Akademici aan die Northwestern-universiteit in Amerika het die stresvlakke van die pa’s van vroeggebore babas gemeet in die gespanne oorgangstyd tussen die neonatale waakeenheid en die eerste keer se huis toe gaan.Hulle het bevind ouers van babas met ’n baie lae geboortegewig het hoë vlakke van die streshormoon kortisol in hul speeksel voor die baba ontslaan word.

Maar die pa’s het ’n toename in hul stresvlakke ervaar – en dis verskeie kere oor die volgende 14 dae tuis getoets. Die ma’s se stresvlakke het konstant gebly.

Hy moet sy maat se ‘rots’ wees, maar die stres kan erg raak.

“Pa gaan van ’n situasie waar die baba en ma deur kenners versorg word in die hospitaal na een waar hy skielik gelyktydig moet omsien na sy baba, lewensmaat en werk. Hy moet sy maat se ‘rots’ wees, maar die stres kan erg raak,” sê die hoofskrywer, dr. Craig Garfield, ’n medeprofessor van pediatrie en mediese sosiale wetenskappe aan die Northwestern-universiteit se Feinberg-skool vir geneeskunde.

Garfield en sy span het ouers se stresvlakke op twee maniere getoets: met speekseltoetse wat kortisolvlakke meet en papierpeilings. Hulle het die deelnemers getoets die dag voor hulle uit die hospitaal ontslaan is, en toe een dag, vyf dae en 14 dae ná hulle huis toe gegaan het.

“Een dag van gestres wees by die huis is nie ’n groot ding nie,” sê hy. “Maar as hul vlakke ná twee weke nog hoog is, is dit meer van ’n bekommernis.”

Tydens die eerste 14 dae nadat hulle tuisgekom het, het die pa’s se kortisolvlakke voortdurend toegeneem terwyl die ma’s se stresvlakke “basies teruggekeer het na waar hulle begin het”.

Babas floreer wanneer ouers floreer.

Om pa’s se stres te help verlig en die oorgang makliker te maak, stel navorsers voor dat ouers daarop fokus dat die pa gemakliker raak en selfvertroue kry met die baba se versorging terwyl hulle nog in die waakeenheid is.

“Babas floreer wanneer ouers floreer en as ouers gespanne is, kan dit ’n impak hê op hul ouerskapstyl en die verhouding tussen die ma en pa, en dit kan die kleinding se band met hulle aantas,” sê Garfield.

Die volledige studie is in die Journal of Perinatal & Neonatal Nursing gepubliseer.