Hy het ’n suksesvolle loopbaan, volop geld en ’n liefdevolle gesin gehad; tog was Mo Gawdat in sy 20’s en 30’s jare lank ongelukkig. Hoe meer geld hy gemaak het, hoe mistroostiger het die Microsoft-ingenieur en -sakestrateeg gevoel.

Hy het nog harder probeer werk “in die wanopvatting dat al die moeite my kort voor lank sou loon en ek op die pot goud – geluk – sou afkom wat vermoedelik aan die einde van daardie reënboog van hoë prestasie lê”.

Hy was die meeste van die tyd “gedrewe, senuagtig en krities, en het prestasie en sukses geëis, selfs van my kinders”. Die meedoënlose pas waarteen hy gewerk het en die leegheid wat hy nie kon afskud nie, het hom by ’n “baie donker plek” uitgebring en hy het eindelik besef hy moes iets daaraan doen.

Jou geluk is groter as of gelyk aan jou persepsie van die gebeure in jou lewe minus jou verwagtings van hoe die lewe moet wees

Toe gebruik hy sy wiskundige en ingenieursingesteldheid om ’n vergelyking vir geluk uit te werk. Ná jare van lees en navorsing het Mo, nou die hoofsakebeampte vir Google X, met die volgende vergelyking vorendag gekom: Jou geluk is groter as of gelyk aan jou persepsie van die gebeure in jou lewe minus jou verwagtings van hoe die lewe moet wees.

Hy het geglo hy het ’n formule gevind wat geluk waarborg. Toe gebeur ’n tragedie – Mo se 21-jarige seun, Ali, sterf onverwags tydens ’n blindedermoperasie en sy formule word beproef. Hy en Ali het saam aan die vergelyking gewerk en dit is toe op die ou end ’n wonderlike hulpmiddel om hom sy verlies te help verwerk.

Dié uittreksel uit sy boek, Solve for Happy, verduidelik hoe sy vergelyking, en die teorieë daaragter, hom gehelp het om weer vreugde te vind ná Ali se dood.

'KYK na jou rekenaar, slimfoon of ander toestelle. Almal kom met voorkeure wat vooraf deur die ontwerpers en programmeerders ingestel is.

’n Toestel vars uit die fabriek, opgestel soos sy skeppers dink die beste is, is in sy “verstekstaat”. Vir mense is die verstekstaat geluk. As jy my nie glo nie, bring ’n bietjie tyd deur saam met ’n mens vars uit die fabriek – ’n baba of kleuter.

Vanselfsprekend huil en neul klein mensies nogal baie in die beginfase, maar as hul mees basiese behoeftes vervul word en daar geen onmiddellike honger of vrees, geen vreesaanjaende alleenheid en geen liggaamlike pyn is nie, leef hulle heel gelukkig in die hede. Die verstekstaat geld vir jou ook.

Ongelukkigheid gebeur wanneer jou werklikheid nie met jou hoop en verwagtings ooreenstem nie

Kyk terug na jou eie ervaring. Dink aan ’n tyd in jou lewe toe niks jou geïrriteer, bekommer of ontstel het nie. Toe jy gelukkig, kalm en ontspanne was.

Die punt is, jy het nie ’n rede nodig gehad om gelukkig te wees nie. Jy het nie ’n groot bevordering of ’n aantreklike metgesel of ’n seiljag met ’n helikopterblad nodig gehad nie.

Geluk is die afwesigheid van ongeluk.

Al wat jy nodig gehad het, was geen rede om ongelukkig te wees nie. Geluk is die afwesigheid van ongeluk. Dit is ons rustende toestand wanneer niks die prentjie vertroebel of steuring veroorsaak nie.

Ek het soos ’n ingenieur gedink, en toe ’n eenvoudige proses ontwikkel om die data te versamel wat nodig is om te bepaal wat my gelukkig maak. Maar eers het ek gehuiwer, want die tegniek was so eenvoudig dat dit amper kinderagtig gelyk het.

Maar toe besef ek: As ons model vir die verstektoestand van menslike geluk die baba of kleuter is, is “kinderagtig”, of ten minste “kinderlik”, dalk nie so sleg nie.

Mo se gelukvergelyking. Hy glo geluk is soos om fiks te bly; jy moet daaraan werk. “Geluk is nie toevallig nie. Dit word nie deur die lewe aan jou gegee nie; dis jou eie verantwoordelikheid.”

