Die sperma van oorgewig mans is nie so gesond nie en dit werk ook nie so vinnig nie, dus kan dit hul vroulike maats se kanse om swanger te raak negatief beëinvloed.

Hierdie bevindings kom nadat daar voorheen gedink is net vroue se gewig speel ’n rol by vrugbaarheid. Nou het Indiese navorsers bevind die vader en moeder moet albei gesond wees ten einde die kanse op swangerskap te verbeter. Dit beteken dat hul liggaamsmassa-indeks (LMI), wat bereken word deur ’n mens se lengte en gewig in ag te neem, nie hoër as 30 moet wees nie.

Navorsers aan die Krishna IVB-kliniek in Indië het 1 285 mans met ’n gemiddelde ouderdom van 34,5 jaar gekontroleer en bevind dat die vetsugtiges minder semen en ’n laer spermtelling met swakker beweeglikheid getoon het, en hul sperma het ook meer ander gebreke gehad.

Die swakker gehalte van vetsugtige mans se spermselle word vermoedelik ook na die toekomstige geslag oorgedra, daarom moedig die studieleier, dr. Gottumukkala Achyuta Rama Raju, paartjies aan om viets te raak indien hulle probeer swanger raak, eerder as om in vitro-bevrugting (IVB) te oorweeg.

Verloor eers gewig voor jy onvrugbaarheidsbehandeling kry.

“Die kanse dat die gesondheid en vrugbaarheid van sperma by vetsugtige mans aangetas is, is hoër as by mans van normale gewig,” het dr. Raju gesê.  “Wanneer paartjies hulp soek met onvrugbaarheid, moet vetsugtige mans aangeraai word om eers gewig te verloor.”

Die bevindings is uiters belangrik vir paartjies wat later in die lewe met ’n gesin wil begin, aangesien die vrugbaarheid van vroue in hul vroeë dertigerjare begin afneem, terwyl die spermtelling van mans ná 40 begin daal.

Die volledige verslag is in die tydskrif Andrologia gepubliseer.

© Cover Media