Vandag kan ’n mens dit skaars glo, maar daar was ’n tyd toe ’n mens op enige plek kon rook – in treine, busse, vliegtuie, in die fliek en agter jou lessenaar.

Net 20 jaar gelede is daar nog sigaretadvertensies gemaak waar rokers as sexy avonturiers uitgebeeld is – tot die boodskap begin deursyfer het dit is allesbehalwe sexy; rook kan tot jou dood lei.

Mettertyd het die wetgewing teen rook in openbare plekke so streng geword – en die waarskuwings oor die impak op jou gesondheid so oorweldigend – dat ál meer mense besluit het om op te hou.

Volgens Statistiek Suid-Afrika rook nog net sowat 7% van vroue en 36% van mans in Suid-Afrika – en daar word aanvaar dis grootliks te danke aan die streng wetgewing wat in 1995 ingestel is.

En nou wil die regering met voorgestelde nuwe wetgewing dit selfs verder voer sodat dit onwettig sal wees om in enige gebou te rook en baie moeilik om dit iewers in die buitelug te doen.

Rokers is vies oor wat hulle as ’n inbreuk op hul regte beskou, maar die departement van gesondheid hou vol: Rook maak dood.

Statistieke wys 50% van rokers sal sowat 14 jaar vroeër sterf as wat hulle andersins sou weens rookverwante siektes soos longkanker, beroertes, hartsiektes en emfiseem.

Desondanks is daar steeds byna 8 miljoen Suid-Afrikaners wat jaarliks saam sowat 27 miljard sigarette rook.

Die streng nuwe wetgewing wat pas deur die kabinet goedgekeur is, wil ’n stokkie hiervoor steek.

Die departement van gesondheid wil hierdeur ook nierokers teen passiewe rookinaseming beskerm en dit vir jong mense minder aantreklik maak om met die gevaarlike gewoonte te begin.

DIE NUWE REËLS

As die wetsontwerp op die beheer van tabakprodukte en elektroniese leweringstelsels finaal aanvaar word, sal die enigste plek waar jy nog ’n dampie mag maak in die privaatheid van jou eie huis wees.

Binnenshuise rook sal elders heeltemal verbode wees en rookareas (binne en buite) by restaurante sal iets van die verlede wees.

Jy sal steeds buite kan rook, maar waar die wet tot nou toe effens vaag hieroor was, stipuleer die nuwe voorgenome wet (wat tans oop is vir openbare kommentaar) rokers moet minstens 10 m van openbare ingange wees.

Op strande en in stadions sal rook taboe wees.

As jy ’n vrystaande huis het, mag jy in jou tuin rook, maar as jy in ’n kompleks woon, mag jy nie buite rook nie. Jy mag in jou eie motor rook, maar net as jy die enigste insittende is.

Die voorlopige wetsontwerp sal in Augustus voor die parlement dien.

DIE NUWE SIGARETDOSIES

Volgens die voorgenome wet mag sigaretdosies nie meer op ’n manier versier word wat dit laat lyk asof dit koel is om te rook nie.

Pleks daarvan sal hulle versier word met foto’s van kankerlonge of illustrasies van mense wat dood in die lykhuis lê. Vervaardigers sal nie toegelaat word om hul handelsmerk in ’n helder lettertipe uit te beeld nie – alle handelsmerke sal in dieselfde standaardlettertipe aangebring moet word.

Sigaretmasjiene sal onwettig wees en kleinhandelaars sal nie toegelaat word om spesiale uitstallings te hê wat sekere sigarette bemark nie.

E-SIGARETTE VERSUS TRADISIONELES

Die twee rookprosesse verskil: Konvensionele rook berus op tabak wat verbrand word, terwyl elektroniese sigarette ’n ligte verhittingsproses inspan om nikotien te lewer.

Hoewel navorsing getoon het e-sigarette is waarskynlik minder skadelik, is dit nie skadeloos nie.

Dit bevat nikotien en dus is dit ook verslawend en kan dit tot verhoogde bloeddruk, longsiektes en hartskade lei.

“Jy kan sigarette beskou as die ekwivalent daarvan as jy van die 10de verdieping van ’n gebou sou spring en e-sigarette as jy van die vierde vloer sou spring,” sê die Nasionale Raad teen Rook se uitvoerende direkteur, Savera Kalideen.

“Ek kan nie sê wat die skade sal wees nie, maar jy sal sonder twyfel skade opdoen.”

