Sedert navorsers vasgestel het dat stres groot veranderings in die derms sowel as in die brein kan veroorsaak, stel hulle ál meer belang in die verband tussen ingewandsbakterieë en stresverwante siektes, soos angs, depressie en prikkelbaredermsindroom.

Nou het wetenskaplikes in ’n studie van APC Microbiome Ireland aan die Universiteitskollege van Cork en Teagasc Food Research Centre bevind dat stres- en angsvlakke verlaag het wanneer hoëveselkossoorte, soos graan, peulgroente en groente, tot die dieet toegevoeg is.

Veselryke kos stimuleer die ingewande se produksie van kortkettingvetsure en dié vetsure kan help met die bekamping van stresverwante “ondigtheid”.

Hierdie sogenaamde “ondigtheid” ontstaan wanneer die versperring tussen die binnekant van die derm en die res van die liggaam minder doeltreffend is en onverteerde voedseldeeltjies, bakterieë en kieme deur die wand kan dring en in die bloed beland, wat hardnekkige inflammasie kan veroorsaak. 

"Daar is ’n toenemende erkenning vir die rol wat dermbakterieë en die chemikalieë wat hulle vervaardig, speel in die regulering van fisiologie en gedrag. Die rol wat kortkettingbakterieë in die proses speel, is tot dusver nie behoorlik verstaan nie,” het prof. John F. Cryan, een van die navorsers, opgemerk. 

“Dit is baie belangrik dat ons kyk of kortkettingvetsure stresverwante simptome by mense kan verbeter.”

Die bevindings is gemaak nadat die die belangrikste enkelkettingvetsure wat gewoonlik deur die bakterieë in die dermkanaal vervaardig word, aan muise gevoer en die diere daarna aan stres blootgestel is.

Gedragstoetse is daarna op die muise uitgevoer om angs en depressiewe gedrag, reaksie op stres, kognisievermoë en sosialiteit te bepaal en die sterkte van die dermwand is bepaal.

Die presiese meganismes waardeur kortkettingvetsure hul uitwerking bevorder, kon steeds nie vasgestel word nie.

Die span het wel opgemerk dat die verbindings geen uitwerking op liggaamsgewig gehad het wanneer stres ’n verhoging veroorsaak het nie. Daarom is dit belangrik om te verstaan waarom kortkettingvetsure net sekere streswekkende gevolge beïnvloed.

Die bevindings is in The Journal of Physiology gepubliseer.