Oor die jare was daar talle stories oor waar die sleutel tot ewige jeug kan lê, en nou sê wetenskaplikes dit is dalk in jou kombuis.  

In nuwe navorsing is bevind ’n lae-kalorie-dieet help jou nie net om ’n slanke middeltjie te handhaaf nie; dis ook die geheim om die liggaam jonger te hou.

Kenners aan die Universiteit van Kalifornië het muise vir hul navorsing gebruik. ’n Groep van die knaagdiere is op ses maande en op 18 maande getoets – weefsel is uit die lewer onttrek om ontleed te word.

Dié orgaan tree op as die raakvlak tussen voeding en energieverspreiding in die liggaam. 

By die muise wat maande lank ’n dieet met 30% minder kalorieë gevolg het, is bevind die energie is op ’n meer stabiele manier verwerk.

Navorsers het bevind etes wat minder kalorieë bevat, help die liggaam om energie doeltreffender te metaboliseer, wat daartoe lei dat jy jonger lyk en voel.

“Die bevindings bied ’n duidelike inleiding oor hoe om hierdie elemente van veroudering vanuit ’n farmakologiese perspektief te beheer,” het dr. Paolo Sassone-Corsi, hoofskrywer, gesê oor die resultate, wat in die joernaal Cell gepubliseer is.

“Kaloriebeperking werk deur die biologiese klok op ’n kragtige manier te vernuwe. In hierdie konteks beteken ’n goeie klok goeie veroudering.”

Hoewel dit nie bekend is of dieselfde vir mense sou geld nie, is ’n lae-kalorie-dieet op ander maniere voordelig. Dit help jou byvoorbeeld gewig verloor of gee jou energievlakke ’n hupstoot. 

Neem minder kalorieë in deur gebakte kosse en suikerbelaaide drankies uit te sny, of verruil kos met baie vet en suiker vir gesonde peuselhappies.