Dís die goue reël, glo baie mense, en daarom praat ons bo-oor mekaar – by die werk, huis, partytjies en in die sosiale media.

Ons luister nie – en niemand luister na ons nie. Dit maak ons eensamer, meer afgesonder en minder verdraagsaam as ooit tevore. Kortom, ons doen nie onsself of enigiemand anders ’n guns nie.

Luister gaan oor ’n ingesteldheid, nie oor ’n lysi
Luister gaan oor ’n ingesteldheid, nie oor ’n lysie moets en moenies nie. Dis ’n besonderse vaardigheid wat tyd verg om te ontwikkel. Foto: Getty Images/Gallo Images

In dié uittreksel uit ’n fassinerende nuwe boek, You’re Not Listening: What You’re Missing and Why It Matters, verduidelik die Amerikaanse skrywer Kate Murphy hoekom dit belangrik is dat jy ophou praat en begin luister – en hoe om dit te doen.

Wanneer laas het jy na iemand geluister? Regtig geluister, sonder om te dink aan wat jy volgende wil sê, na jou foon te loer of in te spring om jou mening te gee?

En wanneer laas het iemand regtig na jou geluister – so goed geluister dat hul antwoord in die kol was en jy regtig gevoel het hulle verstaan jou?

Om werklik te luister beteken nie jy sit passief agteroor en laat iemand anders voortbabbel nie.

Inteendeel. Dis ’n aktiewe proses – jy hoor nie net wat mense sê nie; jy skenk ook aandag aan hoe hulle dit sê en wat hulle doen terwyl hulle dit sê.

Om te luister is dus dikwels eintlik veel moeiliker as om te praat. Maar as jy dit regkry, sal dit jou begrip van die mense en die wêreld om jou verander.

DIE VERLORE KUNS VAN LUISTER

Dis interessant: Mense kan makliker sê hoe ’n slegte luisteraar optree as ’n goeie een – dalk omdat ons soveel meer ervaring van die eersgenoemde het.

Die algemene eienskappe van ’n slegte luisteraar is:

  • Hy val jou in die rede.
  • Hy antwoord vaag of onlogies op wat pas gesê is.
  • Hy kyk na ’n foon, horlosie of enigiets anders as die spreker.
  • Hy vroetel – tik op die tafel, skuif gereeld rond, ensovoorts.

As jy enige hiervan doen, hou op daarmee. Maar dít is nie genoeg om van jou ’n goeie luisteraar te maak nie – dit steek net beter weg dat jy ’n swak luisteraar is.

Luister gaan oor ’n ingesteldheid, nie oor ’n lysie moets en moenies nie. Dis ’n besonderse vaardigheid wat net met tyd kan ontwikkel.

ALMAL HET ’N STORIE

Ons almal het dit al ervaar: Jy probeer ’n storie vertel aan iemand wat duidelik nie belangstel nie. Hulle sug of kyk na enige ander plek in die vertrek.

Navorsers aan die Universiteit van Utah het bevind sprekers wat met afwesige luisteraars praat, onthou minder inligting en is minder vloeiend in hoe hulle die inligting oordra.

Aan die ander kant het dié wat met aandagtige luisteraars gepraat het meer inligting en relevante besonderhede gegee – selfs al het die luisteraar nie vrae gevra nie.

As jy dus skaars na iemand luister, want jy dink die mens is vervelig of nie jou tyd werd nie, word dié gedagte dan waar.

In How to Win Friends and Influence People skryf Dale Carnegie: “Jy kan meer vriende in twee maande maak deur in ander mense belang te stel as wat jy in twee jaar kan maak deur ander mense in jou te laat probeer belangstel.”

As jy luister, stel jy belang – wat lei tot interessanter gesprekke.

As jy dink jy weet hoe ’n gesprek gaan verloop, is daar geen ruimte vir nuuskierigheid nie, wat beteken jy gaan nie goed luister nie.

Vra jouself ná ’n gesprek af: Wat het ek pas oor die mens geleer? Wat het hom vandag die meeste bekommer? Hoe het hy gevoel oor dit waaroor ons gepraat het?

As jy die vrae nie kan beantwoord nie, kort jou luistervermoë waarskynlik ’n bietjie werk.

Om mense met takserende en persoonlike vrae soos “Watter werk doen jy?” of “In watter deel van die stad woon jy?” of “Is jy getroud?” te peper is nie luister nie – dis ondervraging.

