Praat daaroor en verbreek die stilte en stigma; dit bring hoop in die stryd. Dié boodskap het weer opgeklink by die jaarlikse Hope Hike- en Hope Bike-byeenkomste in Oktober vanjaar.

Nie net het die honderde deelnemers kilometers ver gestap en fiets getrap by Blaauwklippen buite Stellenbosch en Skeerpoort naby Hartbeespoortdam om bewusmaking oor depressie en ander psigiese siektes te kweek nie; hulle het ook daaroor gepraat.

So in die stap en trap kon jy hoor hoe mense gesels en hul persoonlike stories van hartseer en hoop deel.

“Siektes bo die nek is net so erg soos siektes onder die nek. Eintlik baie erger, want dis die enjin van ons bestaan,” sê prof. Lizette Rabe, stigter van die Ithemba-stigting, die organisasie wat dié jaarlikse byeenkomste reël. “Dit is belangrik dat ons depressie in dieselfde lig as ’n biologiese siekte soos kanker beskou.”

Ithemba beteken hoop in Xhosa. Die eerste Hope Hike het in 2012 by Wiesenhof, Stellenbosch, plaasgevind. Hoop is as anker gekies omdat dit die teenoorgestelde is van siektes van wanhoop, soos depressie, sê Lizette. “Moenie toelaat dat die wanhoop jou in ’n spiraal aftrek nie. Hou aan hoop.”

Dié wat nie wou stap nie, kon die speke laat sing. Foto: Onkgopotse Koloti.

Die jeug was vanjaar die fokus van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Wêrelddag vir Psigiese Gesondheid op 10 Oktober. Selfdood is volgens dié organisasie wêreldwyd die naasgrootste oorsaak van sterftes onder 15-29-jariges, en die WGO sê die druk van verandering tydens adolessensie en jong volwassenheid kan tot psigiese siektes lei.

Die toenemende gebruik van tegnologie en virtuele netwerke wat mense dag en nag met mekaar in verbinding hou, plaas bykomende druk op die jeug. “Die jonger generasie se stressors is soveel meer. Hulle skakel nie af nie en gun hulself ook nie ’n kans om te herstel nie,” verduidelik Lizette.

Sandra Ulimwengu, ’n 26-jarige student aan die Universiteit van die Wes-Kaap, vertel die Stellenbosse staptog was vir haar persoonlik omdat sy 12 jaar gelede een van haar sibbes weens depressie verloor het. “Ek dink ons moet mense help om veilig te voel sodat hulle bereid is om oop te maak.”

Deel­nemers is aangemoedig om blou te dra. Foto: Onkgopotse Koloti.

“Ons moet meer oor ons ervarings met psigiese siektes gesels,” sê Natasha Marnewick (19), ’n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch. “Jy voel geïsoleer en asof jy die enigste een is wat ’n probleem het.”

Sy het aan die begin van die jaar drie maande in ’n kliniek deurgebring. “Mense moenie skaam wees om daaroor te praat nie. Baie mense het soortgelyke ervarings gehad en kan help.”

“As ek ’n gesinsgroep sien met kinders, oupa, ouma, ma en pa wat saam stap, weet ek ons verbreek die stigma,” sê Lizette. “Die kinders word groot met die idee dat pa se depressie soos ouma se diabetes is. Dis net ’n gewone siekte. En ons stap daarvoor.”

Ál meer ly aan depressie

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het depressie die afgelope 10 jaar met 18,4% toegeneem.

Die organisasie meen oor twee jaar, teen 2020, sal depressie die wêreld se naasgrootste siekte wees.

Teen 2030 sal dit volgens die organisasie die grootste wees.