Verlede jaar was alsbehalwe maklik. Weens die coronaviruskrisis was dit ’n jaar vol spanning, angs en uitdagings. En dit lyk of dit nog ’n rukkie gaan wees voor dinge weer “normaal” is.

Dít is dalk nie binne jou beheer nie, maar wat jy wel kan doen, is om seker te maak jy is beter toegerus vir die uitdagings. Ons het by ’n paar kenners aangeklop vir hul topwenke om stres te beheer.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dieetkundige Tsholofelo Molapisi

Topwenk: Eet meer antiinflammatoriese kossoorte

Moenie onderskat watter groot verband daar is tussen dit wat jy eet en hoe jou lyf stres hanteer nie. Gesonde kos gee jou liggaam noodsaaklike voedingstowwe, waarmee dit die skade kan beperk wat stres veroorsaak.

Dit maak nie saak of jou stres sielkundig of fisiologies is nie, jou liggaam reageer presies dieselfde daarop – deur ’n vloed van streshormone vry te stel om jou te help veg of vlug. Dit het ’n uitwerking op als van jou insulienvlakke tot jou bloeddruk.

Maar wat is die regte kos?

Kossoorte met antiinflammatoriese eienskappe – dié wat ryk is aan vitamien C, selenium en sink en ’n hoë veselinhoud het. 

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kossoorte wat ryk is aan antioksidante, is ook noodsaaklik, nes prebiotika. Prebiotika is ’n soort vesel wat nie deur jou lyf afgebreek kan word nie en as kos vir probiotika (klein mikroörganismes in jou spysverteringstelsel) dien.

Maak seker jou dieet sluit dié kossoorte in: bessies, groen blaargroente soos spinasie, uie, knoffel, pietersielie, hawermout, seekos soos sardyne, tuna en salm, en veselagtige prebiotiese kos soos semels, preie, appels en piesangs.

Persoonlike afrigter Aneeka Buys

Topwenk: Begin beweeg

Oefening is een van die tegnieke om stres te hanteer wat die minste benut word.

Navorsing wys die endorfiene wat oefening vrystel, verminder depressie. Dit verlig ook angs omdat jou brein ’n ruk lank op iets anders kan fokus.

En die kersie op die koek is dat dit jou meer – en nie minder nie – energie gee omdat meer bloed met suurstof en voedingstowwe na jou brein en spiere vloei. As jy oefen, slaap jy ook beter – die beste manier om stres te verlig.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Maar waar begin ’n mens?

Die truuk is om iets te kry wat jy geniet. Vir party is dit fietsry of hardloop; vir ander is dit gimklasse of branderplankry. Wat dit ook al vir jou is, onthou: Jou lyf is nie gemaak om heeltyd te sit nie. Beweging is deel van die lewe.

Fokus op jou eie reis en die doelwitte wat jy met jou oefenprogram wil bereik. Deur jouself met ander te vergelyk kyk jy net jou eie vordering mis.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Mense dink baiekeer hulle het ’n gimlidmaatskap of duisende rande se gereedskap nodig om te begin oefen. Maar jou eie liggaam is die beste stuk toerusting wat jy ooit kan besit. Daar is soveel lekker oefensessies wat jy met net jou lyf kan doen. Alle beginnerprogramme behoort met liggaamsgewig te begin.

Jy is gewoond aan die gewig van jou eie liggaam, en dit is dus makliker om dit sonder weerstand te beheer – en so leer jy hoe om jou postuur reg te hou en jou spiere reg te gebruik.

Hou by ’n roetine. Beplan jou oefensessies en hou by dieselfde oefentyd elke dag. ’n Oefenmaat is ook waardevol, iemand om jou verantwoordbaar te hou en ’n gees van mededinging aan te wakker.

Is jy onseker oor hoe om te begin oefen?

Aneeka het spesiaal vir Huisgenoot-lesers ’n eenvoudige aanlyn oefenprogram saamgestel om jou fikser, sterker en gesonder te maak. Sien die kassie vir nog inligting, en volg haar op Instagram by @fitgirlza.

Mediese dokter dr. Koketso Pule

Topwenk: Wees jouself genadig

Om stres te hanteer, moet jy leer om jouself eerste te stel. Neem tyd om stil te staan, te reflekteer en jou batterye te herlaai. Jou herlaai-aktiwiteit hoef nie duur te wees nie – maak elke dag tyd om te mediteer, neem ’n lang bad of lees ’n boek. As jy ’n naweek weg benodig en dit kan bekostig, doen dit!

