As jy teen oud word baklei en oor die nadele kla, sal jy die res van jou lewe mistroostig wees.

Veroudering is iets wat jy doen, nie iets wat gebeur nie. Met veroudering bedoel ek dat jy mettertyd meer van ’n mens en meer jy word. Dink maar aan sekere kase en wyne. Ons sit dit eenkant om te rus tot dit reg is.

Tyd verbeter dit, terwyl ’n innerlike chemie dit omskep en geur gee. Mense verouder op dieselfde manier. As jy die lewe jou laat vorm, sal jy ’n ryker, interessanter mens word. Ons moet realisties wees oor die nadele van veroudering, maar positief oor die vreugde daarvan.

As jy veroudering hartseer, skrikwekkend of selfs walglik vind, moet jy ’n kopskuif maak. Jy kan betekenis vind waar jy voorheen net wanhoop gesien het.

As jy nie jou siel koester nie, verouder jy nie. Jy is dalk aktief, maar jou aktiwiteit skep nie ’n verband met die wêreld om jou nie.

Wanneer jy werklik verouder, is jy betrokke, en uit daardie dieper belewenis kry jou lewe ’n doel en betekenis – sielsgeskenke.

Die eerste smaak van veroudering

Jou eerste ervaring van oud word kan ontstellend wees. Jy begin styf en seer voel ná oefening. Jy staan moeiliker van ’n rusbank op. Jy sien ’n paar plooie en ’n nuwe kreukel. Mense behandel jou ­anders, bied aan om jou te help, vra oor jou gesondheid. Hulle sê jy lyk goed – maar eintlik bedoel hulle “ . . . vir jou ouderdom!” 

In my 60’s het iets gebeur wat my verplig het om ernstig oor veroudering te dink. Ek was op ’n boektoer in San Francisco en het in die steil strate gestap toe ek ’n ongewone pyn in my rug voel.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Ek is daarna na Seattle en het weer die pyn gevoel en toe op straat duiselig geword. Ek het ’n paar minute lank aan ’n paal vasgehou terwyl my kop draai. 

Terug by die huis het my dokter ’n hartprobleem vermoed en ’n strestoets gereël. Dit blyk toe een van my hoofslagare is verstop. Ek het twee stente gekry – wat nie pynlik was nie, maar emosioneel het ek gesukkel om te herstel.

Ek het in ’n matige depressie verval. My vrou sê ek het ’n ander mens geword, sagter en meer ontspanne. Ek het beslis ouer gevoel. Nou, 10 jaar later, is dit asof daardie dae van herstel ’n keerpunt was waarin ek regtig my ouderdom begin voel het. 

Maar die depressie het nie lank geduur nie. Buitendien het ek ná die behandeling so goed gevoel dat ek ’n bietjie jeugdigheid teruggekry het. In die jare daarna het ek ’n aktiewe en ­produktiewe lewe gelei, sowel in my loopbaan as gesinslewe.

Fases van ouer word

Die ouderdom haal jou geleidelik in. Eers bespeur jy ’n paar grys hare, of jy kan nie so ver soos gewoonlik stap of draf nie. Jy begin ander tekens soek. 

In ­gesprekke is jy sensitief vir die onderwerp van veroudering. Jy luister aandagtig. Jy begin – dalk vir die eerste keer – wonder oor die ouderdom van jou vriende. 

Elke vooruitgang in die lewe het ook ’n angel

Sowat ’n kwarteeu lank dink jy nie veel oor ouderdom nie. Die eerste voor-smaak, wanneer letterlike jeug agtergelaat word, is ietwat van ’n skok. Die volgende fase is ’n jare lange proses waartydens jy strukture vir jou lewe skep en iemand anders word. 

Daarna besef jy stadigaan jy is op vele maniere nie meer jonk nie en moet by baie veranderings aanpas. Laastens kan jy bejaardheid soos ’n snyersjas aantrek. Dan identifiseer jy jouself as ’n “oudste”. 

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die laaste fase is half misties: Jy vergeet van ouderdom, hanteer jou liggaamlike probleme saaklik en bevry jouself van beoordeling en ander beperkings. 

Jy ontwikkel dalk ’n meer mistiese benadering tot die lewe en ouer word en bekommer jou minder oor wat ­ander mense dink. 

Elke vooruitgang in die lewe het ook ’n angel. Dit laat jou wakker skrik en moedig jou aan om aandag te gee. Wanneer jy die angel vermy of dit wegpraat of jou daarvoor afstomp, word jy nie ouer nie – en dít is ’n tragedie. 

Melancholie: ’N Weg tot geluk

Jy is dalk hartseer omdat jy ouer word. Jy beweeg nader aan die einde van die lewe. Jou liggaam is nie so sterk en soepel soos eens nie. Jou vriende sterf. Jy is bekommerd oor jou gesondheid. Jou geheue glip weg.

Wat is lekker aan dié aspek van bejaardheid? Wel, melancholie is net so natuurlik soos verlange en vreugde. As jy nie leer om dit te verstaan nie, sal jy waarskynlik ook nie geluk herken wanneer jy dit sien nie. Hartseer is ’n natuurlike deel van ouer word.

