Die blou pilletjie het ontstaan as ’n moontlike behandeling vir probleme met een orgaan – die hart – maar eindelik ’n wonderbaarlike uitwerking op ’n ander een gehad – die penis.

Hierdie merkwaardige ontdekking het gelei tot een van die grootste revolusies in die moderne geneeskunde en dié pilletjie omskep in een van die wêreld se gesogste middels.

Dit het miljoene mans (en vroue) wêreldwyd nuwe hoop gegee en woema in menige kwynende huwelik gesit.

G’n wonder nie die oorlede Playboy-stigter, Hugh Hefner, het daarna verwys as “God se helpertjie”. Vanjaar is dit 20 jaar vandat Viagra vir die eerste keer in Suid-Afrika verkoop is – en kyk net hoe het dit die wêreld verander.

Die begin

Die farmaseutiese reus Pfizer sou hulle nooit die hupstoot vir hul inkomste kon indink nie toe hulle in die vroeë 1990’s ’n tablet toets om die hartsiekte angina mee te behandel.

Manspasiënte het ’n onverwagte en soms welkome newe-effek aangemeld: opvallende ereksies.

Pfizer het nog kliniese proefnemings uitgevoer en die pil in 1998 begin bemark, dié keer as ’n geneesmiddel vir impotensie of erektiele disfunksie (ED).

Wêreldwyd het mans die blou pilletjie aangegryp: In die eerste jaar is R5,5 biljoen s’n verkoop. Dis in Desember 1998 vir die eerste keer in Suid-Afrika versprei.

Hoe dit werk

Viagra bevat die aktiewe bestanddeel sildenafiel, wat die spiere van die penis help ontspan sodat meer bloed daarin kan vloei, wat tot ’n ereksie lei.

Dit duur van ’n halfuur tot ’n uur voor dit werk, hoewel dit in sommige gevalle vroeër kan intree wanneer die verbruiker seksueel geprikkel word.

’n Ereksie duur tot vier uur. Kenners beveel aan dat mans wat dit veel langer ervaar dadelik mediese hulp kry.

As die ereksie nie binne vier uur weggaan nie of pynlik word, moet mediese hulp dringend verkry word. Die komplikasies verwant aan ’n volgehoue ereksie (priapisme) is ernstig, sê dr. Amir Zarrabi, ’n uroloog aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

‘Baie mense het gedink erektiele disfunsie is net verbeelding’

’n Priapisme kan lei tot weefselskade en so toekomstige ereksies selfs moeiliker maak.

Die wonderpil het ED, en die miljoene mans wat te skaam was om behandeling daarvoor te kry, uit die skadu’s gebring.

“In die vroeë 1990’s is erektiele disfunksie nie as ’n probleem beskou nie en dit was beslis nie iets waaroor ooit gepraat is nie.

"Die meeste mense het gedink dis net verbeelding,” sê dr. Mike Wyllie, hoofwetenskaplike by Pfizer in Engeland.

“Viagra is amper doodgebore; trouens, dit is amper stopgesit omdat dit as moreel verkeerd beskou is: Daar was kommer oor ‘die verkoop van seks’ en boonop het min mense gedink daar is ’n mark hiervoor.”

Al was die mark daarvoor toe veel groter as wat aanvanklik gemeen is, is baie mans steeds skaam om by ’n dokter aan te klop om hulp te soek en ’n voorskrif vir die middel te kry.

“Buying Viagra without a prescription” is steeds iets wat mense gereeld google, volgens navorsing van Pfizer.

Baie mans wat verkies om die pil aanlyn te koop, word bedrieg.

In Pfizer se navorsing is bevind sowat 80% van die Viagra wat aanlyn verkoop word, is namaaksels. Maar binnekort sal dit nie langer nodig wees om eers ’n voorskrif by ’n dokter te kry om die ware Jakob aan te skaf nie.

Pfizer het onlangs ’n laerskedule-weergawe, Viagra Connect, uitgereik.

“Baie mense besef nie ’n man moet seksueel geprikkel wees om Viagra te laat werk nie,” sê die spesialis- psigoseksuele verpleegster Lorraine Govender. “Jy kry nie twee uur nadat jy dit gedrink het sommer skielik vanself lewe terwyl jy koerant lees nie.”

Dis ’n nievoorskrifmiddel vir ED wat net soos Viagra werk, maar ’n laer dosis as “gewone” Viagra is; daarom het dit ook ’n laer skedule.

’n Apteker kan skedule 1- en 2-middels sonder ’n voorskrif verkoop.