Om jouself genadig te wees beteken ook jy moet weet waar jou grense lê. Weet wanneer om hulp te vra, en moenie skuldig voel om nee te sê as dit is wat vir jou geestesgesondheid nodig is nie.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Sielkundige dr. David Rosenstein

Topwenk: Kweek balans

’n Lewe sonder balans dra grootliks by tot stres en die toestande wat daaruit voortspruit. Ons is meer geneig om ongebalanseerd te lewe wanneer ons met onsekerheid, verandering of groot lewensgebeurtenisse te doen kry – en dan skeep ons sekere aspekte soos oefening af.

Wanneer dit gebeur, is ons sielkundig (en fisiek) aansienlik minder veerkragtig. Die navorsing wys dat balans ’n mens gesonder hou – dit gee die immuunstelsel ’n hupstoot en het ’n positiewe uitwerking op die senustelsel se stresrespons, wat beteken ons kan stresvolle situasies beter hanteer.

Maak dus tyd vir jou stokperdjies. Eet gesond. Oefen gereeld. Behou die verbintenis met jou familie en vriende, en bring tyd saam met hulle deur – soveel as wat die aanbevelings oor sosiale distansiëring dit tans toelaat.

Oefenplan vir 2021

Die nuwe jaar is hier, en vanjaar wil jy wraggies aan die oefen kom. Maar hoe en waar begin jy as jy min tyd het en nie lus is om gim toe te gaan of geld het vir ’n gimlidmaatskap nie?

Ons aanlyn oefenprogram, Huisgenoot Geen Gim!, bied die antwoord. Dit is ’n bekostigbare aanlyn oefenplan wat jy maklik tuis kan volg. Jy betaal eenmalig vir die oefenplan, maar kry lewenslank daartoe toegang.

Wanneer jy aansluit, kry jy toegang tot ’n volledige aanlyn oefenplan wat intense weerstandoefeninge asook strek- en joga-oefeninge insluit.

Die plan is verdeel in drie weke met verskillende oefensessies vir vyf dae van die week, en jy kan dit oor en oor volg. Dit bevat ook ekstra oefensessies waarmee jy jou program kan aanpas as jy verveeld of lus vir afwisseling raak.

Eenvoudige sketse en duidelike beskrywings wys jou stap vir stap hoe om al die oefeninge te doen, en daar is ook video’s van ingewikkelde bewegings.

Die plan is spesiaal vir Huisgenoot-lesers ontwerp, en as jy dit volg, is dit soos om ’n persoonlike afrigter in jou huis te hê.

Wat sê die proefkonyne?

“Dit was vir my lekker dat die plan aanpasbaar is, byvoorbeeld dat dit rusdae insluit wat ek self kan rondskuif. Ek het net weer besef hoeveel beter ek voel as ek met oefening afwen ná ’n moordende dag agter die rekenaar – en mettertyd het ek ál minder lamsakkig gevoel.

“Die streksessies wat by elke week ingebou is, is lieflik en het my help ontspan.” – Annami Mailovich, Huisgenoot se digitale redakteur.

“Ek kon voel watter verskil die oefening in my lewe – en hoe ek voel – maak. Ja, ek was styf. Maar elke sessie duur net 40 minute, en jy kan self kies watter vyf dae jy gaan oefen. Ná elke dag was die volgende dag makliker, het my asem ’n bietjie minder gejaag en het ek ’n bietjie minder gesweet.

“Kyk, jou lyf wérk. Teen die derde stel het my spiere gebrand, veral met die onbekender oefeninge. Waar ek nie soepel genoeg was nie, het ek dit net binne my vermoë gedoen. Die grootste uitdaging was om myself te motiveer om aan te hou oefen, selfs wanneer ek niks lus was nie! – Hilda van Dyk, Huisgenoot se Gauteng-nuusredakteur

  • As jy op soek is na ’n oefen- en eetplan wat jy gelyktydig kan volg, gaan gerus na klopdieskaal.co.za (vir vroue) of groetjouboep.co.za (vir mans). Huisgenoot se 12 weke lange programme is spesiaal ontwerp sodat jy gewig kan afskud én fikser word op ’n gesonde, volhoubare manier. Elkeen van die planne kos R495 (eenmalig).
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe