Lank voor die koms van die moderne mediese wetenskap het kruiedokters siekes met plante behandel. Daar was iets vir elke kwaal, van slegte spysvertering en maagsere tot snye en velirritasies.

“In die verlede het mense gewoonlik kruisementblare gekou nadat hulle 'n vetterige maaltyd geëet het of iets wat moeilik is om te verteer,” sê Anastacia Sampson, 'n praktisyn van voedingsgeneeskunde in Oos-Londen. 

Sy bestudeer en gebruik kruie al langer as 'n dekade en meen dit het “baie kragtige medisinale waarde”.

Daar is wetenskaplike bewyse dat kruiegeneesmiddels werk, sê Anastacia.

'n Ondersoek deur die Universiteit van Michigan in Amerika het byvoorbeeld getoon kamille – wat al eeue lank vir sy kalmerende uitwerking gebruik word –werk net so goed soos voorskrifkalmeermiddels wanneer dit vir volwassenes met slaaploosheid gegee word. Dit is boonop niegewoontevormend.

Maar watter kruie help vir wat? 

Hier is 'n gids tot helende kruie wat jy maklik in jou tuin kan plant of vars in die supermark kan koop.

Basilie

Ter illustrasie. Foto: Pixabay
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Dié krui is 'n kragtige antioksidant en het sterk inflammasiewerende kenmerke.

Dit help ook die hart gesond hou. 'n Ondersoek in 2007 het getoon die vlugtige olies in basilie verlaag jou bloedglukose- en cholesterolvlak.

Dit verhelp ook lugwegontsteking en asma, en verminder pyn en swelling.

Basilie het teenverouderingseienskappe omdat dit volop betakaroteen en vitamien A en K bevat. Dit het ook noodsaaklike minerale sooskalium, magnesium en koper.

Gebruik dit so

Eet gereeld basiliepesto vir 'n gekonsentreerde porsie of maak 'n aftreksel deur vyf of ses vars basilieblare in 'n koppie kookwater te laat trek. Laat dit 10 minute trek, sif en drink.

Tiemie

Ter illustrasie. Foto: Pixabay
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Een van die aktiewe verbindings in tiemie is timol, 'n sterk antiseptiese middel.

Dié geurige krui het ook 'n swamwerende werking en bevat olies wat krampe teenwerk.

Tiemietee kan 'n seer keel en hoes help streel en die simptome van mangelontsteking, brongitis, lugwegontsteking en asma verlig. Jy kan ook met louwarmtiemietee gorrel om van 'n slegte asem ontslae te raak en mondsere te behandel.

Gebruik dit so

Gooi 'n koppie kookwater oor 'n eetlepel vars of 'n teelepel droë blare en laat dit 10 minute trek. Sif en drink die tee.

Die inaseming van die damp van vars tiemie help verminder glo angstigheid. Vryf bloot 'n takkie tussen jou vingers; die olie wat timol bevat, word met die geringste aanraking vrygestel.

Salie

Ter illustrasie. Foto: Pixabay
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Navorsing toon salie kan breinwerking en geheue aanhelp, in die besonder by mense met Alzheimersiekte.

Die neurologiese toestand gaan gepaardmet 'n afname in die vlak van asetielcholien, 'n chemiese boodskapper in die brein, en salie strem die aftakeling van dié verbinding.

Salie is ook goed vir 'n seer keel, hoes en verkoue en word as 'n behandeling vir oormatige sweet gebruik. 

Ondersoeke toon dit kan warmgloede en nagsweet tydens die menopouse help verminder.

Gebruik dit so

Gooi 'n koppie kookwater oor 'n teelepel droë salieblare. Laat trek 10 minute, sif en drink. Dit kan ook as 'n gorrelmiddel vir 'n seer keel gebruik word.

Peperment

Ter illustrasie. Foto: Pixabay
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Peperment is veral ryk aan mentol, die aktiewe bestanddeel in mentblare. 

Dié krui met sy sterk geur word gebruik in die behandeling van verkoues, keel- en lugwegontsteking. Dit help streel ook blykbaar hoofpyne.

'n Ondersoek aan Harvard se mediese skool het getoon peperment verhelp spysverteringsprobleme soos prikkelbaredermsindroom, want die olie in die krui laat ontspan die spiere in die dikderm.

