Die sangeres en aktrise het verlede Donderdag op Instagram verduidelik dat haar toestand sodanig versleg het dat sy vroeër vanjaar ’n nuwe nier moes kry. ’n Vriendin, die aktrise Francia Raisa, was so groothartig om vir haar die orgaan te skenk.

Hoewel albei vroue van hul operasies herstel het en Selena se “algemene gesondheid” verbeter het, bly lupus ’n  siekte wat “verkeerd verstaan” word.

WAT IS LUPUS?

Die term lupus verwys gewoonlik na ’n erge vorm van die siekte wat bekend staan as sistemiese lupus eritematose (SLE). Dit is ’n outoïmmuunsiekte waartydens die liggaam se immuunstelsel per ongeluk gesonde weefsel in baie dele van die liggaam aanval.  Net soos in die geval van ander outoïmmuunsiektes, soos rumatoïde artritis, word daar aangeneem dat ’n kombinasie van genetiese en omgewingsfaktore moontlik lupus kan veroorsaak.

Vroue in hul voortplantingsjare word meestal aangetas en volgens Brittanje se nasionale gesondheidsdiens (NHS) is die siekte meer algemeen onder vroue vanuit  Afrika, die Karibiese eilande en Asië.

WAT IS DIE SIMPTOME?

Simptome verskil van mens tot mens en dit kan lig tot ernstig wees. Jy moet jou dokter gaan spreek indien jou gewrigte dikwels styf en seer is, jy uiters moeg voel, of ’n veluitslag het – dikwels oor die neus en wange.

Ander simptome sluit gewigsverlies, gevoeligheid vir lig en swak bloedsomloop in die vingers en tone in. 

Ernstige gevalle van lupus kan inflammasie veroorsaak wat ernstige skade aan die hart, longe, brein of niere kan aanrig – en dit kan lewensgevaarlik wees.

HOE WORD DIT GEDIAGNOSEER?

’n  Dokter sal gewoonlik ’n aantal bloedtoetse doen ten einde die lupus te bevestig.  X-strale en skanderings van die hart en longe mag ook nodig wees.

HOE WORD DIT BEHANDEL?

Daar is geen geneesmiddel vir SLE nie, maar mediese deskundiges kan die simptome met medikasie verlig. Baie mense kan, met die nodige steun, die siekte doeltreffend beheer.

© Cover Media