Haar volwasse dogter se keuses het Erika Stander* nagte lank laat wakker lê. Nadia (25)* was nog net ses maande in haar eerste werk toe sy besluit die beroep waarvoor sy vier jaar lank studeer het, is nie vir haar nie.

Erika was geskok oor Nadia se skielike plan om die sekerheid van haar vaste betrekking in ’n logistieke veld net so prys te gee en haar eie onderneming in ’n skoonheidsrigting te begin.

“Ek het gedink sy gooi al die geld wat ons vir haar studie betaal het sommerso in die water. Ek’t gesê sy maak beslis ’n fout,” vertel Erika. Haar hewige reaksie het ’n groot rusie ontketen en tydelik ’n wig tussen ma en dogter ingedryf.

Kies die regte tyd om jou volwasse kind se besluit te bespreek en re­spekteer hul mening, is die raad van kundiges oor gesinsverhoudings. Foto: Gallo Images/Getty Images

Erika se storie is net een voorbeeld, maar hoe gemaak as jy voel jou volwasse kind neem ’n swak of ondeurdagte lewensbesluit? Moet jy inmeng of nie; raad gee of swyg?

En waar lê die perke? Dit kan ’n uitwerking op jou verhouding met jou kind hê as jy probeer ingryp – maar doen jy dit nié, moet jy op jou lip byt en toekyk.

Al is jou kind ’n volwassene met die reg om sy eie lewe te lei en sy eie keuses te maak, is dit tog beter om jou mening te lug sodat jy nie met die verwyt van “as ek maar net iets gesê het” saamleef nie, meen dr. Jolanda Dreyer, ’n sielkundige van Pretoria. “Dit gaan nie soseer oor wat jy sê nie, maar oor hóé jy dit sê,” sê sy. Ons het by Jolanda en nog kenners gaan kers opsteek oor hoe hierdie gesprek kan verloop.

Hoe reageer jy wanneer jy die nuus hoor?

Jy is verbouereerd oor jou seun se besluit om ’n duur huis te koop, want jy dink hy is oningelig oor die bykomende koste en onrealisties oor die prysklas. Of jy is bekommerd oor jou dogter se besluit om te trou omdat jy dink sy is nog te jonk en moet haarself eers beter leer ken.

Of jou kind besluit hy wil skei, na ’n ander plek trek of van loopbaan verander . . .

Dis maar net ’n paar van die groot besluite wat vir jou moeilik kan wees om te verwerk. Hoe gemaak as jou kind jou vertel van ’n besluit waarmee jy nie saamstem nie?

Al is die skok op daardie oomblik hoe groot, moet ’n ouer waak teen ’n sterk emosionele reaksie, waarsku Jolanda. Sy sê dit laat onmiddellik die deur vir gesprekvoering toeklap. “Tree uit die situasie en vra jou kind tyd om daaroor te dink.

Dit sal hom ook laat voel jy ag sy besluit as gewigtig en verwerp die idee nie sonder meer nie,” is haar raad. Loni Ribeiro, ’n kliniese sielkundige van Bloemfontein, stem saam.

Eindelik berus die besluit by die volwasse kind en moet hy of sy die gevolge daarvan dra. Dan kan die ouer net stilbly en toekyk, maar nogtans die kind sonder verwyte probeer steun. Foto: Gallo Images/Getty Images

“As ouers krities en rigied reageer, hul kind verkwalik of selfs manipuleer om van besluit te verander, kan die kind rebelleer. Kinders voel dalk hul ouers verstaan of vertrou hulle nie of wil hulle beheer. Sommige kan onttrek en selfs toekomstige besluite van hul ouers weerhou.”

Kies die regte oomblik om jou mening te deel. ’n Volwasse kind het dikwels self kinders of ’n bedrywige beroep; daarom is die oomblik wat ’n ouer kies om ’n mening te lug belangrik. “Vra jou kind ’n gepaste tyd en reël ’n afspraak,” sê Jolanda.

Wees ingelig en maak seker jou bekommernisse is geregverdig, maan Loni. “Vra jou af of jou mening in jou en jou kind se belang is en of dit nie dalk net tot jou eie voordeel strek nie.” Jolanda stel voor ’n ouer raadpleeg vooraf drie mense vir hul insae.

“Eerstens iemand neutraals wat glad nie by die besluit sal baat vind nie en ’n eerlike mening kan gee. Dan ’n kundige oor die vraagstuk ter sprake. En derdens iemand wat al ’n soortgelyke besluit moes neem.

“Jy kan voorstel dat jou kind met die betrokke persoon praat voor hy of sy ’n groot besluit neem.”

