Baie dinge kan ’n goeie nagrus beïnvloed. Beskuldigde nommer een: jou selfoon.

Dit lol as jy saans op TikTok, Facebook, Instagram en Snapchat uithang en nie een meme wil misloop nie. Dit hou jou lank ná jou bedtyd wakker, maar dit keer ook dat jy diep slaap omdat jou brein nog sukkel om af te skakel lank nadat jy al jou foon gebêre het.

Maar om vroeg genoeg te gaan slaap is soms makliker gesê as gedaan, veral wanneer jy eers saans tyd vir jouself het.

Die nuwe animasiedokkiereeks Headspace Guide to Sleep op Netflix wil mites oor slaap opklaar en jou wys hoe om goeie slaappatrone te vestig.

Dit klink dalk vervelig om tyd af staan om te leer hoe om lekker te slaap, maar ’n goeie nagrus is noodsaaklik vir jou gesondheid en geluk. Jy sal sommer beter voel as jy snags genoeg slaap.

Hier is drie dinge wat ons uit die dokkie geleer het wat jou sal help om vanaand lekker te slaap sodat jy môreoggend vars kan lyk vir ’n nuwe selfie.

1. LEER MEDITEER

Meditasie klink dalk na ’n vreemde ding wat jy op televisie sien en waarvan jy op podcasts hoor. Maar in die eerste episode van die reeks, waarna jy sommer in die bed voor slaaptyd kan kyk, leer hulle jou om te mediteer.

Foto: Netflix
Foto: Netflix

Hulle wys jou stap vir stap hoe om asem te haal sodat jou liggaam kan ontspan.

Ons het dit beproef en so ’n heerlike nagrus gehad dat ons amper die volgende oggend verslaap het.

2. NEE VIR TOESTELLE

Slaappatrone word erg versteur deur toestelle soos selfone, TV’s en laptops. As jy byvoorbeeld ’n oulike foto met helder kleure daarop sien, word dopamien in jou brein vrygestel.

Dié hormoon laat ons gelukkig voel; en dis hoekom dit so moeilik is om die toestel neer te sit.

Gebruik eerder jou foon om te luister na ’n podcast oor slaap of natuurklanke op Spotify wat jou sal kalmeer. ’n Selfs beter idee is om die toestel ’n uur of twee voor slaaptyd weg te bêre.

3. Kry jou stresvlakke onder beheer

Dolfyne slaap met die een helfte van hul brein op high alert om seker te maak dat hulle nie aangeval of opgevreet word nie.

Dis wat stres aan jou kan doen: Dit maak dat jou brein baie waaksaam bly en keer dat jy nie behoorlik slaap nie.

Die raad van kenners in die dokkie is om seker te maak jy doen genoeg oefening en maak tyd in die dag om dinge te doen wat jou laat ontspan soos om die natuur te verken, te gaan stap of ’n boek te lees.

Hulle beveel ook asemhalingsoefeninge aan om jou brein en senuweestelsel te kalmeer. Al hierdie dinge sal help om jou stresvlakke te verminder.

DÍS ONS SLAAPPATROON

Dié bekendes verklap hoe hulle ’n goeie nagrus kry.

Craig Adriaanse

Craig Adriaanse. Foto: Verskaf
Craig Adriaanse. Foto: Verskaf

“Ek raak nie sommer maklik aan die slaap nie,” sê die Arendsvlei-akteur.

“As ek die dag verskriklik besig is met werk en ek is op en af, kan ek saans op ’n normale tyd gaan slaap, en dit nie lank om aan die slaap te raak nie omdat ek te moeg is. Maar as ek ’n rustige week het, kan dit vir my moeilik wees om aan die slaap te raak.

“Ek is soms te laat nog besig met die sosiale media en my aandag word deur video’s afgetrek. En as ek weer kyk, is dit al halftwaalf. So, die foon is nommer een. Daai moet af as jy gaan lê.

"My ma sê ook altyd vir my: ‘Sit af daai foon.’ Dis belangrik vir my om ook nie laat in die aand sterk koffie te drink of ’n groot bord kos of soetigheid te eet nie. Voor ek saans gaan slaap, moet ek na rustige musiek luister of video’s kyk van mense wat sing. Dit is baie goed vir my.

“In my kamer het ek ook ’n klein air revitaliser waarin jy druppels gooi vir beter slaap. Ek sit dit saans aan en dit help my om vinniger en gemakliker aan die slaap te raak.”

Nina Smit

Nina Smit. Foto: Verskaf
Nina Smit. Foto: Verskaf

“Ek raak binne vyf minute aan die slaap, maar net voor ’n skerm met ’n blêrende TV-reeks. Dit is ’n slegte gewoonte wat in my koshuisdae begin het en nie sommer afgeleer gaan word nie,” sê die Die Boekklub-aktrise.

“Ek is op my produktiefste vroegoggend en laataand. Ek dink die feit dat ek naby aan bedtyd hoëdrukwerk doen, maak dat ek langer vat om af te skakel.

"Ek is mal daaroor om bedtime yoga op YouTube te doen en so ’n 45-minute-sessie te doen om my gedagtes te kalmeer. Dit maak dat ’n mens soos ’n klip slaap!”

EKSTRA BRON: HEADSPACE GUIDE TO SLEEP
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.