Dokters en gesondheidskenners is vol vertroue dat oorgewig mense hulself kan help om ’n beter fatsoen te kry deur maatbande in te span. So kan hulle verantwoordelikheid vir hul eie gesondheid aanvaar.

Algemene praktisyns in Brittanje is bekommerd dat die gewone weeg en meet van mense nie ’n verskil maak aan hul gesondheid nie en dat pasiënte waarskynlik meer aan hul liggaam sal werk indien hulle ’n proaktiewe rol speel op hul reis na ’n bestendige gewig.

Prof. Helen Stokes-Lampard, voorsitter van die Royal College of GPs (RCGP), wil hê mense moet self hul bloeddruk, gewig en middellyf in die dokter se spreekkamer meet. Sy verduidelik: “As pasiënte dit self doen, moedig dit hulle aan om meer belang te stel in hul gesondheid, in selfsorg.

“En, wat gewig betref – ons weet vetsug is ’n belangrike kwessie – die proaktiewe benadering bring dit onder hul aandag; dis nie ’n passiewe ding waaroor hulle geen beheer het nie. Dit word reeds met groot sukses in sommige algemene praktisyns se spreekkamers gedoen. Jy het ’n bietjie ruimte en privaatheid nodig, want sommige mense hou nie daarvan om hul middellyf in die wagkamer te meet nie. Hulle doen dit eerder graag in ’n stil hoekie.”

Vetsugvlakke is aan die toeneem in Brittanje; twee uit elke drie volwassenes is oorgewig of vetsugtig.

Tam Fry van The National Obesity Forum stem saam met prof. Stokes-Lampard se voorstel. Sy beskou dit as ’n “uitstekende idee” en reken dit sal die land se regering die miljoene spaar wat hy nou uitgee om “kinderwagter te speel en baas te speel oor die publiek”.

“Dis ’n goeie plan om die pasiënte sover te kry om hul eie gewig, lengte en middellyf te meet terwyl hulle in die spreekkamer vir hul beurt wag,” het Fry gesê.  “Die algemene praktisyn kan dan sy kliniese oordeelsvermoë gebruik om raad te gee en die pasiënt voel betrokke.

“Dit handel oor die bemagtiging van mense. Ons moet welsyn en voorkoming bevorder eerder as om siekte te genees.”

© Cover Media