Jou lewe lank dink jy ’n leesbril of oogprobleme is net vir ou mense, tot dit op ’n dag voel die syfers en letters op alles, van restaurante se spyskaarte tot jou telefoon en die prysetikette in die supermark, het oornag gekrimp.

Verswakte sig is ongelukkig ’n natuurlike deel van ouer word, sê kenners, maar daar is maniere om dit te verhoed en die newe-effekte teen te werk.

Jy is gelukkig nie alleen nie – die meeste mense se oë gaan agteruit nadat hulle 40 word. “Ek het eers op 43 probleme met my oë begin ervaar,” vertel die 56-jarige Arlene Alberts van Phalaborwa. “Dokters het gesê ek het ’n gloukoom en my oog is geopereer, waarna dit herstel het. Maar toe begin die ander een,” sê sy.

Molanu Thekiso (49) van Johannesburg het ’n soortgelyke ervaring gehad. “Ek het nooit probleme met my oë gehad nie, maar op 43 het ek besef ek benodig ’n leesbril.”

 Jou oë gaan saam met die ouderdom agteruit, nes die res van jou liggaam, verduidelik Carel Potgieter, ’n oogkundige van Emalahleni (Witbank).

“Hoewel dit waar is dat dié ouderdomsverwante verswakking nie juis gekeer kan word nie, kan jy die graad waartoe jou oë gaan versleg, voorkom deur probleme vroegtydig op te tel en te behandel,” sê hy.

Hy en ander kenners deel wenke om te keer dat jy ná 40 permanent met jou oë op skrefies rondloop.

WAAROM VERSWAK JOU OË?

“Jou sig as ’n geheel verswak nie altyd nie, maar spesifiek jou naby sig sal ná 40 agteruitgaan,” sê Marcel Snyman, ’n oogkundige wat op Stellenbosch en Gordonsbaai praktiseer.

Hy verduidelik jou oog se lens, wat jy gebruik om te fokus, verloor oor die jare sy soepelheid.

“Jou lens trek daarom moeiliker saam wanneer jy iets wil lees of na iets wil kyk en jou sig is gevolglik uit fokus.”

Dit staan bekend as presbiopie, sê die Pretoriase oogkundige Andries Janse van Rensburg.

OOGSIEKTES VAN DIE OUDERDOM

Omdat jou oë nes jou liggaam verswak, kan dit vatbaarder wees vir sekere siektes.

Katarakte kom veral weens sonblootstelling voor en laat die lens verhard en verdof. Dit verswak ook jou sig, sê Andries.

Jy is veral ná 65 vatbaar vir makulêre degenerasie, voeg Marcel by. Die makula is die middelste deel van jou sig en verkalk en verswak weens dié siekte. Dit kan tot blindheid lei.

’n Gloukoom beskadig die oogsenuwee, wat die beelde wat jy sien na jou brein stuur. Dit lei naderhand tot blindheid, sê dr. Pieter Odendaal, ’n oftalmoloog van die Pretoriaooginstituut.

Diabete is vatbaar vir ’n rits oogsiektes, veral wanneer hulle ouer word, sê Carel.

Basaalselkarsinome, ’n soort velkanker, kan op die ooglede voorkom, verduidelik Truter van der Walt, ’n oogkundige van Bloemfontein.

WERK SO DIE SKADE TEË

  • Eet jou oë jonger. Kenners sê dis bewys dat die volgende kosse swak sig en oogveroudering teenwerk:
  • Groen groentes, soos spinasie. Dit bevat baie antioksidante.
  • Vis wat baie omega-olie bevat soos makriel, forel en salm.
  • Sonneblomsade en amandels.
  • Knoffel, wat baie selenium bevat.
  • Eiers.
  • Wortels en ander geel of oranje groente.
  • Sitrusvrugte en bessies.
  • Wees op die uitkyk vir aanvullings wat spesifiek gemaak word om oë te beskerm, sê Truter. Goeie aanvullings bevat ’n samestelling van die voedingstowwe en vitamiene in die kosse hierbo.
  • ’n Ongesonde dieet kan tot hoë bloeddruk, cholesterol en diabetes lei, wat oogverwante siektes kan veroorsaak.

