Ai, suiker is so lekker, maar tog so sleg vir ons. Te veel daarvan laat die kilogramme opstapel en is boonop sleg vir jou tande. Maar dis moeilik om soetgoed te laat staan, want dit smaak dan so heerlik.

En dis ook nie asof jy suiker kan vermy deur net soetgoed uit te skakel nie, want suiker is oral – in mayonnaise, blatjang, slaaisous en selfs in kos wat gesond klink soos jogurt, muesli en gegeurde water.

Maar wetenskaplikes verkondig ál meer die boodskap: Suiker beduiwel jou gesondheid. Nog ’n stem wat nou teen die gebruik van suiker opklink, is dié van die vooraanstaande Britse kardioloog dr. Aseem Malhotra, wat self aanvanklik ’n dieet met baie koolhidrate – suiker is natuurlik ’n koolhidraat – gevolg het.

“Versoete ontbytgraan, roosterbrood en lemoensap vir ontbyt, ’n broodjie vir middagete en pasta vir aandete was nie vir my ongewoon nie,” skryf Aseem op sy webtuiste. Hy is ’n toegewyde sportman en het koolhidrate voorheen as “goeie brandstof” beskou.

Om minder suiker in te neem, is kragtiger as enige medikasie wat dokters kan voorskryf.

Maar agt jaar gelede toe ’n pasiënt kla hy kry ’n burger en tjips om te eet net ná ’n operasie om ’n geblokkeerde slagaar te herstel, het die dokter besluit om die verband tussen voeding en gesondheid van nader te beskou. Wat hy toe geleer het, het alles wat hy in daardie stadium geglo het op sy kop gekeer.

“Ek het wyd gelees oor navorsing in dié verband en tot die gevolgtrekking gekom dat eenvoudige leefstylveranderings, soos om minder suiker in te neem, kragtiger is as enige medikasie wat dokters kan voorskryf.”

Hy het self ook die voordele ervaar. Hy het sy vetinname tevore beperk en dit ook vir sy pasiënte aanbeveel. Maar nadat hy sy dieet na min koolhidrate en baie vet verander het, het hy die vetjies om sy maag, waarvan hy nie met oefening ontslae kon raak nie, begin afskud.

“Hoe dieper ek gedelf het, hoe meer het ek besef dis suiker – nie vet nie – wat so baie van ons probleme veroorsaak.”

Hy het ’n stigterslid geword van Action on Sugar, ’n Britse drukgroep wat hom daarvoor beywer dat die kosbedryf minder suiker by verwerkte kossoorte voeg. Die groep het ook gevra dat die suikerbelasting op koeldrank in Brittanje uitgebrei word na alle kosprodukte waarby baie suiker gevoeg word.

Sedert Suid-Afrika se suikerbelasting op 1 April in werking getree het, is daar ’n heffing van sowat 11% per blikkie gaskoeldrank. Een bottel van 500 ml bevat sowat 10 teelepels suiker.

Suiker is besig om ons dood te maak, sê die Amerikaanse wetenskap- en gesondheidskrywer Gary Taubes.

In sy boek The Case against Sugar stel hy sy saak so oortuigend soos ’n advokaat in ’n hofsaak. Die misdaad, sê hy, is vandag se epidemie van tipe 2-diabetes en vetsug. Die skuldige? Suiker. Maar dis nie ’n eenvoudige saak nie.

Die dood kom nie skielik en dramaties nie; dus is daar nie ’n element van skok nie. Dis stadig. Om die waarheid te sê, dis so stadig, die misdaad gaan byna ongesiens verby.

’n Groter probleem is ons is lief vir ons moordenaar, meen Gary. Ons verwelkom dit by elke viering, ons gebruik dit om te sê “ek is lief vir jou” én om onsself te beloon. En bowenal maak dit ons regtig gelukkig – eet iets soets en jou brein se plesiersentrum kry ekstra lekker. Maar al is dit hoe moeilik om nee te sê vir suiker, sê Gary dis wat jy sal moet doen as jy gesonder wil wees. Self raak hy nooit daaraan nie.

Die suiker/vet-verband Gary, wat al byna drie dekades lank oor dieet en chroniese siektes skryf, glo suiker is nie net die groot sondaar wat vandag se diabetes- en vetsugepidemie betref nie; dit kan ook met hartsiektes, hoë bloeddruk, alzheimersiekte en baie algemene kankers verbind word.

