Wanneer laas het jy jouself op die skouer geklop? Gebeur dit so selde jy kan dit skaars onthou?

Wel, dis glad nie verbasend nie. Vir die meeste mense is dit makliker om hulself streng te beoordeel en selfs te kasty as om vir hulself ’n pluimpie te gee. Dit klink dalk na ’n kleinigheid, maar kritiese gesprekke met jouself kan gou ’n slegte gewoonte word.

Knaende selfkritiek is selfvernietigende gedrag wat jou van geluk beroof. En hoe langer jy dit doen, hoe moeiliker is dit om die gewoonte te verbreek.

Ongelukkig is ons geneig om ons eie grootste vyand te wees. Ons sê byvoorbeeld “ja” wanneer ons eintlik “nee” wil sê – as ons “nee” sê, voel ons skuldig.

Om take voortdurend uit te stel en dan skuldig en vol selfverwyt daaroor te voel is nog ’n gewoonte wat ons innerlike vreugde demp.

“Selfvernietigende gedrag spruit dikwels uit ’n swak selfbeeld,” sê dr. Carla Dukas, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad.

“As ons voel ons verdien nie vreugde, regverdige behandeling of dat goeie dinge met ons gebeur nie, tree ons op maniere op wat ons geluk ontneem.”

Baie van ons doen dit onbewustelik; daarom is die eerste stap om van hierdie selfvernietigende patrone bewus te word sodat jy dit summier in die kiem kan smoor.

Huisgenoot het kenners gevra om algemene gedragspatrone te identifiseer wat op ons lewensgeluk inbreuk maak en wenke te gee oor hoe om daaruit los te breek.

Jy is te streng met jouself

“Ek sal nooit bevorder word nie”, “ek is te oorgewig om sexy klere te koop” en “ek is nie goed genoeg as ’n ouer nie” – daardie lastige stemmetjie in jou kop laat hom op verskillende maniere hoor.

Gedagtes is magtig – dit oefen ’n groot invloed uit op hoe jy voel en optree; daarom het dit die mag om ’n selfvervullende voorspelling te word.

As jy gedurig vir jouself sê jy vaar nie goed met ’n bepaalde ding nie, sal jy optree asof jy hopeloos daarmee is.

Verander dit so:

“Die eerste stap is om te herken wanneer die gedrag kop uitsteek en om dan uit te pluis wanneer dit die aktiefste is,” sê Carla.

“Is dit ná ’n slegte dag by die werk? Of wanneer jy nuwe mense ontmoet? Die tweede stap is om die kritiese gedagte stop te sit en die derde om dit met ’n positiewe een te vervang.”

Nes die kritiese selfgesprekke ’n gewoonte geword het, sal dit mettertyd ’n gewoonte word om jouself te keer wanneer jy daarmee begin en eindelik sal jy die draaiboek verander wat in jou kop afspeel, verduidelik sy.

’n Goeie manier om uit te pluis met watter positiewe gedagte jy die selfkritiek kan vervang, is om te dink wat jy vir ’n vriend in dieselfde situasie sou sê.

“Die meeste mense vind dit makliker om goedhartig teenoor ander as hulself te wees,” sê Olga Molebatsi, ’n beradingsielkundige wat in Pretoria en Rustenburg werk.

Wat sal jy vir ’n vriendin sê as sy kla sy haat haarself omdat sy voor die versoeking geswig het om ’n stuk sjokoladekoek te eet?

Sal jy vir haar sê jy’s geskok deur haar optrede? Nee? Moet dit dan nie vir jouself sê nie.

Jy bly uitstel

Stel jy altyd take uit wat jy verpes? Voel jy dan skuldig of verwyt jy jouself daaroor?

As jy take uitstel, stel jy ook die gevoel van bevrediging en geluk uit wanneer dit afgehandel is.

“Suksesvolle mense verrig eers die take waarvan hulle nie hou nie voor hulle enigiets anders doen en voel daarom gelukkiger.

"Boots hulle na en jy sal meer geluk ervaar,” sê dr. John Moore, ’n Amerikaanse sielkundige en skrywer van die boek Confusing Love with Obsession: When Being in Love Means Being in Control.

Jy bly dalk uitstel omdat jy langtand is om iets nuuts op die proef te stel of omdat jy bang is jy sal daarmee misluk of dit nie reg doen nie, sê Carla.

“Mense is gewoontevas en verandering maak ons dikwels ongemaklik; daarom kan dit vir ons vreesaanjaend wees om iets nuuts aan te pak,” sê sy.

