Min dinge is so mooi soos die klank van ’n spelende kind wat van opgewondenheid lag – ’n oomblik van absolute vreugde en plesier. Maar wanneer ons grootword en die verantwoordelikhede van die lewe begin opstapel, dink ons maklik speel is net vir die kleinspan bedoel. Tog meen kenners dit is net so belangrik vir volwassenes se welstand om aan te hou pret hê.

Dit behels nie altyd groot avonture nie; dit kan ook die eenvoud van spontane oorgawe aan die oomblik insluit.

Ongelukkig word ons ook gekondisioneer om te dink jy moet ernstig wees om ’n verantwoordelike volwassene te wees,

Volwassenes verloor nooit die behoefte om te speel nie, sê Maryke Groenewald, ’n lewensafrigter van Pretoria – en dit is ook later in die lewe broodnodig. “Daar is net soveel dinge in die lewe wat ‘volwassenheid’ verg dat ons vergeet hoe nodig dit is om te speel,” sê sy.

“Ons lewe in ’n era vol uitdagings en bedreigings. Mense kry swaar en daarom voel dit amper verkeerd om pret te hê. Ongelukkig word ons ook gekondisioneer om te dink jy moet ernstig wees om ’n verantwoordelike volwassene te wees.”

Maar wanneer jy pret het, is dit goed vir jou welstand en gesondheid, sê Susan Eksteen, ’n verhoudingsterapeut van Krugersdorp.

“Speel bring energie, humor en lag. Dit skei ook goedvoelhormone af wat ’n kettingreaksie van positiwiteit tot gevolg kan hê.”

Dit kan help om spanning en terneergedruktheid teen te werk en uitbranding te keer en sodoende bydra om jou geestelik en liggaamlik op koers te hou. Maar Susan beklemtoon dis iets wat ’n prioriteit moet wees, anders sal dit in die gemaal van die lewe agterweë bly.

“Indien mense nie ’n punt daarvan maak om pret te hê nie, kan die spanning en druk van hul omgewing hul ondergang wees,” waarsku sy.

Hoe kan jy weer die kind binne jou ontdek?

Ons het by kenners gaan aanklop vir raad oor hoe volwassenes weer kan leer speel.

JOU INGESTELDHEID

Volwassenes word maklik in die samelewing se idees oor sukses en geluk vasgevang en vergeet gevolglik om te speel, sê Bettie Rall, ’n sielkundige van Kaapstad.

Ons glo geluk kom eers wanneer ons drome en ambisies bewaarheid word en vergeet dat dit soms opgesluit lê in klein oomblikke van vreugde.

“Dit is waarom mense vasgevang word in gedrag wat veronderstel is om te help om daardie toekomsdroom te bereik. Dan bly daar skaars tyd oor om te speel en die lewe te geniet,” sê Bettie. Maar terwyl volwassenes hul oë dikwels op die toekoms hou, is kinders ingestel op die hede, verduidelik Maryke.

“Hulle geniet elke oomblik vir wat dit is. Hulle bly optimisties, glo in hul vermoëns en het vertroue in die goeie dinge in die lewe,” sê sy. Dit is in hierdie ruimte – waar ons tydelik vergeet van die sorge van die verlede en uitdagings of doelwitte van die toekoms – waar ons genoeg kan ontspan om ons oor te gee aan spontane spel.

Prioritiseer pret

Maak speel ’n prioriteit. Besluit byvoorbeeld om minstens een keer per week iets prettigs te doen. Jy kan dit op jou eie of saam met geliefdes doen.

Kies jou pret

Daar is verskillende maniere om te speel, afhangend van jou belangstellings en vermoëns, sê Maryke. “Maak ’n lysie van die dinge wat jy as kind geniet het en kyk of jy van daardie aktiwiteite in jou lewe kan terugbring.”

Maak tyd

Beplan pretaktiwiteite vooruit en skryf dit in jou dagboek, stel Maryke voor. “As jy nie ’n aktiwiteit skeduleer nie, bly dit ’n gedagte.”

Maak gewone take pret

Speel byvoorbeeld opgewekte musiek wanneer jy huistake doen. Sluit by ’n sportspan aan of woon ’n nuwe soort oefenklas by om oefening opwindend te maak.

Geniet dit net: Wanneer jy speel, is daar nie reg of verkeerd nie. Jy hoef dit nie te beskou as iets met ’n groter doelwit nie – die ervaring is self die doel. “Die idee is nie om dit perfek te doen nie. As jy dit geniet, het jy die mylpaal behaal,” sê Maryke.

