Chroniese slapeloosheid is ook al in sommige opnames met tipe 2-diabetes verbind, daarom is dit ekstra belangrik om in die gehalte van jou slaap te belê.

Onlangse navorsing toon die gemiddelde volwassene slaap net 6,8 uur per nag. Wat kan ons doen om langer en dieper te slaap? ’n Goeie begin is om te kyk na matrasse, kussings en ander bed-hulpmiddels wat jou kan help om langer en beter te sluimer.

Jy het moontlik die advertensies vir matrasse gesien en ook die bewering dat ons elke vyf jaar ’n nuwe matras behoort te koop. Jy dink dalk dis oordrewe, maar die verandering van matras kan die sleutel wees tot ’n goeie nagrus en ’n gevoel van uitgerustheid en verfrissing die volgende dag.

James Cox, medestigter van die vervaardiger Simba Sleep, het gehelp om ’n produk te skep met die belangrikste fokus op die gehalte van slaap, die Simba Hybrid-matras. Dit is op die oomblik een van die gewildste matrasse in Brittanje en dis nie moeilik om te verstaan hoekom nie. Dit was die eerste matras met dubbele vering en geheuespons en dit spog met tegnologie wat die eindproduk is van meer as 80 prototipes. Klante kan boonop so ’n bobaasmatras op maat laat maak.

“Volgens ons data hoef jy jou nie te bekommer oor of die bed hard is of sag nie, wat wel saak maak is dat jy iets skep wat die behoeftes van die individu in ag neem,” het James aan ons gesê.  “Ons hibriedproduk is die enigste matras wat jou die beste van albei wêrelde bied, daarom hoef jy nie gemak óf ondersteuning in te boet nie.”

Maar dis nie net die matras wat ’n groot invloed op die gehalte van jou slaap het nie. Dit neem vir sommige mense jare om ’n goeie kussing te kies, want party hou van ’n sagte, donsige kussing, terwyl ander ’n platter, stywer ontwerp verkies. Indien jy probleme het met jou rug of nek, is dit ook noodsaaklik om ’n kussing te kies wat jou behoorlik steun terwyl jy slaap. Tempur bied ’n verskeidenheid van ontwerpe vir diegene met rug- of nekprobleme, en daar is ook ’n driejaarwaarborg op hul kussings.

Dis die moeite werd om te let op die materiaal waarmee die kussing gestop is. Vere is ’n goeie keuse vir ’n weelderige, sagte kussing, maar dit kan ook  probleme met allergieë veroorsaak.  Daar is so baie sintetiese ontwerpe in die mark dat dit sommer maklik is om jóú soort kussing te kry.

Die keuse van bedlinne kan ook die gehalte van jou slaap beïnvloed. Wie ken nie daardie wonderlike gevoel as jy in ’n vars oorgetrekte bed kruip nie?  Wel, linne van goeie gehalte sorg dat daardie gevoel selfs langer duur. Belê in termoregulerende duvets en beddegoed van natuurlike stowwe. Dit is nie goedkoop nie, maar beslis die prys werd. Wie kan nou ’n goeie nagrus in geldwaarde meet?