Die konsultant-voedingkundige Hala El-Shafie, ’n geregistreerde dieetkundige, gee ’n paar wenke oor hoe om heerlike onthale en skemerkelkgeleenthede sonder spyt te geniet.

Haar raad is om veral briek aan te draai met jou alkoholinname.

“Dis belangrik om jou alkoholinname te beperk. Dit stimuleer nie net jou eetlus nie; alkohol is die mees kilojouleryke ding wat jy kan inneem,” het sy aan Cover Media gesê.

“Dit skakel ook die sentrum in jou brein af wat vir jou sê jy is versadig. Alkohol bevat 29 kilojoules per ml en vet 38 kilojoules per ml.  Koolhidrate en proteïen bevat 17 kilojoules per ml. Dus, in konteks, kry jy ’n hele klomp ekstra kilojoules in wanneer jy drink.”

Sy stel voor jy maak seker daar is ’n paar “droë dae” voor die vakansie. En drink ook baie water wanneer jy uitgaan.

“Vonkelwater met suurlemoen of lemmetjie tussen drankies deur help om groepsdruk te vermy van mense wat wil hê jy moet saam drink en dit help om jou te hidrateer. Dis ook ’n goeie idee om soveel moontlik ys by ’n alkoholiese drankie te voeg – dit sal help om jou stadiger te laat drink en om gehidreer te bly,” was haar verduideliking.

Een dag van oormaat in die Kerstyd is heeltemal in orde.

Wat kos betref, sê Hala, is een dag van oormaat in die Kerstyd heeltemal in orde. Maar wat ander geleenthede en partytjies betref, moet jy probeer seker maak dat jy voor die tyd ’n goeie bord kos, wat kossoorte soos salm, koeskoes en groente insluit, inkry, anders gaan jy jou versadig eet aan die leë kilojoules in canapés en drankies.

“Dis baie maklik om binne ’n halfuur op ’n  Kerspartytjie meer as die helfte van die aanbevole kilojoules en vet in te neem indien iemand jou glas opvul en die canapés heeltyd verbykom,” het Hala gedeel.

Dit is ook belangrik om tyd te vind vir oefening in die vakansietyd. Goeie idees vir fiksheid in Desember sluit in dans by partytjies en oggendwandelings, of om deel te neem aan prettige aktiwiteite soos fiksheids-DVD’s of speletjies soos Wii-Fit.

“Dit gaan oor bewustheid, nie oor een groot verandering nie. Om een dag of een week uit ’n 52-week-roetine te neem, beteken nie jy verbreek ’n ooreenkoms nie,” het Hala bygevoeg.