JY EN JOU KIND

gelukkige volwassenes speel saam
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Wanneer volwassenes saam met hul kinders speel, maak dit hulle minder intimiderend en kan dit ouers en kinders nader aan mekaar bring, sê Genevieve da Silva, ’n opvoedkundige sielkundige van Port Alfred. Jy word dan deel van sy leefwêreld en jy leer jou kind beter ken en verstaan, verduidelik Bettie.

“Dit bevorder ook kommunikasie. Kinders gesels makliker oor hul emosies en ervarings terwyl hulle speel as wanneer hulle direk uitgevra word.”

Boonop stel jy vir jou kind ’n voorbeeld, sê Bettie. “Jy leer hom om elke dag voluit te leef en al die voordele van speel te ervaar.”

Prioritiseer gehaltetyd

Maak tyd om ná werk met jou kinders te speel, stel dr. Stuart Brown, hoof van die nasionale instituut vir speel in Kalifornië, voor. Sit jou selfoon weg en gee daardie halfuur of uur jou volle aandag aan jou kinders.

Aanvaar die uitnodiging

Wanneer jou kind jou nooi om saam te speel, wees soms spontaan. Stop waarmee jy besig is en sê partykeer net “ja”.

Wees op hul vlak

Gaan sit by hulle op die grond en neem deel aan die speletjie of aktiwiteit. “Dit bring jou tot op hul vlak, en julle kan dan ’n dieper verbintenis vorm,” sê Genevieve.

Laat jou kind lei

Moenie die speletjie probeer beheer nie. Laat jou kind die reëls maak.

Raak laf

Verander gewone situasies in iets ongewoons, stel Jim Jackson, ’n beroepshanswors van Colorado Springs in Amerika, voor. Verras jou kinders met lawwighede of grappies wanneer jy met huistake besig is.

JY EN JOU MAAT

gelukkige volwassenes speel saam
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Om saam met jou geliefde pret te hê laat jou veilig voel, sê Susan. “En wanneer jy veilig voel, sal jy meer spontaan en kreatief wees, beter intiem verkeer en makliker saamwerk.”

Paartjies wat saam pret het, voorsien beter in mekaar se emosionele behoeftes, versorg mekaar beter, doen meer moeite met mekaar en het selfs meer gereeld seks, sê sy.

Bepaal wat vir julle pret is

Jy en jou maat sal verskillende aktiwiteite as pret beskou. “Praat oor wat julle as speel en pret ervaar sodat elkeen geliefd voel,” sê Susan.

Maak speelafsprake

Hoekom nie ’n prettige aktiwiteit beplan vir jul volgende afspraak nie? Beproef saam ’n nuwe resep, woon ’n kookklas by, speel minigholf of gaan ysskaats. Boonop skep julle nuwe herinnerings.

JY EN ANDER VOLWASSENES

Om saam met ander volwassenes pret te hê kan verhoudings versterk. Dit kan ook gevoelens van empatie en deernis bevorder, stel die geestesgesondheidswebtuiste Help Guide voor. Boonop skerp dit jou sosiale vaardighede op en kan dit jou leer om beter met ander mense saam te werk.

Kom gereeld bymekaar

As jy en jou vriende dieselfde belangstellings het, kom gereeld bymekaar om pret te hê. Julle kan bordspeletjies speel of aktiwiteite soos kegelspel, ’n piekniek in die buitelug of karaoke aanpak.

Vind nog prettige mense

Omring jou met mense wat dieselfde belangstellings as jy het. Sluit byvoorbeeld aan by ’n sportklub of groep wat ’n sekere stokperdjie beoefen. Hulle sal jou kan help om gereeld asem te skep deur pretaktiwiteite, en dit is hoe volwassenes speel.

Wanneer jy speel, skei die liggaam endorfiene af wat positiewe emosies versterk en emosionele en fisieke pyn verlig, sê Bettie.

“Daarom is mense wat speel gelukkiger.” Om te speel deur veral fisieke aktiwiteite kan gewigsverlies bevorder en slaap, bloedsomloop en algehele gesondheid verbeter, sê Maryke.

In studies oor die voordele van speel en pret is ook bevind:

  • Dit kan help met streshantering omdat jy tydelik van die werklikheid ontsnap.
  • Dit kan help met die groei, ontwikkeling en instandhouding van breinfunksies.
  • Dit kan geheue en leervermoë verbeter.
  • Dit help om negatiewe gedagtes en gevoelens te beperk.
  • Dit bevorder interaksie en versterk verhoudings tussen mense
Ekstra bronne: Daringtolivefully.com, Helpguide.org, Nytimes.com, Playyourwaysane.com, Parents.com, Possibilitychange.com 
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe