul maandstonde ophou, begin en voortduur tot sowat vier jaar ná hul laaste maandstonde, hoewel party vroue dit veel langer ervaar.

Lees ook: Vrou kap weens rare kwaal om as ’n deur klap

Die algemeenste simptoom is warmgloede, wat by drie uit elke vier menopousale vroue voorkom. Nog moontlike simptome is nagsweet, vaginale droogheid, sukkel om te slaap, terneergedruktheid of angstigheid, verlaagde libido of probleme met geheue en konsentrasie.

Wanneer moet jy dokter toe gaan?

Dis die moeite werd om ’n algemene praktisyn te besoek as jy simptome van die menoupouse het wat jou pla of voor 45-jarige ouderdom simptome daarvan ervaar. Jou huisdokter kan gewoonlik op grond van jou simptome bevestig of jy in jou menopouse is. Maar as jy in jou vroeë 40’s is, kan ’n bloedtoets gedoen word om jou hormoonvlakke te meet.

’n Gesonde leefstyl voor en ná die menopouse kan die uitwerking daarvan help verminder, maar party vroue kies hormoonvervangingsterapie as behandeling vir die menopouse.