Gehoorverlies is dikwels iets wat baie stelselmatig gebeur en ’n persoon kom gewoonlik nie dadelik agter dat daar ’n probleem is nie.

En as jou gehoor in die algemeen goed is en jy nog jonk is, waarom moet jy daaroor bekommerd wees?

Die antwoord is eenvoudig. Dit gaan alles oor daardie klein haartjies in jou ore.

Die fyn haartjies bevat selle wat verantwoordelik is om klankvibrasies te verander na elektriese seine wat na die brein gestuur word. Hierdie haarselle kan beskadig word wanneer jy gereeld aan harde klanke blootgestel word.

In ’n studie wat deur die Universiteit van Iowa gedoen is, en in die Joernaal van Neurowetenskap gepubliseer is, is bevind dat die spesifieke weefsels, wat deur die oor geproduseer word, se funksie is om 'n gesonde verbinding tussen die haarselle en neurone, wat verantwoordelik is om elektriese seine na die brein te stuur, te verseker. Wanneer hierdie haarselle beskadig word, word die produksie van dié weefsel belemmer.

Die haarselle kan dan steeds hul normale werk in jou oor doen, en jy kan steeds normaal hoor, maar mettertyd sal die konneksie tussen jou haarselle en die neurone verbreek – en dis wanneer gehoorverlies voorkom. 

Huisgenoot het met Yolandé van der Westhuizen, 'n oudioloog in Centurion, Pretoria, gesels oor die vroeë tekens van gehoorverlies en hoe om jou gehoor te beskerm. 

Wat is die vroeë tekens van gehoorverlies?
  • ’n Suising of sonbesiegeluid in die ore (tinnitus).
  • Probleme om ’n gesprek te volg as daar baie geraas is of as daar ’n groot groep mense is.
  • Probleme om ’n persoon vanuit ’n ander vertrek te hoor – of as die persoon wegkyk terwyl hy/sy met jou praat.
  • As jy sukkel om ’n persoon te verstaan wat met ’n aksent praat.
  • As jy sukkel om goed oor die foon te hoor.
  • As een oor effens beter as die ander een hoor.
  • As jy agterkom dat jy hoor wanneer iemand praat, maar jy kan nie altyd presies hoor wat hulle sê nie.
  • As ’n familielid of vriend vir jou sê dis tyd vir ’n gehoortoets. Dit beteken ander persone begin dit al besef, hoewel jy nie noodwendig dit al self agtergekom het nie.


 Wat veroorsaak gehoorverlies?

“Daar is verskeie oorsake van gehoorverlies. Die grootste oorsaak is waarskynlik die veroudering van die gehoorstelsel. Dit kan al so vroeg as op 35-jarige ouderdom begin,” sê Yolandé. 

“Geraasblootstelling is 'n baie groot bydraende faktor. Masjiengeraas, geweerskote (selfs net een kan reeds vroeë skade veroorsaak) en harde musiek dra alles hiertoe by.”

Gesondheidsprobleme soos hoë bloeddruk en diabetes kan ook 'n rol speel.

“Virale infeksies, waarvan ’n mens moontlik onbewus is, kan ook gehoorverlies veroorsaak. Gewoonlik is dit 'n skielike probleem.

"As jy opstaan met ’n skielike dowe oor, moet dit as ’n mediese noodgeval beskou word omdat onmiddellike behandeling die skade moontlik kan verhoed,” sê Yolandé.

Ander faktore soos genetika en kongenitale faktore kan ook gehoorverlies veroorsaak en kroniese oorinfeksies, gebarste oordromme kan op die langtermyn skade veroorsaak.

Hoe kan jy jou gehoor beskerm?

Indien jy geraasblootstelling van enige aard het, moet jou gehoor ten alle tye beskerm word deur die gebruik van oorpluisies of oorfone, sê Yolandé. 

As jy agterkom dat daar enige verandering in jou gehoor is, moet jy dadelik daarna laat kyk. Vroeë behandeling is die sleutel tot baie beter uitkomste op die langtermyn, meen sy.

“’n Skielike verswakking in gehoor of ’n skielike begin van ’n suising of sonbesiegeluid in die oor moet dadelik aangespreek word.”

Hoekom is dit belangrik om so vroeg moontlik enige verandering in jou gehoor aan te spreek?

"Gehoorverlies wat nie behandel word nie het nadelige gevolge. Onlangse navorsing toon dat daar ’n verband is tussen onbehandelde gehoorverlies en kognitiewe agteruitgang en siektetoetstande soos demensie,” meen Yolandé.

“As gehoorverlies onbehandeld gelaat word, vind ’n verswakking in die senuweebane en die ouditiewe korteks in die brein ook plaas. Dit kan op die lang termyn veroorsaak dat spraak nie meer so goed deur die brein ontvang en verwerk kan word nie – in dié stadium sal beperkte hulp vir die probleem beskikbaar wees.” 

Wie moet jy kontak as jy dink jy het ’n probleem?

’n Oudioloog is ’n persoon wat in die evaluering van die gehoorstelsel en die gehoor spesialiseer, asook die behandeling van gehoorprobleme waar nodig. Om die naaste oudioloog aan jou te kry, besoek die Suid Afrikaanse Oudiologievereniging (South African Association of Audiologists (SAAA)) se webwerf.