Verander dit so:

Of dit ’n nuwe uitdaging of ’n sleurtaak is wat jy uitstel, verdeel dit in kleiner, hanteerbaarder doelwitte.

“As jy dit byvoorbeeld oorweeg om te begin draf of dalk selfs ’n halfmarathon te voltooi, verdeel dit in bereikbare mylpale,” sê Carla.

“Begin deur 20 minute te stap. Laat jouself toe om trots op jou prestasie te wees. Daarna pak jy die volgende doelwit aan.”

‘Suksesvolle mense verrig eers die take waarvan hulle nie hou nie’

Jy stel ander eerste

As jy gedurig jou tyd en energie aan ander wy sonder om self enige genot daaruit te put, is dit ’n probleem.

Dis goed en wel om ander te help, maar net as dit ook vir jou plesier verskaf. As jy dit heimlik verpes, sal jy ’n wrok begin koester.

“As van jou vriende verwag jy moet altyd aan hul behoeftes voldoen, ongeag waarmee jy besig is of hoe jy daaroor voel, sal dit jou uitput,” waarsku Olga.

Verander dit so:

Jy sal eers selfondersoek moet doen.

“As jy nie graag vir mense nee sê nie omdat dit jou angstig laat voel, moet jy bepaal wat die rede daarvoor is.

"In die meeste gevalle is dit ’n vrees vir verwerping of om ander teleur te stel. Vra jou af waarom jy dink dis oukei as almal om jou gelukkig is behalwe jy,” raai Olga aan.

’n Swak selfbeeld is dikwels die wortel van die kwaad, sê Carla. As dit vir jou moeilik is om op jou eie daardeur te werk, raai sy jou aan om professionele hulp te vra.

Jy heg te veel waarde aan aardse dinge

Daar skort niks met materiële dinge nie, maar as geld, jou beeld na buite en aardse besittings vir jou belangriker as goedhartigheid en empatie word, word jy ’n ongelukkige mens, waarsku Scott Jeffrey, ’n Amerikaanse lewensafrigter en skrywer van die boek Creativity Revealed: Discovering the Source of Inspiration.

As jy op geestelike waardes fokus, kan dit jou help om innerlike geluk te skep.

Maar dis makliker gesê as gedaan wanneer ons in die sosiale media gebombardeer word met die beeld wat mense van hulself vir die wêreld voorhou en dan onsself met hulle begin vergelyk.

Verander dit so:

Dis maklik om te voel jy skiet tekort as jy jou teen materiële dinge blindstaar, want ons is geneig om te fokus op dit wat ons nie het nie pleks van dit wat ons wel het.

“Tel jou seëninge en erken en aanvaar waar jy nou in die lewe is. Sit tyd opsy om in jouself te belê. En as jy ’n blaaskans van die sosiale media moet neem om jou daarmee te help, doen dit,” sê Olga.

Carla stel voor jy hou ’n dankbaarheidsdagboek.

“Om elke dag tyd daaraan te wy om doelbewus te dink aan die dinge waarvoor jy dankbaar is, is ’n kragtige manier om jou gemoedstemming én die slegte gewoonte om gedurig te voel of jy aan die kortste end trek, te verander.”  

Jy verswyg jou behoeftes

Verwoord jy jou frustrasies of bly jy stil as jy ongelukkig oor iets voel?

As jy eerder die swye bewaar, waarom doen jy dit? Voel jy dalk jy is nie daarop geregtig om ontsteld te wees nie?

“Dit is noodsaaklik om aan negatiewe emosies soos frustrasie of ongelukkigheid uiting te gee en jy het niemand se toestemming daarvoor nodig nie,” sê Olga.

Verander dit so:

As jy ongelukkig is met iets of iemand, pluis uit hoekom dit so is. Weerhou jy jouself daarvan om vir jou maat te sê jy dink hy of sy is selfsugtig, want jy glo nie werklik jou behoeftes is geldig nie?

Dis nie maklik om daardie skuif te maak nie, maar dis nodig, want anders sal jy nie met oortuiging jou behoeftes kan oordra nie.

Vermy verwyte en beledigings tydens so ’n gesprek, anders kan die ander persoon hulself begin verdedig en nie hoor wat jy eintlik probeer sê nie, waarsku Olga.

“Pleks daarvan om te sê: ‘Jy maak misbruik van my,’ sê eerder: ‘Ek voel ek word misbruik en is teleurgesteld dat ek myself toegelaat het om in hierdie posisie te wees.’

"En pleks van om verwytend te sê: ‘Jy dink nie aan my nie,’ sê eerder: ‘Ek voel ek stel jou behoeftes voor my eie en ek voel wrewelrig daaroor.’ ”