Jy hoef dit nie “reg” te dokter of pogings aan te wend om kunsmatig gelukkig te wees om dit te oorkom nie. As jy jou emosies en luime uitleef, sal jy dalk lewendiger, minder op die agtervoet en meer teenwoordig voel. Ek raai jou aan om nie aan jou hartseer te dink as depressie nie.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dit laat jou dink jou melancholie oor die verbygaande jare is ’n siekte. Melancholie is nie klinies nie. Jy gaan nie dokter of apteker toe om oor melancholie te kla nie. Deur alledaagse aktiwiteite kan jy die swartgalligheid van melancholie verlig en gesonder leef.

Gaan stap in die natuur en moenie veel tyd saam met negatiewe mense deurbring nie. Ek voel die melancholie van ouderdom amper elke dag. Ek wens ek kon vir altyd leef. Ek hou immers nie van die idee van sterf nie. Die lewe kan moeilik wees, maar dit is pragtig.

Wat is die alternatief in elk geval? Wat dit nog meer frustrerend maak, is dat ons niks oor die dood weet nie. Ons kan net hoop op ’n hiernamaals. Baie intelligente mense sou sê die hiernamaals is ’n illusie wat veronderstel is om ons gerus te stel.

Woody Allen het byvoorbeeld geskryf: “Ek is nie bang vir die dood nie. Ek wil net nie daar wees wanneer dit gebeur nie.” My vrou sê sy voel saans melancholies. Ek voel soggens so, wanneer ek wonder hoeveel oggende ek oorhet.

Jou melancholie is jou eie; daar is geen reëls daarvoor nie. Ek soek maniere om van die knaende gevoel ontslae te raak, maar besef ook ek moet vrede daarmee maak. Dit sal nie weggaan nie. Dis deel van ouer word.

Ek moet die melancholie voel, dit by my laat insypel, dit my laat omskep in ’n opregte ouer mens wat dit nie alles wil verander nie. Jy kan nie die ouderdom oorwin nie. Aanvaar dit. Wees ouer. Staan passieloos in die presiese ouderdom wat jy is.

Geen verskonings, geen ontkennings, geen wegsluipery nie. ’n Goeie strategie vir ouer word is om openlik te wees oor jou ouderdom. Laat mense jou sien vir wie jy is, al het jou donker hare grys geword.

Ontwikkel ’n duideliker, dieper selfbegrip

Ouer word met siel is die proses waardeur jy ’n voller, ryker en interessanter mens word. Dit gebeur mettertyd en verg aktiewe deelname deur jou. Hier is ’n paar riglyne oor hoe om sielvol te verouder:

Foto: Gallo Images/ Getty Images
  • Aanvaar die lewe se uitnodigings vir groter en dieper ervarings. Voorbeelde sluit in reise na onbekende plekke, die aanleer van nuwe vaardighede, ’n nuwe pos of beroep, nuwe vriendskappe en verhoudings.
  • Besin oor jou lewe en ervarings deur middel van openlike en indringende gesprekke. Gebruik jou vriendskappe om betekenisvol te gesels. Om jou ervarings op ’n ondersoekende manier te hersien kan jou diepte en kompleksiteit gee.
  • Besin oor waar jy vandaan kom. Is jou wortels in Afrika, Europa of die Ooste? En wat bied jou herkoms jou? Dit kan jou help besef wie jy is en watter soort mens jy kan word namate jy ouer word.
  • Gebruik reis as ’n manier om te ontdek wie jy is en waartoe jy in staat is. Reis hoef nie bloot vermaak te wees nie. Dit kan ’n doel hê, ’n persoonlike punt vir jou ontwikkeling. Jy kan kies waarheen om te reis deur te weet hoe stukke van jouself om die wêreld verstrooi is.
  • Lees skrywers wat jou ’n spieël voor jouself laat hou en jou idees gee oor wie jy dalk kan word. Leer vaardighede in byvoorbeeld die kunste aan wat jou met verborge talente en genietinge verras. Om te eksperimenteer is ’n belangrike deel van goeie veroudering.

Seksualiteit in veroudering

Een sonderlinge aspek van ouer word het te doen met seksualiteit. Op 76 het ek ’n objektiewe waardering vir mooi jong vroue, maar ek ervaar ek stel nie belang nie. Maar ek vind ouer vroue, vroue van in die 60 en 70, aantrekliker. 

Ons verskil natuurlik almal. Party mense word vinnig oud en verloor skynbaar hul belangstelling in seks. Ander se libido bly sterk. 

Jy moet dalk leer dat seks nie net vir die jonges is nie

Vanselfsprekend is dit ’n fout om te dink ouer mense stel nie in seks belang nie. Party wil seks hê, maar medisynes, operasies of die gebrek aan ’n maat kom tussenbeide. 

Maar daar is ook ’n sielkundige hindernis. Party ouer mense dink dit is ­onbetaamlik om op hul ouderdom te wil seks hê. En dit help nie as sommige jonger mense verbasing of selfs afkeer toon oor ’n ouer mens se belangstelling in seks nie. 

