Navorsers by die National Institute of Aging (NIA) in Amerika het die deurbraak gemaak. Hulle het bevind mense wie se brein glukose swakker afgebreek het, het meer aanpaksels en knope in die brein gehad – twee duidelike tekens van Alzheimersiekte.

Die kenners weet nog nie presies wat die oorsaak van dié afbrekende breinsiekte, die algemeenste soort demensie, is nie. Maar die uitwerking van Alzheimersiekte kan gesien kan word wanneer jy na breinweefsel kyk. Aanpaksels, abnormale trosse proteïenfragmente en saampakking tussen senuweeselle is die kenmerke van die siekte, en so ook is geknoopte, verdraaide draadjies van ’n ander proteïen in dooie en sterwende senuweeselle.

“Navorsers het ’n geruime tyd gedink oor die moontlike verband tussen die manier waarop die brein glukose verwerk en Alzheimersiekte,” het dr. Richard J Hodes, van die NIA, gesê.

“Navorsing, soos in hierdie geval, behels nuwe denke oor die manier waarop hierdie verbindings ondersoek moet word in die soeke na beter en meer doeltreffende maniere om Alzheimersiekte te behandel en te voorkom.”

Die span het ook bevind mense ly meer onder die simptome, soos geheueverlies, van demensie indien hul breine dit moeilik vind om glukose af te breek om energie te verskaf. En diegene met Alzheimersiekte het laer vlakke van die ensiem wat gebruik word om glukose af te breek, en ook laer vlakke van GLUT-3, ’n proteïen wat glukose in die breinselle vervoer. Laastens het hulle ontdek hoe laer die vlakke van GLUT-3 was, hoe erger was die aanpaksels en knope.

“Hierdie bevindings dui op ’n eienaardige meganisme wat geteiken sou kon word by die ontwikkeling van nuwe behandelings om die brein te help om glikolisedefekte by Alzheimersiekte die hoof te bied,” was die kommentaar van dr. Madhav Thambisetty van NIA.