WEES VERSIGTIG

Die volgende faktore kan ook bydra tot jou sig se agteruitgang, maar daar is maniere om die skade te voorkom of teen te werk:

Die son: Dit kan toestande soos katarakte, pterigium en kanker veroorsaak, sê Marcel.

“Sonblootstelling en ultravioletstrale (UV) beskadig die oog se vlies en kan tot verswakte sig of ’n groeisel op die vlies lei,” sê Pieter. Hy sê jou sonbril moet UV kan blokkeer.

Marcel voeg by mense wat gereeld in diebuitelug is, moet ’n beter UV-beskermende bril dra.

Dit is daarom wys om in ’n goeie sonbril te belê pleks van goedkoper nievoorskrif-weergawes te gebruik wat nie UV blokkeer nie, sê Aletta Cronjé, ’n oogkundige van Boksburg.

Rook: Dit beskadig jou oë en kan jou vatbaarder maak vir toestande soos makulêre degenerasie.

Oefening: “Oefeninge wat help met skeel oë, dubbelvisie of oog-hand-koördinasie, kan vrugte afwerp,” sê Marcel. Dit word saam met ’n oogkundige gedoen.

Knip: Truter sê jy moet jou oë gereeld knip om hulle ’n blaaskans te gee.

Jou leesbril: Marcel sê ’n ongetoetste leesbril wat van die rak af gekoop word, kan jou sig verder verswak. “As jy lang tye voor jou rekenaar sit of lees, moet jy ’n bril kry wat getoets is vir jou oë se behoeftes,” voeg Carel by. ’n Kenner behoort jou blootstelling aan die omgewing in ag te neem tesame met jou werkruimte en -omstandighede en hoeveel tyd jy voor ’n rekenaarskerm deurbring, sê Marcel.

Higiëne: Moenie met vuil hande aan jou oë vryf nie, maan Marcel. Dit kan tot ’n verskeidenheid infeksies lei.

Skerms: “Ons oë is deesdae pal op skerms vasgevang, wat ’n besliste uitwerking op ons oë en sig het,” sê Carel. Hy stel voor jy neem ná elke 45 minute se fokus op ’n skerm ’n blaaskans van 10 minute. “Kyk dan in die verte en probeer op iets weg van jou fokus. Probeer ook jou tyd op jou selfoonskerm beperk.”

Jou werk: As jou beroep hoegenaamd jou oë aan skadelike stowwe of middels blootstel, moet jy ’n veiligheidsbril dra, waarsku Marcel.

Besoek 'n kundige as:
  • Jy met dowwe sig sukkel, jou oë sukkel om te fokus of seer raak, sê Marcel Snyman, ’n oogkundige.
  • Jy flitsende ligte sien; dit kan daarop dui dat jou retina agteruitgaan, sê die oftalmoloog Pieter Odendaal.
  • Jy ’n familiegeskiedenis van swak sig of oogprobleme het. Besoek van jongs af ’n kundige. Jy behoort ná 40 elke twee tot drie jaar vir ’n roetineondersoek te gaan, sê Pieter. Heelparty oogsiektes het geen simptome nie; daarom is dit wys om enige verandering met ’n kundige te bespreek, sê die oogkundige Carel Potgieter. “As siektes nie vroeg genoeg gediagnoseer word nie, kan dit tot swakker sig en selfs blindheid lei.”
Pasop vir dié wolhaarstories

“Om in die donker te lees beskadig jou oë.”
Dit is onsin, sê die oogkundige Andries Janse van Rensburg. “Jy gaan net sukkel om te lees.”

“Te veel TV kyk en om te naby aan die skerm te sit beskadig jou oë.”
Die oogkundige Marcel Snyman sê daar is geen bewyse hiervoor nie. Hy sê as ’n kind teenaan die skerm sit, kan dit wel daarop dui dat hy sukkel om te sien en ’n bril benodig.

“Om ’n bril te dra maak jou oë afhanklik en swakker.”
Marcel sê ’n bril doen juis die werk vir jou oë sodat dit nie oorwerk word en verswak nie.

“Jy kan na die son kyk solank jy ’n sonbril ophet.”
Jy kan wel permanente skade aanrig, maan die oogkundige Carel Potgieter.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.