Sensitiwiteit, dehidrasie, skilferigheid, uitslag

As jy in die winter las het van dié probleme, is jy nie alleen nie – en daar is oplossings.

“Tydens die kouer maande neem humiditeit af en dit droog die vel uit,” verduidelik die dermatoloog dr. Li-Chuen Wong. “Dit laat die vel dikwels styf en ongemaklik voel en meer geplooi lyk.”

Tog is dit moontlik om die hele koue seisoen met ’n stralende, gladde gelaat te spog. Hier is die vyf velsorgprodukte wat kenners aanbeveel jy dié winter gebruik.

Reinig met miselwater

Reiniging en die verwydering van grimering is allerbelangrik vir ’n jeugdige vel, sê Li-Chuen. Gebruik liefs miselwater pleks van uitdrogende, skuimende formules.

Al is dit nie juis nuut nie – dit is meer as ’n eeu gelede in Frankryk die eerste keer bedendgestel – hou dit talle voordele vir die gelaat in. Die formule bevat piepklein oliemolekules genaamd misels wat vuilheid, grimering en ander onsuiwerhede oplos.

“Dit is ’n goeie keuse, want dis nie-irriterend – selfs vir erg sensitiewe velsoorte – en dit is baie vinnig en maklik om grimering te verwyder,” sê Li-Chuen.

Dis nie nodig vir afspoel nie – wend dit net aan ’n wattekussinkie aan, vee dit oor jou vel, nek en hals, en jy is klaar.

Hidreer met dikker bevogtigers

Jy hou dalk van die tekstuur, maar jou ligte vloeiroom sal nie teen ysige winde en koue temperature wen nie. Dunner formules is ook geneig om vel te irriteer, want dit bevat meer preserveermiddels as ryker opsies.

“Gebruik aanklammende bevogtigers, want dit trek vog in die atmosfeer na die vel se oppervlak,” beveel Li-Chuen aan.

Sy stel ook voor jy smeer ’n geurvrye formule aan om uitslag te verminder. Kies ’n room wat hidrerende hialu- ronsuur en antioksidante bevat om jou teen vrye radikale te help beskerm.

Benodig jy ’n ekstra voginspuiting?

Probeer jou room met ’n gesigolie meng. Dit absorbeer vinnig om die vel te versag en gee ’n kitsgloed sonder dat dit ’n vetterige neerslag laat.

Vernuwe met bladmaskers

’n Kleibasismasker is ideaal vir die absorbering van oormatige sebum, maar vir die winter beveel Li-Chuen ’n hidrerende bladmasker aan.

Dié materiaalmaskers is met ’n serum deurweek. Dit het in Korea en Japan ontstaan en danksy hul voggewende kenmerke gewild geraak.

Een van die voordele is dat dit vel vir lang tydperke in teenverouderende bestanddele baai en so doeltreffende absorbering moontlik maak. Kies een met hialuronsuur om ’n dorre gelaat weer plomp en sag te laat lyk. Gebruik dit twee tot drie keer per week.

Beskerm met breëspektrum-sbf50+

Moenie dat donker, bewolkte dae jou mislei nie – daar is steeds aansienlike UVA-blootstelling in die winter. “Daaglikse sonskerm is steeds noodsaaklik om velveroudering en die ontwikkeling van velkankers te voorkom,” benadruk Li-Chuen.

Tagtig persent van voortydige veroudering word met UV-skade verbind. Smeer ’n breë- spektrum-SBF50+-formule aan nadat jy jou serum en bevogtiger aangewend het, maar voor jy jou onderlaag aanwend, en kies ’n produk volgens jou veltipe.

“As jy tot aknee geneig is, moet jou son-skerm olievry en in melk-, alkoholsproei- of jelvorm eerder as dik, verstoppende rome wees,” sê Li-Chuen.

Of slaan die stap oor en gebruik ’n bevogtiger wat ’n breëspektrumsonskerm met ’n SBF van minstens 30 bevat.

Eksfolieer met poeierafskilferaars

Die produksie van nuwe velselle vertraag namate jy ouer word; daarom móét jy gereeld afskilfer. “In die winter is ’n ligte afskilfering een of twee keer per week ’n goeie idee om van droë, dooie velselle ontslae te raak,” sê Li-Chuen.

As jy van die skoon gevoel van ’n skrop hou, verruil jou korrelformule vir ’n poeierafskilferaar. “Dit is sagter as gewone skropmiddels en dus beter vir die winter,” sê sy.

Dit bevat ook middels wat die vel versterk en beskerm. Meng ’n halwe teelepel met water of miselwater vir ’n ekstra hupstoot, en vryf dit aan jou vel, veral aan droë areas soos jou neus. Voeg water by om dit te laat skuim en spoel af.

As jy nie van die tekstuur van ’n skropmiddel hou nie, gebruik ’n vloeibare afskilferaar. Dit is net so doeltreffend.

  • Gebruik in die winter ’n eau de parfum pleks van ’n eau de toilette, want die geur is ryker en hou langer.