Al is e-sigarette minder skadelik as gewones, hou dit steeds ’n gesondheidsrisiko in en sal dit nie van die nuwe regulasies onthef wees nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

HELP STRENGER WETGEWING?

Prof. Corné van Walbeek van die Universiteit van Kaapstad se departement ekonomie sê wêreldwye statistieke wys strenger wetgewing lei tot ’n afname in die aantal rokers.

Hy sê in die vroeë 1950’s het sowat 90% van die mans in Nederland gerook, vergeleke met 20% vandag.

Hy sê Australië kan as die model vir die res van die wêreld beskou word. Nie net was dit die eerste land wat onopvallende verpakking gebruik het nie; die pryse van sigarette is ook hemelhoog en baie ondersteuning is beskikbaar vir mense wat wil ophou rook.

Met al hierdie maatreëls is Australië goed op pad om ’n land te word waar minder as 5% van die bevolking rook.

Corné voorsien dat al mor die plaaslike tabakbedryf die wet eindelik aanvaar sal word. “Dit sal moontlik effens aangepas moet word sodat die regering nie aan hofsake of grondwetlike kwessies blootgestel word nie.”

Maar daar is reeds teenstand teen die voorgenome wetgewing.

“Dit is baie kontroversieel, baie streng en hoegenaamd nie dringend nie,” sê Francois van der Merwe, voorsitter van die Tabakvereniging van Suid-Afrika, wat die belange van vervaardigers van tabakprodukte en -kwekers verteenwoordig.

Hy glo mense het die reg om te kies om te rook.

“Verbruikers weet dis ’n skadelike produk, maar hulle gebruik dit steeds. Volwassenes neem daagliks verkeerde besluite. Jy kan nie reguleer of beheer dat mense ophou sigarette, suikerdrankies of kitskos koop nie. Dit is belaglik.”

'Sigarette is soos om van die 10de verdieping van ’n gebou te spring'

HOE HOU JY OP?

En as jy dan nou van jou rookgewoonte ontslae wil raak, wat werk die beste?

Hou ’n mens sommer net so op of rook jy geleidelik minder? Savera sê die Nasionale Raad teen Rook stel voor ’n mens hou summier op.

“Jy wil immers ontslae raak van die nikotien wat jy deur sigarette in jou liggaam opgeneem het.”

Die hoof van kliniese navorsing van die Universiteit van Kaapstad se Longinstituut, prof. Richard van Zyl-Smit, waarsku hoe meer jy rook, hoe meer sal jy aan nikotien verslaaf wees en hoe meer waarskynlik is dit dat jy fisieke onttrekkingsimptome sal ervaar.

Dit kan wissel van hoof- tot maagpyn en duiseligheid, maar hierdie simptome begin so teen die vyfde dag verminder. Vir baie mense is die sielkundige simptome ’n groter uitdaging: Depressie, angstigheid, slapeloosheid, geïrriteerdheid en rusteloosheid kan tot drie maande duur.

Jy kan nikotienplakkers of -kougom gebruik of jou dokter raadpleeg oor ander nikotienvervangingsterapie wat jou deur hierdie fase kan help.

Savera waarsku egter dat al hierdie nikotienvervangingopsies ook verslawend kan wees aangesien dit steeds nikotien bevat.

Jy sal dus steeds onttrekkingsimptome ervaar as jy dit ophou gebruik; dus stel jy net die onvermydelike uit. 

Wenke vir ophou

  • Kies ’n datum: Stel ’n datum minstens ’n week vooruit vas sodat jy jou geestelik kan voorberei, stel die Nasionale Raad teen Rook voor.
  • Kry steun: Sê vir jou familie, vriende en kollegas jy gaan ophou sodat hulle jou kan ondersteun.
  • Identifiseer dinge wat jou lus maak vir rook: ’n Aand uit saam met vriende sal jou beslis lus maak vir ’n dampie. Vermy die eerste paar maande sulke aande.
  • Kry iets anders: Praat met jou dokter oor nikotienplaasvervangers.
  • Neem ekstra vitamiene in: Navorsing wys ’n aanvulling wat vitamiene B1, B3, B6, B9 en B12 bevat, kan jou nikotiendrang en geïrriteerdheid hokslaan. ’n B-kompleksaanvulling help boonop om jou drang na koolhidrate in toom te hou.
  • Demp die lus: Die Nasionale Raad teen Rook stel voor jy drink ’n glas water, eet ’n vrug of gaan stap ’n ent.
  • Beloon jouself: Gebruik jou sigaretgeld om jou met iets te bederf.

Ekstra bronne: IOL.co.za, News24.com