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Seks kan jou uit jou alledaagse tyd en ruimte dryf na ’n vlak waar jy diep in jou gedagtes, gevoelens en sensasies beweeg. Soms kan dit selfs soos ’n mistieke ervaring voel. In hierdie soort seks is ons ouderdomloos, nie jonk of oud nie – of albei. 

Jy moet dalk hierdie “sielvolle” waardering vir seks ontwikkel en dit benader met die bedoeling om dit diep en betekenisvol te maak.

Jy moet dalk die les leer dat seks nie net vir die jonges en net liggaamlik is nie; dat jy so diep in gevoelens en emosies kan verkeer dat jy op ’n positiewe manier verlore raak, soos gelowige mense hulself in meditasie verloor. 

Jy kan seks dalk selfs benader asof dit ’n soort meditasie is wat ’n verhouding dien en jou terselfdertyd met die groot misterie van die lewe in aanraking bring. 

Siekte as ’n inwyding

Ons is geneig om aan siekte te dink as ’n liggaamlike defek wat herstel moet word. Maar as ’n ervaring – emosioneel, intellektueel en rasioneel – kan siekte ons dwing om ons lewe te ondersoek, ons sterflikheid te trotseer en ons waardes agtermekaar te kry.

Jare gelede het ek ’n boek oor die siel van medisyne geskryf, en in die navorsingsfase het ek met baie gesondheid­sorgwerkers en pasiënte onderhoude gevoer.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Daar was een algemene sentiment onder baie pasiënte met wie ek gepraat het: Hulle het gewens dit was nie nodig om die pyn en angs van siekte te ervaar nie – maar terselfdertyd gesê dit was die beste ding wat met hulle kon gebeur het. Siek wees het hulle gedwing om hul lewe te heroorweeg, veral hoe hulle hul tyd bestee en hul verhoudings hanteer.

Die herinnering aan hul sterflikheid het die behoefte geskep om te verander en hul lewe te laat tel. Hulle het die kosbaarheid van elke dag begryp en verby die klein probleme in hul huwelik en familie begin kyk. Hulle het gevoel hulle het danksy hul siekte ’n beter mens geword. 

Elke keer dat ek saans by ’n hospitaal verbyry en die ligte in die vensters sien, dink ek aan al die mense wat daar lê en dink en voel en wonder. Hulle broei hul siekte in hul siel in.

Daardie stiltetyd is belangrik. Dis ’n geleentheid vir mense om in te neem wat hulle ervaar en hul verbeelding deur allerhande gedagtes en bekommernisse te laat dwaal. In die proses word hulle mense, doen ontdekkings en word deur hul ervaring omskep. 

Wat is die siektes van die siel wat in liggaamlike probleme kan verander? Angs is ’n groot een. Vandag is baie mense die meeste van die tyd rasend terwyl hulle met hul bedrywige lewe probeer tred hou. Maar jy kan aktief wees sonder om jou ontspanningstyd prys te gee. 

Vind hulpbronne wat vir jou werk. Ek vul blokraaisels in, luister op YouTube na musiek, kyk ou swart-wit rolprente, speel gholf, speel klavier, lees speur­verhale en gaan stap in die ­natuur. Verskeie vorme van meditasie en joga kan jou hele liggaam en verstand help ontspan. 

Ek vra jou om ontspanning ernstig op te neem. Doen iets daaraan wanneer jou gedagtes op hol gaan of jou emosies aan flarde is. Gaan bad. Gaan stap. Kyk ’n rolprent. Mediteer. Lees ’n gedig. 

Wees presies wie jy is en die ouderdom wat jy is

Die doeltreffendste manier om ouer word te hanteer is om presies te wees wie jy is. Moenie ouer word probeer vermy deur jou voor te stel dinge kan anders wees nie. Moenie dink mense jonger as jy is beter daaraan toe nie.

Moenie jou jeug terugwens nie. Moenie die negatiewe aspekte van ouer word ontken nie. Wees presies wie jy is en presies die ouderdom wat jy is.

Ons sluit af met die grootse teenstrydigheid van almal: Jy word beter oud deur jou ouderdom te omhels – met gepaste melancholie – maar kies terselfdertyd om ouderdomloos te leef, met al die vreugde wat jy kan versamel. 

Dit verg dat jy verstaan jy is nie jou liggaam nie, jy is nie die som van jou ervarings nie, en jy is nie so beperk deur tyd as wat jy dalk gedink het nie. 
Jy het ’n siel, die rivier van lewenskrag waaruit jou lewe vloei, ’n takrivier van ’n veel groter siel van die wêreld. 

Jou siel is daar in elke oomblik van elke ervaring in tyd, maar dit is ook ­tydloos. 

  • ’n Geredigeerde uittreksel uit Ageless Soul – Living a Full Life with Joy and Purpose deur Thomas Moore, uitgegee deur Simon & Schuster. Aanbevole ­verkoopprys: R285.