So kan dié krui spasmas verminder en ’n opgeswelde maag teëwerk. Dit word ook teen naarheid ingespan, veral by swanger vroue.

Gebruik dit so

Kou 'n paar pepermentblare as jy slegte spysvertering het of opgeblaas voel. Jy kan ook tee maak deur kookwater oor 'n hand vol vars blare te gooi en dit 10 minute te laat trek.

As jy aan bewegingsiekte ly, vat 'n takkie peperment saam op jou reis en snuif af en toe daaraan om die naarheid hok te slaan.

Roosmaryn

Ter illustrasie. Foto: Pixabay
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Die vernaamste verbinding in dié krui is roosmarynsuur, 'n antioksidant wat allergieë onderdruk en ontsteking teenwerk.

Dit is ook 'n goeie bron van voedselvesel, kalsium, yster, mangaan, kalium en vitamien A, C en B6.

Roosmaryn bevorder spysvertering, verbeter bloedsomloop, verlig rumatiek en spasmas, en kan skeel- en ander soorte hoofpyn help verlig.

Gebruik dit so

Laat 'n eetlepel vars roosmarynblare of 'n teelepel droë roosmaryn 10 minute in 'n koppie kookwater trek. Sif en drink.

Sitroenkruid

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dié familielied van kruisement help verlig angstigheid en slaaploosheid en is ook goed vir winderigheid en 'n omgekrapte maag. Dit versnel ook glo die helingsproses van koorsblare.

Gebruik dit so

Gooi 'n koppie kookwater oor ’n eetlepel vars blare of 'n teelepel droë blare. Laat trek vyf minute,sif en drink meermale per dag. Jy kan ditversoet, as jy wil.

Nog medisyne uit die natuur

Knoffel

Ter illustrasie. Foto: Pixabay
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Allisien, die verbinding wat dié knol sy kenmerkende geur gee, is ook verantwoordelik vir sy baie gesondheidsvoordele.

Dit bestry verkoues, verlig sinusverstopping en verlaag hoë bloeddruk.

In 'n Amerikaanse ondersoek het wetenskaplikes bevind gereelde dosisse verouderde knoffelekstrak verlaag bloeddruk net so doeltreffend soos voorskrifmedisyne.

Nog 'n ondersoek het getoon knoffel verlaag vlakke van LDL-cholesterol (die “slegte” cholesterol) met tot 15 persent.

Gebruik dit so

Eet elke dag een of twee vars knoffelhuisies.

Jy kan dit by kos voeg of dit heel insluk. Vermy ’n knoffelasem deur vars appel, blaarslaai of ment te eet.

Jy kan ook knoffelkapsules drink, wat by die meeste apteke en gesondheidswinkels te koop is.

Wees gewaarsku: Allisien kanmet die middel warfarien reageer. Raadpleeg dus eers jou dokter as jy dit of enige ander bloedverdunningsmedisyne drink.

Gemmer

Ter illustrasie. Foto: Pixabay
Ter illustrasie. Foto: Pixabay

Ondersoeke het getoon gemmer kan skeelhoofpyn help verlig en naarheid en vomering verhelp. Dit het ook inflammasiewerendekenmerke en word algemeen gebruik om 'n seer keel te streel en verkoueen griepsimptome te help verlig.

Gebruik dit so

Sny 'n paar dun skywe vars gemmerwortel en plaas dit in 'n koppie kookwater. As jy droë gemmer gebruik, het jy net 'n kwart tot 'n halwe teelepel nodig.

Laat trek 10 minute, sif en versoet, indien verkies. As jy dit gebruik om verkoue- en griepsimptome te verlig, voeg 'n skeut suurlemoenen 'n teelepel heuning by.

Hoewel matige hoeveelhede gemmer gesondheidsvoordele inhou en veilig is, kan te veel daarvan ’n mens sooibrand gee en selfs 'n omgekrapte maag veroorsaak.

  • Bronne: herbwisdom.com, wellnessmama.com, nutrition-and-you.com, starwest-botanicals.com, vitanetonline.com, organicfacts.net, naturallivingideas.com
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.