Foto: Gallo Images/ Getty Images

Onverwagte ander voordele

  • Dikwels sukkel ’n man om ’n ereksie te kry omdat hy ’n gesondheidsprobleem het waarvan hy onbewus is. Dit was die geval met die Amerikaner Zachariah Reitano (26), wat op 18 al met ED gesukkel het. Nadat hy met sy pa, ’n dokter, begin praat het, het Zachariah besef sy ED is weens ’n onderliggende hartsiekte.
    Hy sê mans wat Viagra vir seks wil hê, vind dikwels uit hul ED word veroorsaak deur iets ernstigers, soos diabetes of hoë bloeddruk.
    “Weens die stigma wat aan ED kleef, wag mans dikwels tot simptome opduik wat minder van ’n verleentheid is voor hulle hulp soek.”
    Zachariah het ná sy persoonlike ervaring in Februarie verlede jaar die aanlyn winkel Roman begin waar mans medikasie vir ED kan bestel.
  • Navorsers aan die Gemenebes-universiteit van Virginië in Amerika het bevind Viagra kan help om bloedvloei te herstel en weefsel help genees nadat pasiënte ’n hartaanval gehad het.
    Die pil kan apoptose, ’n toestand waar hartspierselle ná ’n hartaanval sterf, keer.
  • Daar is Viagra-gebaseerde middels wat ander toestande verhelp, maar wat nog nie daarvoor voorgeskryf word nie omdat nog navorsing nodig is om hul doeltreffendheid te bewys. Van die toestande waarby dit voordelig kan wees, is pulmonale arteriële hipertensie, Crohn se siekte en selfs toestande wat maak dat vroue sukkel om swanger te raak.

En die nadele? 

Die liggaamlike newe-effekte van die blou pilletjie is onder meer hittegloede, hoofpyn, duiseligheid en versteurde visie.

Die verhoudingsfaktor

Hoewel Viagra al vele selibate huwelike help red het, meen sommige kenners dit het moontlik ook gelei tot ’n toename in ou bokke wat met nuwe lewenslus rondloer . . .

Dit word selfs soms genoem as die derde party in egskeidingsgevalle.

James Stewart, ’n Britse egskeidingsprokureur, verkwalik die pilletjie onomwonde: “Die probleem is dat Viagra die tydperk verleng waarin mans ontrou kan wees en dis die katalisator wat baie verhoudings laat ineenstort.

“Andersyds het Viagra net soveel of selfs meer huwelike gered as wat dit vernietig het. Wanneer ’n paartjie ’n swak sekslewe het, kan dit tot allerhande probleme lei. Deur ’n paar se sekslewe te verbeter versterk Viagra die huweliksband.”

Bertus Preller, ’n egskeidingsprokureur van die Kaap, stem nie saam nie. “Ek het nog nie self gesien dat Viagra huwelike red nie. Teen die tyd dat die paartjie by my uitkom, is hulle al so keelvol, hulle is reg om te skei.

“Ek het wel al gevalle gehad waar die paartjie geen intimiteit ervaar of seks het nie en die vrou op die man se Viagra-pille afkom.

"Sy sien die pille raak minder, maar hulle het steeds nie seks nie, wat daarop dui dat die man elders geholpe raak.”  

Kitsfeite
  • In 2008 tydens die oorlog in Afganistan het die Amerikaanse Intelligensiediens (CIA) sy informante met Viagra beloon. Dit was omdat van hulle bejaard was en nie aldag hul vrou kon bevredig nie. Die CIA het hulle toe die viriliteitsmiddel in ruil vir geheime inligting aangebied.
  • Pandas in aanhouding is skaam wat paring betref. Natuurbewaarders wat pandagetalle wil verbeter, het die mannetjies al Viagra gegee om hulle van hul inhibisies ontslae te help raak.
  • Australiese en Israeliese navorsers het vasgestel klein hoeveelhede Viagra in water verdubbel die leeftyd van gesnyde blomme.
  • In sommige dele van China word geglo ’n konkoksie van gemaalde tierbene kan erektiele disfunksie verhelp. Gelukkig het Viagra gelei tot ’n afname in die verkope van tierbene, wat dié bedreigde spesie help red. 
  • Die blou pilletjie word net vervaardig op die Ierse kusdorp Ringaskiddy, wat inwoners “Viagra Falls” gedoop het. Talle van hulle beweer hulle het ’n ongelooflike sekslewe danksy die Viagra “in die lug”.
Foto : Gallo Images/ Getty Images


Die syfers
  • 100 miljoen
Soveel mans wêreldwyd ly na raming aan erektiele disfunksie.
  • 4
Die getal tablette in ’n pakkie. Viagra is ook een-een verkrygbaar.
  • 62 miljoen
Soveel mans wêreldwyd het Viagra al gebruik vandat dit in 1998 beskikbaar gestel is.
  • 50-55
Die gemiddelde ouderdom van Viagra-verbruikers. 


Bronne: Dailymail.co.uk, CNBC.com, DrEd.com, CNN.com, Time.com, The Gaurdian.com, QZ.com, Indiatimes.com