Al ooit gewonder hoekom handeroom op die beste werk saans? Of hoekom jou skoonheidskundige daarop aandring dat jy in ’n gehaltegesigserum moet belê?

Is jy dalk onseker of jy die bohaai oor oogroom moet glo, en wonder jy of dit werklik die moeite werd is om verskillende lyfrome vir verskillende seisoene te koop?

Om op jou beste te lyk is harde werk en kan duur raak – en daarom is dit so belangrik om ontslae te raak van mites. Ons het ’n paar plaaslike kenners gevra om van die knaendste vrae te beantwoord.  

Het ek werklik oogroom nodig?

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ja. Of jy wil klaarspeel met pofferigheid, sakkerigheid, fyn lyntjies of donker kringe, daar is ’n oogroom wat kan help, sê Vanelwa Ndongeni van Collins Aesthetic Skin & Nails in Kaapstad.

Fyn lyntjies en plooie word veroorsaak deur sonskade en die vel wat minder kollageen vervaardig (wat help met elastisiteit) namate ons ouer word. Daarom moet jy ’n oogroom kry wat vitamien C, peptiede en retinol bevat. Room met komkommer in help met pofferige oë, want die komkommer verbeter sirkulasie.

“Oogroom moet soggens voor jou dagroom aangewend word,” sê Vanelwa. ’n Hoeveelheid so groot soos ’n ryskorrel is genoeg vir albei oë.

Gebruik jou ringvinger om dit sagkens onder en rondom jou oë aan te wend in ’n opwaartse sirkelbeweging. Moenie dit naby die wimperlyn en binnehoeke van die oë smeer nie. Tik dit liggies aan tot die room geabsorbeer is.

Help! Hoe raak ek vinnig van gebarste hakke ontslae?

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

As jy net met ’n droë vel sukkel, wend ’n ruim hoeveelheid voetroom aan jou hakke aan en dra katoensokkies ’n paar uur lank om die vog binne te hou. Daar is egter nie ’n kitsoplossing vir gebarste hakke nie, sê Vanelwa.

“Gebarste hakke dui gewoonlik op ’n dieper probleem en moet professioneel behandel word. Dit kan nie binne ’n dag reggestel word nie.”

Mediese toestande soos vetsug, diabetes of ekseem kan tot diep, pynlike kepe in hakke lei. Swaminfeksies soos atleetvoet is die algemeenste oorsaak, en as dit nie behandel word nie, kan dit na die naels versprei en tot verkleuring lei.

Dit kan gewoonlik met oor-die-toonbank-produkte behandel word en deur na ’n gesonde dieet oor te skakel en baie water te drink.

In geringe gevalle van swaminfeksies kan voorskrifmedikasie vereis word. In ernstiger gevalle sal orale medikasie dalk nodig wees. Raadpleeg jou dokter as jy bekommerd is.

Hoekom moet ek saans handeroom aanwend?

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jy was gereeld jou hande gedurende die dag en die handeroom kry nie tyd om te werk nie. Selomset – wanneer nuwe velselle gegenereer word – vind meestal snags plaas.

As jy met baie droë hande sukkel, moet jy ’n handeroom met ’n dikker konsistensie gebruik. Soek vir die bestanddele galambotter en omega-olies wanneer jy handeroom koop.

“Jou lewensbelangrike organe is aktief bedags wanneer jy wakker is en jou vel is sluimerend, so wanneer jy saans gaan slaap, skrik jou vel wakker,” sê Amy. “Dis wanneer jou vel die meeste van die absorpsie en herstelwerk doen.”

My vel verander soos die seisoen verander. Moet ek my lyfroom volgens die seisoene aanpas?

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Absoluut. Die vel is geneig om in die wintermaande droog te wees omdat die koue lug die water in ons vel gouer laat verdamp, wat dit droog en styf laat voel. Daarom is dit belangrik om jou vel volgens sy behoeftes te bevog. Lyfbotter is ’n beter keuse in die winter en ’n lyfroom is beter in die somer,” sê Amy.

Lyfbotter bevat galambotter en verskeie olies soos klapper- of jojoba-olie, terwyl lyfroom ’n kombinasie van water en olies is.

“Omdat dit in die somer so warm buite is, soek jy nie iets olierigs nie. Jy gaan klewerig voel en sweet, en dis ongemaklik.”

Lyfbotter is dikwels dikker en het ’n olierigheid, teenoor lyfroom wat ’n ligter konsistensie het en vinniger in die vel absorbeer omdat dit water bevat.

Hoe speel ek vinnig klaar met kroeshare?

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Teenkroesbehandeling soos ’n Botox-behandeling wat professioneel by ’n haarsalon gedoen word, kan tot vier maande hou, sê Subyda Braswell van SkinPhD Hair, Nail & Beauty Plattekloof.

Daar is ook talle produkte op die mark wat vir spesifieke haarsoorte bedoel is. Diegene met krulhare moet produkte kies wat humiditeit beveg om ’n kroesvrye kruldefinisie te kry.

As jou hare droog en beskadig is, sal Moroccanoil dit gladder laat vertoon. Ek vermy openbare ruimtes as gevolg van covid-19.

Is dit ’n goeie idee om ’n wasbehandeling tuis te doen?

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dis nie raadsaam nie, sê Amy van Zyl, ’n somatoloog by Institute Aesthetic in Kaapstad. “Kliënte is geneig om produkte te oorverhit omdat hulle nie weet wat die regte temperatuur moet wees nie, en dit kan daartoe lei dat hulle hul vel afruk.”

Daar is ook ander dinge om in ag te neem, soos die rigting waarin hare groei en om dan in die teenoorgestelde rigting te werk.

“As jy dit verkeerd doen, kan jy ingroeihare kry,” sê Vanelwa.

“Ná ’n wasbehandeling moet jy ’n strelende room aan die area aanwend om inflammasie te verminder. Mense weet nie altyd hiervan nie.”

Watter serum kies ek?

skoonheid,mooimaak
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Belê in ’n goeie een. “Anders as vogrome, wat op die boonste laag van die vel werk, word serums makliker deur die vel geabsorbeer en dit werk onder die epidermis,” sê Vanelwa.

Dis propvol bestanddele soos vitamien C, vitamien E, feruliensuur, groentee en hialuronsuur en help voorkom oksidatiewe skade van ultravioletlig en besoedeling, wat tot voortydige velveroudering en plooie kan lei. Kies ’n serum wat by jou velsoort pas.

Vir olierige vel en vel wat maklik aknee ontwikkel: ’n serum met salisielsuur, retinol en roosbottel-saadolie. Vir droë vel: iets met hialuronsuur en vitamien C. En vir normale vel: glikolsuur.

Hoekom is arganolie belangrik?

Elke vrou moet in ’n bottel arganolie belê, sê Gayle Swart, ’n senior stilis by Institute Aesthetic. Dit bevog hare en kopvel, voorkom hitte- en kleurskade, beskerm teen die son en help met haarverlies.

Dis ryk aan vitamien E – wat haargroei verbeter en droogheid voorkom – en bevat vetsure wat hare teen skade van was en stilering beskerm.

Watter grimeerproduk kan vir ander doele ingespan word as jy haastig is?

Roomblosser – teenoor poeierblosser – kan ook as lipstiffie gebruik word. As jy sukkel met ’n rooi vel, maar nie groen verbloemer het nie, gebruik groen oogskadu wat nie blink nie. Tik dan onderlaag daaroor.

Die groen sal die rooi uitkanselleer. Lipstiffie kan ook as blosser en oogskadu gebruik word. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe