’n Mens sien dit elke keer in die spieël: die diep fronsplooitjie op jou voorkop. En sodra jy die lyntjie gewaar, frons jy – sommer vanself!

Tog spog mooies en bekendes wat jare ouer as jy is met ’n gladde voorkop. Hul geheim is glo botoks, en jy hoor dis iets wat ons ander sterflinge ook plooivry kan maak. Al wat nodig is, is ’n bietjie geld.

Wat is hierdie botokswonder, hoe werk dit en hoeveel is “ ’n bietjie geld”? Huisgenoot het by kenners kers opgesteek om te hoor of dit die belegging werd is.

Wat is botoks?

“Botox is die handelsnaam van ’n produk. Die proteïen waaruit dit bestaan (botulinumtoksien A of BTX-A, ’n neurotoksien – gif wat die senustelsel aantas), word in ’n laboratorium vrygestel deur die bakterie Clostridium botulinum,” sê dr. Deon Weyers, ’n plastiese chirurg van Fourways, Gauteng.

Die bakterie word onder streng beheerde omstandighede uit die natuur versamel en gekultiveer. Volgens hom is daar ander variasies van die produk, “maar omdat Botox die pionier in die kosmetiese aanwending van botulinumtoksien is, word die naam botoks in die algemeen gebruik”.

Dit is die eerste keer in 1977 gebruik om skeel oë te behandel.

Botoks word by ’n spier ingespuit en verbind dan aan die senupunt waar die senuwee en die spier mekaar “ontmoet”, verduidelik dr. Anastasia Botha van Bedfordview, wat al 11 jaar in estetiese medisyne praktiseer.

Dit blokkeer die vrystelling van asetielcholien, ’n chemiese stof wat dien as neuro-oordraer wat die sein om die spier saam te trek na ander senupunte stuur en so die sametrekking keer.

“Dit veroorsaak ’n verlamming of swakheid van die spier,” verduidelik sy. So versag botoksinspuitings gesigplooie wat deur herhaalde spierbewegings veroorsaak word, sê Deon.

Waar kom dit vandaan?

Hoor jy vandag die woord “botoks”, dink jy dadelik aan ’n kosmetiese behandeling, maar dit is waarskynlik die eerste keer in 1977 gebruik om skeel oë te behandel waar die skeelheid deur ’n effens ooraktiewe spiertjie veroorsaak word, sê dr. Frans Human, ’n arts van Germiston wat botoksbehandeling doen.

Daarna is botulinumtoksien vir ál meer mediese toepassings ingespan. Van die algemeenste gebruike is om kinders met serebrale verlamming en die ernstige spastisiteit van groot spiergroepe te behandel en sodoende spiere beweegliker te maak.

Volgens Frans word botoks ook aangewend vir pynverligting, die gekners van tande en oormatige sweet onder die arms en voete deur dit op dié plekke in te spuit.

“Migraines kan met botoks behandel word, want dit verlig die sametrekking van kopvelspiere en versag so die intensiteit van die hoofpyn,” verduidelik Deon.

In 2002 is die middel deur die gesaghebbende Amerikaanse voedsel-en-medisyne-administrasie goedgekeur vir die estetiese behandeling van fronslyne, hoewel baie ander areas aan die gesig ook behandel kan word, sê Anastasia. Dit is omstreeks dieselfde tyd in Suid-Afrika goedgekeur.

Wat kan botoks vir my doen?

Dit kan plooie op verskeie plekke in die gesig en selfs in die nek en halslyn versag.

“Veral in die boonste gedeelte van die gesig, maar ook die mondhoeke, kaakspiere en fyn spiertjies om die neus,” sê Deon.

“Die algemeenste plooie wat behandel word, is die vertikale fronslyne tussen die wenkbroue, die horisontale kommerlyne van die voorkop en die lagplooitjies wat uitwaarts om die oë strek,” sê hy.

Anastasia beaam dit: “ ’n Klein hoeveelheid botoks kan ook saam met ’n vuller (Frans gebruik hialuronsuur) gebruik word om die onderlip te behandel en rondom die mond vir rokers- en marionetlyne, die plooie wat weerskante van die onderlip ondertoe strek.”

’n Vuller is iets anders as botoks; dit is ’n stof wat ingespuit word om ’n plooi op te vul ten einde die vel glad te maak. Frans gebruik gewoonlik botoks saam met vullers en sê: “Die kombinasie word deur jou ouderdom bepaal. As jy jonger is, word meer botoks en minder vuller gebruik. Hoe ouer jy is, hoe meer vuller en minder botoks word gebruik.”

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Wanneer kan jy daarmee begin?

“Begin liewer vroeër as later, want dit werk voorkomend. Wanneer plooie eers gevorm het, kan jy dit nie omkeer nie. Begin dus sodra jy die eerste fyn lyntjies sien,” beveel Anastasia aan.

“ ’n Goeie ouderdom is omstreeks 30. Mense met ’n ligte vel, blonde hare en blou oë lyk dikwels vroeër ouer en kan reeds op 25 fyn lyne ontwikkel. Jy het dan net ’n klein dosis nodig en kan dit deel maak van jou skoonheidsroetine,” sê sy.

Volgens Deon is ons almal die produk van ons ouers.

“As jy in jou middel 20’s in die spieël kyk en ’n plooi tussen jou wenkbroue sien wat nes jou ma s’n begin lyk, is dit beter om dan reeds met botoksbehandeling te begin.”

Hoe gereeld moet jy laat botoks?

Elke vier maande, maar nie met korter tussenposes nie, anders kan teenliggame ontwikkel wat die botoks ondoeltreffend maak, sê Anastasia.

Die neurotoksien verhoed die aktivering van spiere sowat drie maande lank, maar daarna keer die spieraksie terug na normaal, verduidelik Deon. Hy beveel daarom aan dit word elke drie tot vier maande gedoen.

‘Begin liewer vroeër as later, want dit werk voorkomend’.

Newe-effekte

“Daar is nie eintlik gevare aan botoks verbonde nie, behalwe tydelike newe-effekte,” sê Frans.

“Dit is baie veilig, mits dit professioneel toegedien word. Een van die komplikasies kan wees dat die verkeerde spier ingespuit word, wat tot verlamming van dié spier kan ly, byvoorbeeld ’n ooglid wat hang,” sê Anastasia. Die verlamming is tydelik en duur net tot die botoks uitgewerk het, sowat drie tot vier maande.

Nog ongereelde newe-effekte is hoofpyne en verkouesimptome.

Wanneer botoks in die nek ingespuit word om die lae gesig te lig of nekvoue te versag en te veel word toegedien, kan dit gebeur dat jy moeilik sluk, sê sy. Dié newe-effek is ook net tydelik.

Deon sê die inspuitplekke sal effens rooi en geswel lyk, maar dit duur gewoonlik nie langer as ’n uur ná die behandeling nie. Volgens hom kan die newe- effek van laegraadse hoofpyn gewoonlik met parasetamol verlig word.

Wanneer begin dit onnatuurlik lyk?

Daar is ’n fyn onderskeid tussen ’n natuurlike en onnatuurlike voorkoms, sê Anastasia.

“Begin altyd met ’n klein dosis en vermeerder dit indien nodig. Ons beweeg weg van groot dosisse en die ‘plastiekvoorkoms’ deur die dosis in veral die voorkop te verminder. ’n Voorkop wat geheel en al gebotoks is, lyk blink en onnatuurlik.”

Haar raad is om min genoeg te gebruik sodat die gesigspiere steeds effens kan beweeg.

Deon meen dit lyk natuurlik wanneer ’n pasiënt steeds uitdrukking kan toon sonder om die plooie te vorm wat met die uitdrukking gepaardgaan.

“Onnatuurlike resultate kom voor wanneer daar nie harmonie tussen die verskillende dele van die gesig is nie, soos wanneer die boonste helfte gebotoks is, maar die onderste helfte buite verhouding verouderd lyk,” sê hy.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Waar kan ek aanklop?

Die dokter wat jou behandel, moet ervare wees in kosmetiese prosedures met ’n goeie kennis van die anatomie van die gedeeltes wat jy laat behandel, sê Deon.

“Op die oomblik het ’n dokter of tandarts geen ekstra kwalifikasie nodig om botoks te mag inspuit nie, maar dit is raadsaam om ’n praktisyn te raadpleeg wat erkende kursusse in estetiese medisyne voltooi het,” sê hy.

Die meeste komplikasies en/of swak resultate is nie weens die produk nie, maar eerder die verkeerde tegniek wat gebruik word, meen Deon

Wat kos dit?

“Verskillende dele van die gesig het verskillende doserings nodig. Die koste wissel van ongeveer R60 tot R120 per eenheid, na gelang van waar jy die behandeling laat doen,” sê die plastiese chirurg dr. Deon Weyers.

Dr. Anastasia Botha beraam koste wissel tussen R55 en R80 per eenheid en sê die pasiënt se ouderdom en voorkeure bepaal hoeveel eenhede nodig is.

Volgens Deon kan ’n botoksbehandeling vir die hele gesig (sowat 50 eenhede) tussen R3 000 en R6 000 kos; dit hou ongeveer drie maande.

Dit kos sowat R1 600 om net die vertikale fronslyne te behandel, sowat R800 vir net die horisontale fronslyne en ongeveer R1 600 as jy net die fyn lagplooie om jou oë laat botoks.