Die rugbybreker Jacques Potgieter doen dit sommerso met sy baba in die arm.

Jacques Potgieter het al op Instagram vertel dat hy self sy tande bleik.

Die sanger Gerhard Steyn doen dit ook gereeld. En daardie skitterwit tande van die Springboksenter Jesse Kriel en ons Mej. Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters?

Ja, hulle doen dit ook.

Wát, vra jy. Maak hul tande wit, natuurlik; sulke pêrels kom immers nie vanself nie.

Die Baby Tjoklits-sanger, Gerhard Steyn, sê hy kan nou met oorgawe glimlag.

Hulle doen ekstra moeite om daardie mooi glimlag te kry en behou.

Sommige, soos Jacques, gebruik ’n selfdoenproduk by die huis. Ander, soos Gerhard, besoek ’n prostodontis. Dis ’n tandarts wat in die herstelwerk van tande spesialiseer. Was dit nie daarvoor nie, “sou ek nie vandag met soveel oorgawe kon glimlag nie”, het hy al op Instagram geskryf.

Nou kan hy “ná 41 jaar lekker oopmond lag”.

Mej. Suid-Afrika, Demi-Leigh Nel-Peters, se glimlag skitter nes haar kroon.

Baie mense is selfbewus oor daardie valerige, selfs gelerige kleur wat hul tande met verloop van jare kry. Wit tande maak ’n groot verskil aan jou selfbeeld, beaam Ina Alberts, ’n mondhigiënis van I Love My Smile, ’n praktyk in Pretoria wat in kosmetiese tandprosedures spesialiseer.

“ ’n Mens se glimlag lyk sommer prominenter, en wit tande gee selfvertroue, wat jou weer baie rede gee om te glimlag.”

Daar is hoofsaaklik drie maniere om tande wit te kry, vertel dr. Karizaan de Vos, ’n tandarts van Centurion: Laat dit bleik deur tandtegnici; gebruik tuis ’n gespesialiseerde bleikpakket wat deur jou tandtegnikus voorsien word; of span een van die selfhelpopsies in wat jy by apteke kan koop.

Die Springboksenter Jesse Kriel bleik ook sy tande skitterwit. Foto: Getty Images

Maar onthou: Nie alle metodes werk ewe goed nie. Hoekom is ons tande nie skitterwit nie? Karizaan verduidelik ’n mens se tande vergeel onder meer weens ouderdom, jou genetiese samestelling en dieet. Sommige mense het al van kleins af, toe die tande gevorm is, vlekke daarop.

Sy sê enige kos wat ’n wit hemp kan vlek, kan jou tande ook vlek. Die groot sondaars is koffie, tee, rooiwyn, kerrie en rook. “Sommige mense het oranje of bruinerige en ander blouer tande.

Die blouer tande vertoon witter, maar die oranje ondertoon kry baie goeie resultate deur bleiking.” Al die bleikmiddels werk op die emalje of buitenste, harde wit laag van jou tand.

Dit maak die tand skoon en is skadeloos, tensy dit te lank op die tande gelos word of as jou tande ongesond is. Volgens Karizaan bevat die bleikmiddel wat deur tandtegnici aangewend word ’n hoër konsentrasie peroksied as die bleikmiddels wat jy by die huis sou gebruik, en jy kry onmiddellike resultate.

Die 7de Laan-aktrise Diaan Lawrenson se tande is spierwit en goed opgepas.

“ ’n Mens se tande kan net so wit soos jou oorspronklike tande word. Baie keer het die sterre krone oor hul tande om daardie skitterwit voorkoms te kry,” sê sy.

Kenners is dit eens dat die tydperk wat ’n mens se tande wit bly, afhang van instandhouding, dieet, of jy rook of nie en goeie mondhigiëne. “Alles verskil van mens tot mens. As jy jou tande in die stoel laat bleik het en jy hou dit in stand met instandhoudingspakkette, hoef jy dit nooit weer te doen nie. As jy dit net los, kan dit ná ses maande tot ’n jaar begin verkleur,” vertel Karizaan.

Hoe dan gemaak as jy jou dowwe gebit weer in die volmaakte glimlag wil omskep? ’n Tandarts moet eers jou tande ondersoek voor dit gebleik word, sê dr. Nirvada Niranjan van die Suid-Afrikaanse Tandheelkundige Vereniging.

“Daar kan verskeie redes wees dat jou tande bruin verkleur. Baiekeer is dit aanpaksel soos plaak en minerale. Dan moet jy juis nie jou tande bleik nie. Jy moet dit net laat skoonmaak en poleer,” sê sy.

Kry so jou Hollywood- glimlag

1. In-die-stoel-metode: Dit word deur tandtegnici soos ’n tandarts of mondhigiënis gedoen. Hulle kyk eers of jou tande en tandvleis gesond is en maak jou tande goed skoon voor hulle dit bleik, sê Nirvada.

