Dit was asof die bene van haar ’n wil van hul eie gehad het. Lank het rustelose­benesindroom Maria van der Wath se lewe behoorlik vergal, maar ná jare se gesukkel het sy eindelik hulp gekry. Nou slaap sy weer “soos ’n baba” nadat haar bene haar eens op ’n tyd snags wakker gehou het.

Dié makelaar en ouma van Standerton het sowat nege jaar gelede begin voel iets is nie pluis nie.

Maria van der Wath en haar man, Theo. Sy het erge
Maria van der Wath en haar man, Theo. Sy het erge las van rustelosebenesindroom gehad, maar het met die nodige hulp dit oorkom. Hulle gaan stap graag saam, wat haar ook goed doen, vertel sy. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek sou dit veral ná halfvyf die middag in my bene begin voel, soos iets wat onder my vel kriewel, kriewel . . . en dan ruk en pluk dit ook. Ek het geen beheer daaroor gehad nie. Veral in my linkerbeen. Dit kan pynlik wees; my bene was soms seer, nie ’n skiet- of steekpyn nie, maar ’n pyn binne-in die been.”

Toe die kriewelgevoelens in haar been op hul ergste was, het sy omtrent ses maande lank snags byna nie ’n oog toegemaak nie, vertel sy oor die sindroom wat haar soveel sorge gegee het.

“Ek het eers boererate probeer; aartappels in die bed, Marmite in warm water, al daai goed, maar niks het gehelp nie. Al wat nogal ietwat gehelp het, was om ’n bietjie te stap.

“Ek het gewig aangesit, want as die bene snags begin ruk en pluk, het ek opgestaan en geloop . . . kombuis toe. As ek nie kon slaap nie, het ek dikwels geëet.”

Maar mettertyd het sy van rustelose­benesindroom (RBS) te hore gekom en besef dít is moontlik wat haar opdraand gee.

“So onthou ek toe dat my pa lank oor sy bene gekla het; sy jonger broer ook.

“Toe ek eindelik dokter toe gaan, het hy taamlik gou gesê ek het RBS en vir my ’n pilletjie voorgeskryf. Ek drink dit elke aand, asook magnesium- en kalsiumaanvullings. En ek en my man gaan stap saans om die blok. Om aktief te wees help my ook. 

“Vandag is ek fine – ek slaap omtrent soos ’n babatjie, ek het lankal daardie gewig afgeskud, ek gaan aan met my lewe.”

Dié toestand met die vreemde naam is meer algemeen wêreldwyd as wat baie mense dink.

In die VSA raak dit byvoorbeeld na raming meer as 5% van volwassenes. Boonop word dit dikwels verkeerd gediagnoseer of bloot misgekyk.

Wat is dit?

As jou bene veral snags “rusteloos” voel, is dit dalk nie net jou verbeelding nie. Die sin­droom veroorsaak “ ’n ongemaklike, kriewelrige gevoel in die bene en dan die sterk drang om hulle te beweeg om verligting daarvan te kry,” som dr. Maurits Kruger, ­homeopaat en iridoloog van die Sleep Renewal-slaapsentrum in Gauteng, die beskrywing van RBS-lyers op. 

“Die simptome is dikwels erger saans wanneer jy stil in die bed lê en dit kan tot slaapsteurings lei.”

“Tussen 70% en 80% van RBS-pasiënte het spiertrekkings in hul slaap, wat hul slaap ­onderbreek en tot moegheid bedags bydra,” vertel dr. Irshaad Ebrahim, ’n neuropsigiater in slaapgeneeskunde uit Londen.

Dié stigter van die London Sleep Centre het ook die internasionale iSleepClinic aanlyn begin, en in Suid-Afrika was hy verbonde aan die Mediclinic Constantiaberg se slaapsentrum.

“Die ongemak van RBS word tydelik verlig deur te strek of te loop of hitte of koue op die bene.” 

RBS is nie noodwendig pynlik nie, maar dit kan besonder lastig wees en tot “be­tekenisvolle fisieke en emosionele belemmering” lei, sê dr. Peet Vermaak, kliniese neurofisioloog van die Sleep Clinic in Mbom­bela en Pretoria.

Die kenners sê RBS-lyers kan soms ook die kriewelsensasies en skete in hul arms en elders ervaar, nie net hul bene nie.

Wat veroorsaak dit?

Daar is nog onduidelikheid oor wat presies tot RBS lei, sê Irshaad, maar die lys van moontlike oorsake is ellelank.

Risikogroepe

Navorsing toon jy loop ’n groter risiko daarvoor as jy ouer is, as dit in jou familie is of as jy ’n vrou is.

Ander toestande

Volgens Irshaad kan RBS soms opduik as simptoom van ’n toestand soos diabetes, parkinsonsiekte, ander neurologiese siektes, bloedarmoede en rumatoïede artritis. Ernstige niersiektes, senuweeskade en dialise kan ook bydraende faktore wees.

Ander medikasie

RBS hou dikwels nou verband met ’n abnormaliteit in die brein se regulering van dopamien. Medikasie soos sommige antidepressante wat jou dopamienvlakke beïnvloed, kan RBS-simptome vererger. Sekere antipsigotiese medisyne, naarheidteenmiddels of verkoue- en allergiemedisynes met ouer antihistamiene kan ook jou RBS vererger.

Yster- en mineraaltekort

’n Tekort aan yster en ander minerale speel dikwels ’n rol. Volgens Irshaad kan swanger vroue RBS ervaar omdat hul ystervlakke laer as normaal is. Die aktiewe vorm van yster – ferritien – is nodig vir die metabolisme van dopamien.

Ander faktore

“Laerugskade kan ook bydra tot RBS, en mense met slaapapnee kan moontlik ook snags RBS-simptome ervaar weens die apnee se uitwerking op hul suurstofvlakke,” sê Maurits. “Rook en nikotien, alkohol en kafeïen kan eweneens simptome vererger.”

Wat is die impak daarvan?

RBS kan jou ongemaklik laat voel en jou slaap omkrap sodat jy pal moeg is. Dit sal dan weer daartoe lei dat jy in ’n slegte luim is en lewensgehalte inboet, sê Irshaad. 

“Die toestand kan eindelik depressie tot gevolg hê.”

Die erns van RBS-simptome wissel van matig tot ondraaglik, sê Peet. RBS met ligte simptome kan by jong volwassenes kop uitsteek, maar teen ’n mens se 50’s kan dit soms vererger tot waar dit jou slaap elke nag ontwrig.“RBS het ’n baie slegte effek op die diepslaapfases,” verduidelik Maurits. 

“ ’n Tekort aan diep slaap kan lei tot hoë bloeddruk, versteurde suiker- en insulienvlakke, gewigsprobleme, hormoon- en ­gemoedsteurings, angs, depressie en geheue- en konsentrasieprobleme. Moegheid bedags kan jou werk beïnvloed en soms gevaarlik wees, veral byvoorbeeld waar mense motor bestuur of swaar ma­sjinerie beheer.” 

Hoe kan dit behandel word?

Geen enkele terapie is wêreldwyd as standaardbehandeling vir RBS goedgekeur nie, sê Irshaad.

Verskillende medisynes word wêreldwyd voorgeskryf, waaronder dopamienagoniste, bensodiasepiene, opioïede, spierverslappers, levodopa en medisynes wat vir parkinsonsiekte gebruik word (hoewel in laer dosisse).

Dis nie altyd nodig om voorskrifmedikasie vir die toestand te drink nie, veral as die simptome minder ernstig is. 

In ligte gevalle kan jy eerder met leefstylaanpassings begin, soos om meer te oefen, jou bene te laat masseer en dit in water te week. As jou RBS verband hou met ’n onderliggende siektetoestand, moet jy eers daardie toestand behandel.

“In die geval van ’n yster­tekort kan ysteraanvullings byvoorbeeld die simptome laat weggaan. Die oorsaak van RBS moet eers ondersoek word en indien moontlik doeltreffend behandel word,” som Maurits dit op. 

“Nog algemene raad wat simptome kan verbeter, sluit in om op te hou rook, suiker te vermy, alkohol en kafeïen te beperk of vermy, mineraalaanvullings, warm kompresse of baddens, strekoefeninge voor jy gaan slaap en goeie slaapgewoontes in die algemeen, byvoorbeeld om nie in die bed TV te kyk nie.

“In sommige gevalle kan RBS net beheer word, maar in baie gevalle kan dit genees word as die oorsake daarvan ten volle aandag kry.”

Hoe gemaak as jou bene snags op hul wakkerste is en jou lewensgehalte daarmee versuur? 

Moet dit nie net afmaak as niks nie – klop aan by jou dokter om dit te ondersoek. Behandeling of medikasie kan verligting bring en moontlik kan dit ook ernstiger gesondheidsprobleme aan die lig bring wat moet aandag kry.

As jou bene jou snags pla, stap dus reguit dokter toe.