Jy probeer nie om hulle te leer ken nie. Jy beoordeel hulle.

Dit maak mense verdedigend en sal die gesprek waarskynlik oppervlakkig maak – so asof die persoon sy CV moet opsê of die hele tyd sy beste voetjie moet voorsit.

Luister eerder vir dinge wat julle gemeen het en bou geleidelik ’n verstandhouding.

MOENIE AFDWAAL NIE

Het dit al gebeur dat iemand met jou praat, maar dan dwaal jy so in jou eie gedagtes af dat dit is asof jy die ander mens uitdoof?

Die persoon se lippe beweeg, maar jy hoor niks – tot ’n woord of frase jou weer laat aandag gee. Ons kan baie vinniger dink as wat iemand kan praat.

Die deursnee-mens praat teen sowat 120 tot 150 woorde per minuut, wat maar net ’n piepklein breukdeel van ons 86 miljoen breinselle opneem.

Dis dié dat ons gedagtes afdwaal – ons gebruik daardie oortollige verstand en dink aan ’n magdom ander dinge wat ons daarvan weerhou om op die spreker se woorde te fokus.

Maar die ding wat dit vir ons die moeilikste maak om op ’n ander se woorde te fokus, is die knaende kommer oor wat ons gaan sê wanneer dit ons beurt is.

Dit maak nie saak of dit ’n belangrike of informele ge- sprek – by die huis of by die werk – is nie: Ons is almal bang ons gaan oor ons woorde struikel of die verkeerde ding sê.

Die ironie is dat jy juis ’n groter kans het om ongepas of onsensitief te reageer wanneer jy nié mooi luister nie: Hoe meer jy dink oor die regte ding om te sê, hoe meer loop jy mis en hoe groter die kans dat jy die verkeerde ding sal sê.

Neem eerder ’n paar oomblikke wanneer die ander mens klaar gepraat is om te dink oor wat jy wil sê.

Ons is amper net so bang vir stiltes as vir die verkeerde reaksie, maar stilbly kan eintlik tot jou voordeel wees – dit wys jy gee aandag. En dit is oukei om te erken as jy nie weet wat om te sê nie.

Of sê vir die persoon: “Ek sal graag daaroor wil dink” – dit wys jy respekteer wat die ander mens gesê het én jy luister na die deel van jou wat onseker is en iets moet verwerk.

As jy luister, stel jy belang – wat lei tot interessanter gesprekke

KIES JOU WOORDE WYS

Navorsing deur Graham Bodie, ’n professor in geïntegreerde bemarkingskommunikasie aan die Universiteit van Mississippi, wys mense is meer geneig om te voel iemand verstaan hulle wanneer ’n luisteraar beskrywende en beoordelende inligting gee wanneer hulle reageer – en nie net knik of parafraseer wat hulle gehoor het nie.

“Mense wil voel jy verstaan hoekom hulle vir jou die storie vertel en wat dit vir hulle beteken, nie soseer dat jy die besonderhede van die storie ken nie,” sê Graham.

Maar hy en sy kollegas het deurgaans bevind die meeste mense is baie swak hiermee.

Die data wys dat luisteraars se antwoorde minder as 5% van die tyd emosioneel ingestel is op wat sprekers sê. Wanneer ’n vriend jou dus vertel dat hy sy werk verloor het, is dié gebeurtenis nie wat belangrik is nie, maar hoe dit daardie persoon emosioneel raak.

Om dit te kan uitsnuffel is die kuns van luister – veral wanneer mense geneig is om jou met ’n spul onbelangrike inligting te bestook. Dink aan jouself as ’n speurder en vra: “Hoekom vertel die mens dit vir my?”

Onthou dat sprekers soms self nie die antwoord ken nie.

Goeie luisteraars help hulle dit uitpluis deur vrae te vra en uitbreiding aan te moedig.

Jy weet jy het as ’n luisteraar sukses behaal as die ander mens ná jou antwoord iets sê soos: “Ja, presies!” of “Jy verstaan dit heeltemal reg!”

  • ’n Uittreksel uit You’re Not Listening: What You’re Missing and Why It Matters deur Kate Murphy, uitgegee deur Harvill Secker, R339 BY TAKEALOT.COM
You're not Listening: what you're missing and why
You're not Listening: what you're missing and why it matters deur Kate Murphy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.