Ek het eers bloot ’n aantekening gemaak van elke keer dat ek gelukkig gevoel het. Ek het dit my Gelukkig-lys genoem. Dalk wil jy ook. Kry ’n potlood en ’n stuk papier en skryf ’n paar van die goed neer wat jou gelukkig maak.

Die lys kan bloot ’n rits kort, verklarende sinne wees wat reguit tot die punt kom en die frase “Ek voel gelukkig wanneer __________” voltooi.

Moenie skaam wees nie. Jy hoef geensins terughoudend te wees nie, want niemand hoef ooit jou lys te sien nie. Jy kan voor die hand liggende dinge insluit, soos jou hond onder die ken krap of ’n pragtige sonsondergang aanskou, en eenvoudige dinge, soos met jou vriende gesels of roereier eet.

Daar is geen verkeerde antwoorde nie. Skryf alles neer waaraan jy kan dink. Wanneer jy klaar is, gaan terug en beklemtoon ’n paar items wat, as jy verplig sou wees om prioriteite te stel, boaan die lys sou wees van dinge wat jou die gelukkigste maak.

Die blote daad van jou Gelukkig-lys skep, sorg vir ’n baie blye ervaring. Wanneer jy klaar is, behoort jy energiek en verfris te voel.

Ek werk minstens een keer per week aan my lys en voeg nuwe dinge by. Nie net laat dit my glimlag nie; dit help my ook iets kweek wat sielkundiges sê op die lange duur tot geluk bydra: ’n dankbare ingesteldheid.

My vermoede is dat jou lys amper heeltemal uit gewone lewensoomblikke bestaan, soos ’n glimlag op jou kind se gesig, die reuk van warm koffie soggens vroeg, die soort dinge wat elke dag gebeur. Wat is dan die probleem?

Hoekom bly geluk “vind” so ’n groot uitdaging vir so baie mense?

As die snellers vir gelukkige oomblikke so gewoon en so toeganklik is, hoekom bly geluk “vind” so ’n groot uitdaging vir so baie mense? En wanneer ons dit “vind”, hoekom glip dit so vinnig weg?

Wanneer ingenieurs ’n stel rou data kry, is die eerste ding wat ons doen om dit uit te stippel en ’n neiginglyn te probeer vind. Kom ons pas dit op jou Gelukkig-lys toe en vind die algemene patroon.

Kan jy die neiging sien? Die oomblikke wat jou gelukkig maak, kan baie anders wees as die oomblikke wat my gelukkig maak, maar die meeste lyste sal by dié algemene stelling saamkom: Geluk gebeur wanneer dit lyk asof die lewe in jou guns verloop. Jy voel gelukkig wanneer die lewe hom gedra soos jy wil hê hy moet.

Dit is nie verbasend dat die teenoorgestelde ook waar is nie: Ongelukkigheid gebeur wanneer jou werklikheid nie met jou hoop en verwagtings ooreenstem nie.

Die eenvoudigste manier vir ’n ingenieur om die definisie van geluk uit te druk is in ’n vergelyking. Basies, as jy die gebeure in jou lewe as gelyk aan of groter as jou verwagtings beskou, is jy gelukkig – of ten minste nie ongelukkig nie.

Maar hier is die moeilike deel: Dis nie die voorval wat ons ongelukkig maak nie, maar hoe ons daaroor dink.

Hoekom dit belangrik is om jou denke te beheer

Wanneer ’n onbeskofte mens jou aanstoot gee, kan hy jou nie regtig ongelukkig maak nie, tensy jy die voorval in ’n gedagte omsit, dit in jou brein laat draal en dit jou dan laat ontstel.

Maar gedagtes is nie altyd ’n akkurate weerspieëling van die ware gebeure nie. Dus kan ’n klein verandering in hoe ons dink ’n drastiese uitwerking op ons geluk hê.

Ek weet dit, want een van die gelukkigste oomblikke in my lewe was toe my pragtige, klassieke Saab in ’n ongeluk vernietig is. Ek was lief vir daardie motor.

Dit was ’n 900 Turbo in Britse renjaergroen met ’n beige sagte afslaankap, en eendag het (my vrou) Nibal dit gevat en in ’n botsing reg van voor teen ’n vragmotor beland.

Tot dit in dade omgesit word, het al die gedink ter wêreld geen uitwerking op die werklikheid nie

My speelding was weg, maar ek was dol van blydskap, want die lugsakke, sitplekgordels en al die ander veiligheidskenmerke waarvoor Saab bekend was, het ontplooi presies soos beplan en Nibal het sonder ’n skrapie uit die wrak geklim.

