Min dinge is so ongemaklik soos ’n slegte asem, maak nie saak of jy aan die ontvangkant is of die een is wat met hierdie nare probleem sukkel nie.

Boonop is ’n mens nie aldag seker of jy dalk die een is wat ander weens ’n onwelriekende mond laat terugdeins nie.

Gelukkig kan jy stappe doen om ’n onplesierige asem hok te slaan. Dit hoef jou nie ’n plaas se geld of ongerieflike besoeke aan die tandarts te kos nie, sê die kenners by wie ons gaan aanklop het.

Wat veroorsaak dit? 

Drie groot sondaars is sigarette, swak mondhigiëne en jou eetgewoontes, sê prof. Ahmed Bhayat, hoof van gemeenskapstandheelkunde aan die Universiteit van Pretoria.

rook,mond,hygiene
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images

Ook mondsiektes soos infeksie nadat tande getrek is, tandvleisontsteking, plaakneerslae en absesse kan jou met hierdie ongemaklikheid opsaal, sê dr. Canzius Pretorius, ’n tandarts van Nelspruit.

“Medikasie vir siektes soos hoë bloeddruk, depressie en diabetes, sowel as ontwatering, kan ook tot ’n slegte asem lei,” sê Ahmed.

Hy verduidelik dié medisyne laat, nes ontwatering, spoeg in die mond opdroog, en dit kan jou asem ’n klankie gee. “Keel- en sinusinfeksies wat mukus in die lugweë laat afdrup, asook sooibrand en maagsere wat jou suur laat opbring, skep ’n onaangename reuk.”

Alkohol en kos met sterk geure soos knoffel is algemene oorsake, sê Canzius.

“En pasop vir uie en koffie,” sê Ahmed. “Kunsgebitte, ’n plaatjie, implantate en brûe kan ook kos en bakterieë vasvang,” sê dr. Shenuka Singh, ’n senior tandheelkundedosent aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Waak ook daarteen om maaltye oor te slaan, waarsku sy, want dit lei tot ’n droë mond en gevolglik onaangename asem.

Wat kan ek self doen? 

Drink genoeg water om enige geure weg te spoel en te voorkom dat jou mond uitdroog, sê Shenuka. “Kies veral drankiesmet min suiker en vermy dié met kafeïen, want albei lei tot ontwatering.”

Warm water met sout is ’n goeie spoelmiddel, beveel sy aan, en jy kan kou aan kruie soos kardemomsade, vinkel en anys of vars pietersielie. “Naeltjies kan ook werk, maar kan ’n brandgevoel laat.”

As jy ’n kunsgebit soos ’n plaatjie of kunstande het, moet jy dit skoonhou en saans in die voorgeskrewe skoonmaakmiddellaat week, sê Ahmed.

Borsel jou tande soggens en saans en ná elke ete as jy met ’n slegte asem sukkel, is Canzius se raad. 

mense,tandeborsel
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hy beklemtoon jy moet jou tandarts elke ses maande besoek. Vra dat jou mond met dié besoeke behoorlik skoongemaak word.’n Goeie elektriese tandeborsel kan help, maar dit sal nie jou probleem heeltemal oplos nie, sê hy.

Mondspoelmiddels verminder die bakterieë in jou mond en kougom verwyder voedsel- en plaakaanpaksels en is daarom nuttig, maar dit is nie kitsoplossings nie. 

Ahmed beklemtoon jy moet altyd suikervrye produkte kies, want dié met suiker kan tandbederf veroorsaak.

“Onthou ook om jou tong te borsel en skoon te skraap en te vlos,” voeg Shenuka by.

Wanneer dié tuisoplossings nie werk nie, moet jy ’n tandartsspreek. As jy enige pyn ervaar, jou tandvleis bloei of jy sere opmerk, moet jy in elk geval tuisoplossings vermy en eerdertandarts toe gaan. 

“Hoe gouer gate gevul word, hoe minder plaak en kos word in die holte vasgevang en hoe kleiner is die kans dat jou asem as gevolg daarvan stink,” sê Ahmed.

Jou tandarts kan jou na ’n oor-neus-en-keelspesialis verwysas hy nie ’n oplossing vind nie, sê Canzius. “’n Slegte asem kan dui op ernstiger kwale, soos periodontitis, waar die tandvleis en been rondom die tande infeksies het, of maagsere en in kwaai gevalle selfs kanker.”

As jou medikasie jou onwelriekende asem veroorsaak, kan jy alternatiewe met jou dokter bespreek, sê Ahmed.

En as jou asem weens bepaalde kosse, drank of sigarette sleg ruik, is die oplossing bloot om daarvan weg te bly, is Canzius se raad. 

Hoe weet ek of my asem stink?
  • ’n Metaalagtige smaak in jou mond sowel as ’n onaangename reuk terwyl jy vlos, kan aandui dat jou asem onaangenaam ruik, sê die Nelspruitse tandarts dr. Canzius Pretorius. “Sowat 99 persent van my pasiënte wat hiermee sukkel, word deur vriende of kollegas daaroor ingelig.”
  • As jy onseker is hieroor, kan jy aan ’n repie katoen of gaas of aan die agterkant van jou hand lek en daaraan ruik, sê die KwaZulu-Natalse tandheelkundedosent dr. Shenuka Singh.
  • “Let ook op hoe mense reageer wanneer jy naby hulle praat. Of vra die eerlike mening van iemand wat jy vertrou,” sê sy.
  • Jou dokter kan ook met ’n halimeter toets hoeveel swawel in jou asem is en daarvolgens ’n diagnose maak, sê prof. AhmedBhayat van die Universiteit van Pretoria.


Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!