Om jou hande te was is die belangrikste ding wat jy kan doen om te voorkom dat jy siek word.

Mense kry gewoonlik verkoues wanneer hulle hul neus of oë vryf nadat hul hande besmet is met die verkoue-virus. Deur gereeld jou hande te was, kan jy die verspreiding van kieme keer wat van ander mense of van besmette oppervlaktes oorgedra word.

Tog was 97% van mense volgens 'n 2018-studie hul hande verkeerd. Om jou hande vinnig onder die kraan af te spoel, raak nie ontslae van gevaarlike kieme nie.

Die meeste mense droog ook nie hul hande af nie. Klam hande help kieme om in die vog te broei en laat dit dan makliker versprei.

Nog ’n algemene taboe is dat mense hul hande met 'n nat handdoek afdroog – of selfs om handdoeke wat vir meer as een doel gebruik word, soos vir die afdroog van tafels en eetgerei, te benut.

As jy jou hande behoorlik wil was, moet jy dit vir ongeveer 20 sekondes doen (oftewel so lank as wat dit duur om twee keer 'n "Veels geluk liewe maatjie" te sing.) 

Wanneer moet jy jou hande was?

Voordat jy: Eet of kinders voer; kontaklense hanteer; medikasie of noodhulp gee.

Nadat jy: Die toilet gebruik of ’n baba se doek omgeruil het; troeteldiere hanteer het; met bloed of liggaamsvloeistowwe in aanraking was; hoes, nies, in jou neus krap; met 'n potensieel besmette persoon in aanraking kom.

Voor en na: jy rou kos hanteer; jy iemand wat siek is behandel.

En natuurlik ook wanneer jou hande vuil is. 

Gebruik die volgende stappe van die Wêreldgesondheidsorganisasie:

1. Maak jou hande nat (warm of koud).

2. Kry genoeg seep om dit reg oor jou hande te kan vryf. Jy kan waterlose skoonmaakmiddels gebruik as jy nie onmiddellik toegang tot seep en water het nie.

3. Vryf jou handpalms teen mekaar. 

4. Vryf die agterkant van jou linkerhand met jou regterhandpalm en strengel jou vingers van die twee hande ineen terwyl jy aanhou vryf. Herhaal met die ander hand.

5. Druk jou palms teen mekaar, vleg jou vingers ineen en vryf jou vingers teen mekaar.

6. Was jou linkerduim goed en reg rondom met jou regterhand. Doen dieselfde met jou regterduim en linkerhand

7. Was die punte van jou vingers deur dit in die teenoorgestelde palm in 'n sirkel te beweeg, gaan agteruit en vorentoe. Herhaal met die ander hand.

9. Spoel jou hande met water (warm of koud) af.

10. Droog jou hande deeglik af, verkieslik met 'n weggooibare handdoek.

11. Gebruik die weggooibare handdoek om die kraan toe te draai.

Bronne: WHO; CNN Health, clevelandclinic, westerncapegov.co.za, cdc.gov

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.