Ek het my motor verloor, maar wat daarvan? My geliefde vrou is gespaar. Dink net: As Nibal die motor iewers parkeer het en dit is vernietig, sou ek verslae gewees het. Die resultaat sou dieselfde gewees het: verwoeste motor en veilige Nibal.

Maar my ervaring daarvan sou baie anders gewees het. Die voorval self was irrelevant. Dit was hoe ek dit beskou het wat saak gemaak het.

Kan ons gelukkig word deur bloot ons gedagtes te verander?

Hier is die $50 miljoen-vraag: As gebeure bly soos dit is, maar ’n verandering in hoe ons daaroor dink, verander ons ervaring daarvan, kan ons gelukkig word deur bloot ons gedagtes te verander? Natuurlik!

Dit is wat reeds heeltyd gebeur. Wanneer ’n onbeskofte mens verskoning vra, wis die verskoning nie die voorval uit nie. Tog laat dit jou beter voel, bloot omdat die gebaar verander hoe jy dink oor wat gebeur het.

Dit bring die emosionele wêreld in jou en die wêreld van gebeure buite jou beter in ooreenstemming – en dit balanseer jou Gelukkig-vergelyking uit.

Die verskil tussen pyn en lyding

Net soos ons Gelukkig-lys meestal uit gewone dinge bestaan, kom baie oomblikke in die gewone, alledaagse lewe na vore wat nie na ons sin is nie.

Die meeste van die alledaagse ongemakke in die volwasse lewe is nie net verbygaande nie, maar ook nuttig. Die hongerpyne spoor jou aan om te eet.

Die knorrigheid van onvoldoende slaap druk jou om bed toe te gaan. Die pyn van ’n verswikte enkel noop jou om dit te laat rus sodat dit kan gesond word.

Sonder pyn sou ons nooit oorleef het nie.

Selfs ernstige fisieke pyn bestaan as ’n belangrike vorm van boodskappe stuur tussen ons senustelsel en ons omgewing. Sonder pyn om ons gevare te help navigeer sou ons onopsetlik allerhande dinge gedoen het om onsself seer te maak en sou ons nooit oorleef het nie.

Alledaagse emosionele pyn is soortgelyk deurdat dit ook ’n oorlewingsdoel dien. Die pynlike gevoel van afsondering, ook bekend as eensaamheid, dui aan ons moet dalk ons gewoontes verander, meer uitreik en harder probeer aanklank vind by mense.

Pynlike gevoelens van angs kan ons aanspoor om vir ’n komende eksamen of voorlegging voor te berei. Gevoelens van skuld of skaamte kan ons laat verskoning vra en vergoed, en so belangrike sosiale bande herstel.

Die Google-slimkop by ’n skildery van sy seun, Ali, wat dood is ná komplikasies tydens ’n blindederm­operasie. “Ali was nie net my seun nie; hy was ook my beste vriend,” sê hy.

Wanneer jy emosionele ongemak ervaar, voel jy ’n paar minute, ure of dae ’n bietjie seergemaak, na gelang van die intensiteit van die ervaring. Maar wanneer jy ophou daaroor dink, gaan die gevoel van seer weg.

Namate tyd verloop en herinnerings vervaag, kan jy erken en aanvaar wat jy ervaar het, die les eien wat jy daaruit geleer het en met jou lewe aangaan. Wanneer die pyn nie meer nodig is nie, vervaag dit natuurlik.

Maar dit is nie die geval met lyding nie. Wanneer ons dit toelaat, kan emosionele pyn draal of herhaaldelik na vore kom. Die rede vir die pyn speel dan eindeloos keer op keer in ons verbeelding af.

Wanneer ons kies om dit te laat gebeur, verstel ons ons verstek vir geluk en verander die voorkeurstelling na onnodige lyding. Tot dit in dade omgesit word, het al die gedink ter wêreld geen uitwerking op die werklikheid van ons lewe nie.

Ek vervloek nie die lewe en tree op soos ’n slagoffer nie. Ek voel nie verkul nie

Dit verander geensins die gebeure nie. Al uitwerking wat dit het, is binne-in ons, in die vorm van onnodige lyding en hartseer.

Om aaklige goed in die toekoms te verwag of oor aaklige oomblikke van die verlede te broei is nie die nuttige, leersame en onafwendbare ervaring van alledaagse pyn nie.

