Volgens medici het enigiets wat jou gemoed en gesondheid nadelig kan beïnvloed die potensiaal om jou stresvlak te verhoog. 

’n Sekere hoeveelheid stres is wel goed vir jou en kan selfs as motivering dien, sê dr. Melissa Conrad Stöppler, ’n patoloog aan die Universiteit van Virginië in Amerika.

“Dit is egter wanneer stresvlakke heeltemal te hoog word – en hoog bly oor lang periodes van tyd – dat dit ’n negatiewe uitwerking op jou middel kan hê,” sê sy. 

Stöppler verduidelik dat wanneer jy stres ervaar jou liggaam adrenalien en kortisol vrystel wat jou voorberei vir “veg of vlug.”

Aanvanklik oortref adrenalien enige hongerpyne wat jy sal hê, want bloed vloei weg van jou organe na jou spiere toe, sodat jy moet reg wees om weg te hardloop of om te bly en te veg. 

Maar namate die adrenalien minder word, skei jou liggaam groot hoeveelhede kortisol af wat die opbou van vet begin beheer wanneer ons stres ervaar. 

Kortisol vat die vet van jou bloed en stoor dit dan in ander plekke en beweeg dit na jou middel toe. 

“Kortisol sê dan aan jou liggaam dat jy nodig het om die energie wat jy verloor het weer aan te vul. Dit was nie ’n probleem in die oertyd toe die mens baie energie gebruik het in oomblikke van veg of vlug en hul liggaam baie vet moes stoor nie. 

“Maar vandag hardloop ons nie in die natuur rond en jag iets vir aandete nie. Ons sit by ons lessenaar, in die kar of op die bank,” sê dr. Elissa Epel, sielkundige en dosent aan die Universiteit van Kalifornië, San Francisco.

En die gevolg? ’n Breër middel. 

Is dit stres of is jy honger? 

Dit is nie altyd maklik om vas te stel of jy honger of gestres is nie. 

Volgens Epel kan jy jouself hierdie vier vrae vra om te probeer bepaal of jy werklik honger is en of jy eintlik eet omdat jy onder stres is. 
 
1. Voel jy skielik honger? 
Fisieke honger kom gewoonlik stelselmatig. ’n Skielike honger beteken dit is emosioneel gedrewe. 
 
2. Is jy lus vir ’n spesifieke kossoort?
As jy werklik honger is, sal enige kossoort goed genoeg wees. Emosionele honger maak dat jy spesifieke, ongesonde kos wil eet. 
 
3. Kan jy jou honger stil?
As jy nie kan ophou eet nie, is jy emosioneel honger. Fisieke honger kan bevredig word voor jy heeltemal oorvol voel. 
 
4. Grom jou maag?
As jou maag grom, is dit gewoonlik ’n aanduiding van ’n fisieke honger. As jy emosioneel honger is, sal jy nie kan ophou dink aan kos nie.
 
Hoe dan gemaak as jy wel onder druk is en gestres voel, maar jy beslis nie gewig wil optel nie? 

As jy sukkel om jou aptyt onder beheer te hou terwyl jy gestres is, probeer om gesonder keuses te maak wanneer dit by jou kos kom, sê Epel. 

Pleks van om na ’n pak skyfies of sjokolade te gryp, probeer hierdie agt gesonde kossoorte: 
 

  • Amandels
  • Avokado’s
  • Bloubessies
  • Kasjoeneute
  • Hawermout
  • Spinasie
  • Patats
  • Okkerneute

 
Bronne: Medicinenet; Pscycology Today; Health24