Een metode is om ’n jel wat waterstofperoksied en natriumnitraat bevat aan die tande aan te wend. ’n Laserlig of ultravioletlig word op die jel geskyn om dit te aktiveer en die bleiking te versnel.

“Maar wanneer lig gebruik word, dehidreer jou tande,” sê Karizaan. “Die tande lyk witter, maar kan sensitiewer wees. Daar moet dus onmiddellik ná die bleiking fluoried aangewend word om die tande weer te voed en enige sensitiwiteit teen te werk.”

Met die ander metode word ’n jel gebruik wat waterstofperoksied, fluoried en natriumnitraat bevat, maar geen lig word gebruik nie. Die fluoried en natriumnitraat voed die tande en versterk die emalje terwyl dit gebleik word.

Dié prosedure kan jou tussen R2 200 en net meer as R4 000 uit die sak jaag, terwyl dié met ’n lig tussen R4 000 en R6 000 kos. Die prys sluit gewoonlik ’n pakket in om jou tande by die huis in stand te hou.

As jy nie ná die tyd die pakket gebruik nie, gaan jou tande weer geel word. Sommige tandartse verkies die ligprosedure; ander gebruik weer die prosedure sonder ’n lig.

Oor die algemeen word aanvaar die ligmetode bleik die tande vinniger, maar sonder ’n lig is die bykomende fluoriedbehandeling onnodig. Karizaan meld ook pasiënte wat die ligmetode kies, moet soms vir ’n tweede fluoriedbehandeling terugkeer.

2. Selfhelpproduk wat ’n tandarts voorsien: ’n Afdruk word van jou tande gemaak, en daarna ’n mondskerm. Jy gebruik ’n bleikmiddel saam met die mondskerm en dra dit ’n paar minute elke dag.

Dis ook van waterstofperoksied, fluoried en natriumnitraat gemaak, maar in ’n flouer dosis.

Met dié metode neem dit sowat twee weke om jou tande te bleik. Pakkette kos tussen R1 000 en R2 000. Hoe lank jou tande wit bly, hang onder meer van jou persoonlike mondhigiëne (borsel en vlos) af – as jou tande weer verkleur, moet jy die prosedure herhaal, maar dit kan net so lank soos die in-die-stoel-metode hou.

3. Selfhelpprodukte wat jy by die apteek kan koop: Verskeie bleikmiddels is in apteke beskikbaar wat óf direk aan jou tande gesmeer word óf aan ’n mondskerm wat jy saam met die produk koop.

Van die produkte beloof jou tande sal tot drie maande lank wit bly. Teen pryse van R125 tot R1 000 is dit goedkoper omdat die mondstuk nie spesifiek vir jou gemaak word nie, maar kenners maan dis minder doeltreffend.

Nirvada is ook daarteen gekant dat ’n mens apteekprodukte koop sonder om deur ’n tandarts ondersoek te word. Die rede vir jou geel tande kan tandbederf wees. Dit beteken die bleikmiddel kan by die gaatjies in jou tande ingaan en die toestand vererger. 

“Daar is ook gevalle waar vervaardigers nie die bestanddele op die verpakking aandui nie.”  

Dr. Designar Moodley van die tandheelkundedepartement aan die Uni-versiteit van Wes-Kaapland sê ook apteekprodukte is nie so doeltreffend nie omdat die mondskerm nie presies vir jou tande gemaak is nie. Dit lei daartoe dat die bleikmiddel nie behoorlik met die tande in aanraking kom nie en kan sensitiwiteit veroorsaak. 

Wat kan ek Tuis doen?

Die beste raad is om jou tande daagliks te vlos en twee keer per dag jou tande minstens twee minute lank te borsel, sê die tandarts dr. Karizaan de Vos.

’n Nuwe gier is om jou tande met koeksoda en suurlemoensap te borsel, maar sy beveel dit nie aan nie omdat dit die emalje van jou tande sag maak en permanent kan verwyder. Sommige “boererate” is om houtskool of as te gebruik om vlekke op jou tande te verwyder.

Karizaan sê apteke verkoop goeie produkte wat geaktiveerde houtskool (fyner en suiwerder houtskool) bevat en beter werk. Maureen Grobler, ’n voorkomskonsultant en eienaar van The Beauty Brand, sê wat grimering betref, kan lipstiffie jou tande soms witter laat lyk.

Mense wat maklik in die son rooi brand, het ’n koue ondertoon, en dié wat lekker bruin brand ’n warm een. ’n Koue ondertoon lyk ietwat blou en ’n warm een bruin of oranje. As jou vel ’n warm ondertoon het, sal lipstiffie nie jou tande witter laat vertoon nie.

Helder lipstiffie met ’n koue ondertoon kan wel jou tande witter laat lyk mits dit ook ’n koue ondertoon het.