Hierdie verlengde uitbreiding van pyn is ’n ernstige fout in ons stelsel, want lyding bied nie ’n enkele voordeel nie.

Moenie kies om te ly nie

Net soos ons die vermoë het om onsself willens en wetens te laat ly, kan ons ook ons pynstelsels ontfout as ons ons daarop toespits.

Maar dis nie altyd wat ons kies nie. Stel jou voor jy het ’n wortelkanaalbehandeling nodig en die tandarts bied jou (a) die standaardprosedure met ’n paar dae van herstel of (b) ’n behandeling met bykomende bonusdae van uitgebreide, verskriklike pyn.

Hoekom op aarde sou jy (b) ooit kies? Tog doen miljoene mense elke liewe dag net mooi dit: Hulle kies in werklikheid die wortelkanaalbehandeling met ekstras.

Hoe langer jy aan die gedagte vasklou, hoe meer verleng jy eintlik die pyn.

Dit alles begin wanneer jy die gedagte wat deur jou kop gaan as absolute waarheid aanvaar. Hoe langer jy aan die gedagte vasklou, hoe meer verleng jy eintlik die pyn.

Die dag toe my wonderlike seun sterf, het alles donker geword. Ek het gevoel ek het die reg verdien om lewenslank te ly, dat ek geen ander keuse gegun is as om my deur toe te maak en te vergaan nie. Ek is in werklikheid twee keuses gegun: (a) Ek kon kies om vir die res van my lewe te ly en dit sou Ali nie terugbring nie, of (b) ek kon kies om die pyn te ervaar, maar om die mistroostige gedagtes te stop en alles te doen wat ek kon om sy nagedagtenis te eer.

Dit sou Ali steeds nie terugbring nie – maar dit sou die wêreld net ’n bietjie makliker maak om te verduur. Twee keuses. Watter een sou jy kies? Ek het (b) gekies.

Verstaan my mooi. Ek mis Ali elke oomblik van elke dag. Ek mis sy glimlag en warm omhelsing wanneer ek dit die meeste nodig het. Die pyn is baie werklik, en ek verwag dit sal voortduur. Maar ek verset my nie daarteen nie. Ek het nie voortdurend lydende gedagtes in my brein om dit te vergroot nie.

Ek vervloek nie die lewe en tree op soos ’n slagoffer nie. Ek voel nie verkul nie. Ek ervaar nie haat of woede teenoor die hospitaal of die dokter nie; ek verkwalik myself nie dat ek met hom daarheen gery het nie.

Sulke gedagtes sou geen doel dien nie. Ons kry altyd ’n keuse: Ons doen die beste wat ons kan, vat die pyn en los die lyding – of ons kan ly. Ek kies om nie te ly nie. Sou jy daardie keuse gemaak het in die aangesig van moeilike tye?

Gestel jy kon en dit is moontlik, sou jy gekies het om jou eie lyding te staak? Ek besef jy het dalk ondraaglike swaarkry of die pyn van verlies of gebrek in jou lewe verduur.

Maar moet asseblief nie toelaat dat hierdie gedagtes jou oortuig jy is veronderstel om te ly en dat jy nie verdien om gelukkig te wees nie. Geluk begin met ’n bewustelike keuse.'

Kies jou gemoedstoestand

Geluk hang geheel en al af van hoe ons elke gedagte beheer. Maar strydig met die algemene opvatting, ervaar ons nie net twee buie, geluk en hartseer, nie.

Na gelang van die soort gedagtes wat ons koester, val ons dalk in ’n breër spektrum van gemoedstoestande:

  • As jy toelaat dat illusies jou gedagtes beïnvloed, sal jy in die toestand van verwarring vasgevang word.
  • As jy negatiewe gedagtes koester, sal jy in die toestand van lyding (ongelukkigheid) beland.
  • As jy jou gedagtes onderbreek deur pret te hê, sal jy jou in ’n toestand van ontsnapping bevind.
  • As jy positiewe gedagtes dink en met die gebeure in die lewe saamstem, sal jy die toestand van geluk bereik.
  • As jy uitstyg bo die warboel van jou gedagtes en die lewe aanpak soos wat dit werklik is, sal jy altyd in ’n toestand van vreugde leef.

Solve for Happy: Engineer Your Path to Joy deur Mo Gawdat (Bluebird, R339)

Beskikbaar teen dié prys by Takealot.com. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder vooraf kennisgewing.