Dit is asof alles van die reuse-­Kersbome in die winkel­sentrums tot die geklingel van Kersliedjies dit uitbasuin: Die feestyd is hier.

Maar hoe gemaak as jy allesbehalwe feestelik voel? Dalk omdat jy dié Kersfees en Nuwejaar alleen sal wees, dalk omdat jy die afgelope jaar ’n geliefde aan die dood afgestaan het wie se plek pynlik leeg sal wees of dalk omdat jy verplig is om tyd saam met familielede deur te bring wat knaend op jou tone trap.

Miskien voldoen die vakansie waarna jy so lank uitgesien het nie aan jou hemelhoë verwagtings nie.

Daarby herinner die stapels strandhanddoeke en sonsambrele in die winkels jou dis vakansietyd. Maar as jy te platsak is om soos jou bure die pad see toe te vat, kan dit jou selfs droewiger stem. Of miskien voldoen die vakansie waarna jy so lank uitgesien het nie aan jou hemelhoë verwagtings nie.

“Vir baie mense gaan die feestyd gepaard met kwaai depressie en angs­tigheid,” sê dr. Esther Price, ’n kliniese sielkundige verbonde aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dié verskynsel word dan ook “vakansiedepressie” genoem.

“Dié tyd van die jaar word in die media en in flieks uitgebeeld as ’n tyd vol liefde, lag, geskenke en vreugde. Maar inderwaarheid is dit nie vir almal so eenvoudig nie,” verduidelik Esther.

“Baie mense het ’n baie ingewikkelde familiedinamika met slegte verhoudings. Dié tyd wat op die familie toegespits is, kan daarom vir hulle angs en spanning meebring.”

Maar hoe verskil vakansiedepressie van die depressie wat jou enige tyd van die jaar kan beetpak? En hoe kan jy keer dat dit in die feestyd op jou toeslaan?

Wat is vakansiedepressie?

Dit is nie ’n afsonderlike gemoedsteuring nie, sê Kim McKay, ’n kliniese sielkundige van Pretoria.

“Dit is wanneer mense tydens die feestyd bedruk of gespanne voel,” ver­duidelik sy.

“Die kernbeginsel is dat dit situasiegebonde is en net in die vakansie­tyd voorkom wanneer verwag word ’n mens moet voortdurend vrolik en opgeruimd wees.”

Hulle is lus vir niks en baie lusteloos.

Al is vakansiedepressie, net soos vakansies, ’n tydelike toestand, kan die simptome soortgelyk wees aan kliniese depressie, sê Ester de Beer, ’n kliniese sielkundige van Bloemfontein.

“Mense ervaar nie plesier nie, al het hulle na hul wegbreekkans uitgesien. Hulle is lus vir niks en baie lusteloos.”

’n Terneergedrukte gemoed, geïrriteerdheid, huilerigheid, slaap- of eet­steurings, rusteloosheid, min energie en min belangstelling in aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het, is alles simptome van depressie.

“Maar as die simptome korter as twee weke aanhou, sal depressie nie gediagnoseer word nie,” voeg sy by.

Wat is die oorsake?

Biologiese, sielkundige en sosiale faktore kan ’n rol speel by vakansiedepressie, sê Ester.

’n Ongesonde leefstyl, ystertekort of ongekontroleerde metaboliese steurings, soos insulienweerstandigheid en hoë bloeddruk, maak ’n mens meer vatbaar vir vakansiedepressie.

Sielkundige faktore soos disfunksio­nele denkpatrone en onverwerkte gebeure kan ook in die rustige vakansietyd na vore kom. Jy word dan met al die gevoelens gekonfronteer wat jy deur die jaar kon vermy toe jou werk en take tuis jou besig gehou het.

Vir baie mense is dit die eerste Kersfees en Nuwejaar sonder ’n geliefde wat sedert die vorige feestyd gesterf het.

Ester meen sosiale faktore is een van die grootste oorsake van vakansie­depressie, want in dié tyd raak mense meer bewus van die leemtes in hul lewe.

“Mense wat nie deur die jaar moeite gedoen het met hul huwelik, familie­verhoudings of vriendskappe nie, kan in die feestyd besef hulle is baie eensaam.

Party mense het bloot nie ’n liefde­volle familie nie en kan dan baie alleen voel.

“Vir baie mense is dit die eerste Kersfees en Nuwejaar sonder ’n geliefde wat sedert die vorige feestyd gesterf het. Dié tyd kan vir geskeides ook baie moeilik wees, veral wanneer hul kinders die vakansie elders by die ander ouer deurbring.”