Gevare van suiker 'toegesmeer'

In 2002 het hy ’n baanbrekende artikel, What If It’s All Been a Big Fat Lie?, vir die New York Times geskryf. Hierin het hy aangevoer die raad oor voeding wat die Amerikaanse regering jare lank al goedkeur was verkeerd. Baie mense uit die mediese en navorsingsgemeenskap het hom aangeval, maar hy het volgehou, en hierna het sy boeke Good Calories, Bad Calories (2007) en Why We Get Fat (2010) verskyn.

In laasgenoemde sê hy vet is as ons grootste vyand uitgekryt – op grond van swak wetenskap en die invloed van die bedryf wat verwerkte kossoorte vervaardig. Navorsing wat op die uitwerking van koolhidrate op die menslike liggaam fokus, is grootliks afgeskeep. In The Case against Sugar verduidelik hy waarom die gevare van suiker toegesmeer is. En “toesmeer” is nie ’n oordrywing nie.

In 2016 het ’n navorser aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco, op dokumente afgekom wat wys die suikerbedryf het in die 1960’s drie Harvard-wetenskaplikes betaal om die verband tussen suiker en hartsiektes te onderbeklemtoon en eerder die vinger na versadigde vette te wys.

Dié toesmeerdery was so suksesvol, baie mense glo steeds die geheim vir hartgesondheid is ’n dieet wat min vet en min koolhidrate bevat.

“Dit is sedert die 1960’s die hoeksteen van die regering se boodskap oor gesondheid,” skryf Aseem. Dit het daartoe gelei dat nie net pasiënte nie maar ook hul dokters met die verkeerde inligting sit.

“Die gevolg is ’n nasie van suikerverslaafdes wat hul pad na jare van chroniese siektes en ’n vroeë graf oopeet terwyl hulle chroniese medikasie moet gebruik. Dis hoekom ek selde my mond aan brood sit, van alle bygevoegde suiker ontslae geraak het en volvet eet as deel van ’n dieet wat deur die Mediterreense streek se eetgewoontes geïnspireer is.”

Die gety het omgekeer

’n Ander dokter wat ook sy siening oor vet en suiker verander het, is dr. Peter Brukner, die dokter van die Australiese krieketspan.

Sy storie klink baie soos dié van prof. Tim Noakes, Suid-Afrika se groot voorstander van ’n dieet met min koolhidrate en baie vet. Toe diabetes by Brukner gediagnoseer word, het hy navorsing oor voeding, vetsug en diabetes gedoen en tot sy skok besef die dieetriglyne wat hy volg, en die voedselpiramide, het geen wetenskaplike basis nie.

Dr. Peter Brukner, spandokter van die Australiese krieketspan. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hy het toe na ’n leefstyl met min koolhidrate en meer gesonde vette oorgeslaan en sowat 13 kg afgeskud, sy insulienvlakke het verlaag en sy lewerfunksie het drasties verbeter. In sy boek Fat Lot of Good beskryf hy klein veranderings wat mense kan aanbring om gewig te verloor en beter te voel. Een van dié veranderings is om minder suiker in te neem.

“Mense is baie verward oor wat hulle mag en nie mag eet nie,” het hy verlede jaar op ’n openbare gesondheidskonferensie in Manchester gesê.

“Daar’s soveel verskillende diëte – Atkins, paleo, Mediterreens, noem maar op. Mense het tevore duidelik verstaan hoe hulle moet eet (min vet en baie koolhidrate) en toe word hulle met al die verskillende diëte gekonfronteer. Maar wat die diëte gemeen het, is dat suiker drasties gesny word.”

Peter sê die belangrikste ding wat ’n mens kan doen om jou gesondheid te verbeter is om jou suikerinname te beperk. Dis waarom hy die SugarByHalf-veldtog in Australië op die been help bring het.

“Die deursnee-Australiër neem sowat 16 teelepels bygevoegde suiker per dag in – tieners heelwat meer – en as ons dit met die helfte kan verminder, sal dit ’n reuse-uitwerking op die gesondheid van die mense hê. Ek kan nie aan ’n enkele ingryping – medies, farmakologies of chirurgies – dink wat dieselfde uitwerking kan hê as om net jou suikerinname met die helfte te verminder nie.”

Belangrik
Moenie volgende week se uitgawe misloop nie. Dit bevat raad oor presies hoe jy jou suikerinname kan sny.
EKSTRA BRONNE: TELEGRAPH.CO.UK, DOCTORASEEM.COM, THEGUARDIAN.COM, GARYTAUBES.COM, PETERBRUKNER.COM, DIABETES.CO.UK; Foto's: Jaco Bothma, AAI/Fotostock SA, Huisgenoot infografika