Hoe benader jy die saak?

As jy jou volwasse kind se besluit bevraagteken, sal haar onmiddellike reaksie wees om dit te verdedig, sê Jolanda. Vra liewer: “Vertel my meer oor hoe jy by die besluit uitgekom het?” Dit kan ’n groot ommekeer in die gesprek bring, sê Jolanda.

So voel die kind nie onder kruisverhoor nie en sal sy gewilliger wees om oop te maak en te luister. Loni stel voor jy vermy ’n negatiewe toon deur die vrae neutraal en belangstellend te rig of die kind se onderliggende emosie te weerspieël. Jy kan ’n gesprek begin met: “Dit lyk asof jy baie opgewonde is oor die idee . . .”

“Moenie kritiseer nie, maar noem eerlik jou vrese en sê watter moontlike uitdagings en struikelblokke jy voorsien. Vra jou kind hoe hy sodanige situasies sal hanteer as dit opduik,” sê Loni.

“Wees oop en probeer vasstel waarom die besluit vir jou kind belangrik is. Dalk kom die kind ná vele gesprekke agter die idee is nie meer so aanloklik nie.

“Stel voor dat hulle hulself genoeg tyd gun om oor die besluit na te dink, dat hulle inligting wat hulle reeds het met jou deel, en vra of jy dalk ekstra inligting vir bespreking kan byvoeg.”

Wanneer moet jy jou kind laat begaan?

Jy word dalk onkant betrap oor jou kind se besluit, maar vra jou af hoekom jy daarteen gekant is. Soms is ’n ouer se motiewe “nie suiwer nie”; daarom is dit nodig om eers introspeksie te doen oor die redes vir jou mening, meen Loni.

“’n Ouer moet terugstaan wanneer daar nie werklik rede tot kommer is nie en indien die kind goed ingelig is.”

Al kan ’n ouer leiding gee, is die volwasse kind die een wat eindelik die besluit neem en die gevolge dra, voeg sy by.

“As jy besorg is, wees net daar ter ondersteuning, sonder verwyte.”

Wanneer moet jy wel ingryp?

Foto: Gallo Images/Getty Images

Soms het ’n ouer nie ’n keuse nie en moet hy of sy wel ingryp – selfs al kan dit aanvanklik spanning in die verhouding met die kind veroorsaak of tot openlike konflik lei.

Maar dit geld nie sommer wanneer dit by alledaagse sake kom nie. ’n Ouer moet liefs net ingryp wanneer ’n kind of iemand anders se lewe in gevaar is of die besluit met die gereg bots, sê Sasja van der Merwe, ’n kliniese sielkundige van Pretoria.

“Jou kind kan dan nie meer vir homself besluit nie. “

’n Ouer se toetrede is dan ’n daad van liefde en nie ’n geval van: ‘Ek neem verantwoordelikheid van jou af weg nie,’” meen Sasja. Dan tree jy op in die belang van jou kind, nie net tot jou eie voordeel nie.

  • * Skuilname. 
Hoe leer jy jou kinders om deurdagte besluite te maak?

Die kliniese sielkundige Sasja van der Merwe sê ouers kan hul kinders al van kleins af leer om weldeurdagte lewensbesluite te neem.

Stel ’n voorbeeld. Kinders doen nie wat jy vir hulle sê nie; hulle doen wat jy doen. Maak self verantwoordelike keuses. ’n Ma wat byvoorbeeld bly by ’n man wat haar emosioneel aftakel of selfs fisiek mishandel, moenie verwag haar dogter gaan eendag beter keuses maak nie.

Gee jou kinders kans om te kies. Gee jou kinders van jongs af die geleentheid om keuses te maak wat gepas vir hul ouderdom is.

Kyk saam met hulle na die opsies en ondersoek die gevolge. Vir ’n tweejarige kind kan jy byvoorbeeld vra of hy mielies of ertjies wil eet. As hy mielies gekies het en dan ertjies wil hê, kan hy dit nie kry nie.

Ouers wil hul kinders te veel beskerm, maar ’n kind moet leer om verantwoordelikheid vir ’n keuse te aanvaar. So leer hulle keuses hou gevolge in.

Bou van jongs af ’n band met jou kind. Jou kind moet van kleins af weet dat jy ondanks die uitkoms van hul verkeerde besluite daar is wanneer hulle die gevolge dra.

Dié vertrouensband wat jy van kleins af bou, is jou toegangspunt wanneer hulle as volwassenes keuses maak.

As jou kind dan ’n besluit wil neem waarmee jy nie saamstem nie, kan jy jou kommer eerlik opper en hulle steun.