Die Kerstyd kan vir party mense pyn­like herinnerings laat opwel.

“Mense wat arm grootgeword het, word herinner aan die pyn toe hulle gehoor het van maats wat groot geskenke gekry het en hulle die teleurstelling moes ervaar van geen geskenk nie.”

Die vakansie- en feestyd kan ’n een­same tyd wees, beaam Esther.

Die sosiale media kan mense in die feestyd nog meer bedruk stem.

“Party mense het bloot nie ’n liefde­volle familie nie en kan dan baie alleen voel,” sê sy.

“By hul werk of skool het ­hulle deur die jaar ’n kans om met ander ­mense om te gaan, maar die vakansietyd kan dan geweldig eensaam en ­neer­drukkend wees vir hulle.”

Albei dié kenners is dit eens dat die sosiale media mense in die feestyd nog meer bedruk kan stem, want jy vergelyk jou omstandighede met dié van mense wat skynbaar ’n volmaakte familie het en lekker by die see vakansie hou.

“Mense is geneig om in die sosiale ­media soos Facebook en Instagram foto’s te plaas waarop almal glimlag en pret het,” sê Ester.

“Maar die mense wat ­daarna kyk, is onbewus van die moontlike ­onmin tussen familielede wanneer hulle nie voor die kamera is nie.”

Boonop kry jy foto’s van ander se vakansieavonture te sien, terwyl jy self noodgedwonge met Jan Tuisbly se karretjie moet ry.

Finansiële druk dra ook by tot spanning in die feestyd. Geliefdes kan byvoorbeeld onrealistiese verwagtings koester oor die geskenke wat ’n mens vir hulle moet koop, sê Esther.

“Konflik kom dikwels ook na vore tussen gesinslede oor hoe die vakansiegeld bestee moet word,” sê sy.

Vermy so die diep, donker gat
  • Wees realisties en vergeet die vooropgestelde idee van ’n “ideale Kersfees”, want niemand se vakansie is volmaak nie, maan kenners van die Suid-Afrikaanse Depressie-­en-angsgroep (Sadag).
  • Beplan, sê die sielkundige Kim McKay. “Koop geskenke voor die stormloop en wees kieskeurig oor watter partytjies jy bywoon en saam met wie jy tyd deurbring.” Die sielkundige Esther Price sê dit is belangrik om soms nee te sê vir uitnodigings, pleks van by alles en almal te probeer uitkom.
  • Erken jou eie gevoelens. “Laat jouself toe om soms hartseer dae te hê. Dis in die haak om nie heeltyd gelukkig en opgewonde te voel nie,” sê Esther.
  • Doen elke dag iets wat jy geniet. “Selfs al gaan stap jy net ’n entjie om van stresvolle familiesituasies weg te kom.”
  • Hou by jou vakansiebegroting, anders gaan jy jou bekommer dat skuld of onvoorsiene uitgawes jou in Januarie kan pootjie.
  • Reik uit na ander. “As jy alleen en afgesonder voel, probeer betrokke raak by aktiwiteite in jou gemeenskap. Vrywillige werk is ’n wonderlike manier om na mense uit te reik, en aftreeoorde, plekke van veiligheid vir kinders en dierewelsynorganisasies waardeer die ekstra hulp,” sê Esther.
  • “Nooi iemand wat ook op Kersdag of Oujaarsaand alleen sal wees om by jou te kom eet of saam met jou op ’n uitstappie te gaan,” stel die sielkundige Ester de Beer voor.
  • Bring tyd in die buitelug deur en sorg dat jy in die vakansietyd oefening kry om jou vrolik te stem. Bordspeletjies en om saam met kinders te lag verlig ook stres.
  • Moenie te veel van jou gewone slaap­patrone en gebalanseerde dieet afwyk nie. “Gun jouself ’n paar laat nagte en ’n paar oggende van laat slaap en geniet die Kerspoeding en roomys, maar moenie elke dag oorboord gaan met ’n ongesonde dieet en te min of te veel slaap nie,” sê Ester.
  • As jou simptome van depressie langer as twee weke voortduur of jy selfdood­gedagtes begin kry, bel ’n sielkundige of gaan na jou naaste hospitaal. “Moenie huiwer om hulp te kry nie,” sê Ester. “Jy kan ook anoniem noodnommers bel om met ’n be­rader te praat.”

Sadag het ’n 24-uur-hulplyn: 0800-12-13-14.

Foto's: Gallo Images/Getty Images